Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Lewis vs. Seb: Die feite

Was die straftyd wat ’n week gelede tydens die Kanadese Grand Prix aan Sebastian Vettel opgelê is, geregverdig? Egmont Sippel ontrafel die knoop.

Ferrari se Sebastian Vettel kom Sondag voor Lewis Hamilton van Mercedes om ’n draai in die Kanadese Grand Prix. Regs: Vettel en Hamilton ná die ren.Foto: AP

Het Oscar moord gepleeg?

Die hof het inderdaad so bevind.

Het Donald Trump regsverydeling gepleeg?

Die Mueller-verslag noem 11 moontlike gevalle. Daar dit egter die Kantoor vir Regsadvies se beleid is om nie ’n sittende president te vervolg nie, moes Mueller die proses van verdere ondersoek asook beskuldiging aan die Amerikaanse kongres oorlaat.

Gebaseer egter op die spesiale ondersoeker se bevindinge het meer as 1 000 voormalige federale aanklaers reeds ’n memorandum van geloof onderteken dat dit bloot sy status as sittende president is wat Trump tans teen ’n veelheid van misdaadaanklagte verskans.

En tog is daar mense wat Trump slaafs glo as hy daarop aanspraak maak dat die Mueller-verslag “geen samespanning” en “geen regsverydeling” gevind het nie.

Insgelyks is daar mense wat nog glo dat Oscar Pistorius onskuldig is.

Daar’s selfs dié wat Jacob Zuma as ’n engel verheerlik. ’n Goeie man, ’n goeie man. Hy’t niks verkeerd gedoen nie.

Dis maar ’n ou laai reg om die aardbol, om éérs te besluit wat die antwoord moet wees, en dán redes te vind om daai antwoord te ondersteun.

Vettel ruil die nommers om om te wys hy moes eintlik eerste gewees het.
Bou argumente uit hul fondamente

So, hoe gaan ons laas naweek se Kanadese baantameletjie tussen Sebastian Vettel en Lewis Hamilton hanteer?

Gaan ons éérs besluit dat die tydstraf van vyf sekondes wat Vettel op die lyf geloop het, reg of verkeerd was – en dán die ondersteunende argumente in’t plek probeer skuif om die antwoord te dra, selfs al is dit hinkepink op ’n paar krom krukke?

Of gaan ons, soos die Egiptenare, die piramide van onder af bou, tot ons heel aan’t einde van die proses by die spits, of dan die antwoord, uitkom?

Want helaas kan daai spits eenvoudig nie sy posisie sonder ’n ondersteunende raamwerk handhaaf nie. Wolkekrabbers word van die grond af boontoe gebou; nie andersom nie.

Dis soos ’n argument ook behoort te werk. Hy groei uit sy fondamente en jy slyp hom soos ’n piramide tot by die ­gevolgtrekking, die antwoord.

F1 se groot hedendaagse tweestryd

Waar begin die Vettel-Hamilton-sage dus?

Wat van 1999, in renstelle?

Of 2005, in F3 (bit.ly/2RfxD1a)? Of 2017, 2018 en 2019?

Vyf F1-wêreldtitels vir Die Hamer, vier vir Vettel, nege tussen die twee van hulle – en dit alles in die afgelope 11 jaar; die Brit deesdae in ’n silwer Duitse pyl, die Duitser in ’n rooi Italiaanse hings.

Lewis versus Seb, Mercedes versus Ferrari. Dit kan nie beter nie – behalwe dat die Tifosi, die geesdriftiges met skarlakenkoors, met reg van Vettel kon verwag het om die titel in 2017 en ook laas jaar vir hulle te wen. Met die vinnigste motor in voorseisoense toetse het vanjaar boonop rooskleurig begin.

Dalk raak vanjaar nog die Duitser s’n.

Maar feit bly staan dat sy wêreldtitel­telling tot dusver by vier vasgesteek het, juis weens te veel foute oor die afgelope twee jaar uit Seb se renkajuit.

Dom, dommer, domste

Om net die twee gruwelikstes in 2017 te noem: Seb verloor kop in Bakoe en kletter doelbewus agter die pasmotor in Hamilton vas (oeps, ’n kuipestopstraf wat hom ’n sege kos); en Seb verloor kop in Singapoer toe hy Verstappen van die lyn af probeer knyptang (wat nóg ’n sege kos toe Vettel motordele met Verstappen en Räikkönen begin uitruil).

Totaal dom, maar 2018 is nog erger, met ’n reeks ongedwonge foute langer as ’n ritssluiter.

In Azerbeidjan vang Vettel homself byvoorbeeld op die remme uit en val van tweede na vierde terug. In Frankryk bots hy van agter teen Bottas vas. In Oostenryk blokkeer hy vir Sainz in kwalifisering en verloor vyf plekke op die aantreerooster.

In Italië wals Vettel ’n woeligheid met Hamilton los en tol. In Japan tol hy weer in kwalifisering en tree negende op die rooster aan, terwyl hy in die ren kontak met Verstappen maak en nogmaals tol.

Maar die grootste fout word in Duitsland begaan toe Vettel op ’n glibberige oppervlak in die Sachs-kurwe van die baan ski, nie net om 25 punte weg te tos nie, maar ook om sewe ekstra punte aan Hamilton – wat 13de weggespring het – te skenk.

Dom, dommer, domste. En die boeiende ironie hieromtrent is dat Vettel eintlik ’n intelligente individu is.

Kortliks: Keer op ’n veilige manier terug, of vat die pak slae.
Onhoudbare druk

Een “d” lei egter tot ’n ander. Dom foute lei tot druk. En daar’s geen plek waar die druk so stoom en kook soos in Ferrari se fanatiese Tifosi-pot nie.

So, in die een hoek het ons Seb Vettel, wat al twee titels vanuit die kajuit van Italië se legendariese rooi motors weggesmyt het en vanjaar juis weer in Bahrein sou tol pas nadat Hamilton – wie anders? – hom van agter ingejaag en verbygesteek het.

In die ander hoek het ons Hamilton in Kanada wat nogmaals vir 48 rondtes lank jag op Vettel maak en die druk laat bou en bou en bou.

Totdat Seb vou.

Oepsie! En daar verloor die Duitser die Ferrari se stert op die ingang van draai 3.

Hoe nou gemaak?

Maklik. Stuur teen die glip in, sny kortpad oor die gras en klim weer op die baan aan die ánderkant van die kinkel wat eers na regs knak (draai 3) en onmiddellik weer na links (draai 4).

Dis ’n maklike stukkie motorgimnastiek vir jaers van Vettel en Hamilton se kaliber – behalwe dat daar ’n stertjie aan die vergelyking gehaak is, daar die bande van ’n renmotor wat oor ’n stuk veld jaag vuiligheid optel; gruis dalk, of in hierdie geval gras.

En plak nou ’n stuk kleefband op jou lessenaarblad vas, en sproei newens dit ’n bietjie sout of suiker op die blad en beplak dáái deel met ’n tweede stuk band.

Watter strook gaan die lekkerste op die lessenaarblad byt?

Stertwegbreek, kinkels sny en gras

Einste met Vettel se bande, laas Sondag in Kanada, toe hy op rondte 48 uit 70 kortpad aan die binnekant van die draai 3-draai 4-kinkel moes vat.

Met sy hertoetrede tot die baan was sy bande vol gras, seg Seb. Die Ferrari se stert het dus na regs – in die rigting van die renlyn uit draai vier uit – gegly, en die Duitser moes teenstuur toepas om te keer dat sy motor tol.

En dis hierdie teenstuur, hierdie poging om beheer oor sy motor te herwin, seg Vettel, wat die Ferrari só ver na regs oor die baan gevoer het, dat die gaping aan die buitekant van die Rooi Hings en die binnekant van die muur (wat buite om draai 4 krul) uiteindelik te min plek vir Hamilton gelaat het om verby te steek.

Want onthou: Hamilton het heeltyd beheer oor sy motor behou, en teen die tyd dat hy deur draai 4 is, had die Brit – met skoon bande – al die nodige traksie om verby Vettel se buitekant te skiet.

Of stel dit só: Hamilton sou beslis verbygeflits het as daar ’n groot genoeg gaping was.

Om welke rede ook al het die gaping genoeg gekrimp om Hamilton te dwing om sy verbysteeklopie te stol. Dit het die Mercedes se momentum gebreek en die kans om verby te steek – en te wen – was in ’n oogwink verby.

Het Vettel dus ’n straf van vyf sekondes, of enige straf hoegenaamd, verdien?

Reguit lyn deur die kinkel se bog

Kom ons kyk eers wat sou gebeur het as die Ferrari draai 3 gemaak het, en met die uitgang van draai 4 so skuins sou draai dat Hamilton ieder geval sy momentum moes breek om ’n ongeluk te vermy – en dat hierdie oomblik van aarseling, gedwonge soos dit was, genoeg tyd vir Vettel sou wen om beheer oor sy motor te herwin en die voortou te behou.

Sou daar dan nog enige sprake van ’n straf gewees het?

Kennelik nie. Sulke dinge gebeur op ’n renbaan. Gewoonlik glip die agterste man in so ’n geval verby, maar met ’n muur in die nabyheid – soos op die buitekant van Kanada se draai 4 – kan sake anders verloop. Dit nou as Vettel heelpad die baan gevolg het.

Maar hy het nie. Hy’t kortpad deur die kinkel se binnekant gekies, nie omdat hy wou nie, maar omdat hy moes. Op die ingang van draai 3 het die Ferrari se stert na buite begin wegbreek omdat Vettel te vinnig ingedraai het, of omdat sy lyn verkeerd was, of albei.

En die enigste manier om hierdie soort stertpik te neutraliseer is om daartéén in te stuur, in hierdie geval na links.

Dit het die Ferrari oor die binnekant van die kinkel geloods, waarna die rooi hings die baan se bog via ’n reguit lyn gesystap het.

En dis goed so.

Was Vettel byvoorbeeld gemaklik in die voortou, was daar geen verdere vrae oor die kortpad of die manier waarop hy die baan herwin het nie.

Maar ’n week gelede in Kanada was Hamilton op Seb se stert en as gevolg van Vettel se fout moes Hamilton iets in sy motor doen wat hy andersins nie sou nie.

Hy moes uit die versneller klim, selfs rem, om ’n ongeluk te vermy.

Die rede vir die reël

Dis net hier waar daar ’n reël in die renboeke is om onskuldige partye te beskerm – of om die skuldiges te straf.

Laas jaar, toe Romain Grosjean in Spanje van die baan getol het waarna hy sy motor op onbeheerste wyse terug baan toe sou dwing, is hy met drie wegspringplekke vir die daaropvolgende GP (in Monaco) gestraf.

Van die motors agter Grosjean is deur die tollende Haas getref en ander kon nie betyds ’n skoon pad deur die chaos vind nie.

Dis ’n ekstreme voorbeeld. Maar dis die rede vir die reël, juis om jaers wat om welke rede ook al van die baan af is, twee keer te laat dink oor hoe hulle daarna terugkeer.

Kortliks: Keer op ’n veilige manier terug, of vat die pak slae.

Vettel se pak slae was die ligste moontlike vyfsekonde-straftyd. Maar dit het steeds beteken dat Hamilton – wat op die baan self tweede oor die wenstreep sou flits, 1.342 sekondes agter Vettel – uiteindelik as wenner verklaar is.

Nou’s die vraag of Emanuele Pirro, ’n vyfmalige Le Mans-wenner, en sy twee mede-renbeamptes die regte besluit ge-neem het om Vettel hoegenaamd te straf?

Wat die reël sê

Om die vraag te beantwoord, moet ons eers die reël beskou: “Should a car leave the track the driver may re-join, however, this may only be done when it is safe to do so and without gaining any lasting advantage.” En voorts: “Unless it is clear to the stewards that a driver was wholly or predominantly to blame for an incident no penalty will be imposed.”

Dis duidelik dat Vettel vir “die insident” verantwoordelik was. Die weg na penalisering is dus gebaan.

Het hy egter die baan op ’n veilige manier herwin “sonder om ’n blywende voordeel daaruit te put”?

Nee. Hier’s Pirro-hulle se besluit: “Car 5 left the track, re-joined unsafely and forced another car off track . . . Car 44 had to take evasive action to avoid a collision.”

En hoe weet die beamptes (en ons) dat Vettel se hertoetrede onveilig was?

Wel, omdat Hamilton ontwykende aksie moes neem om ’n ongeluk te vermy. Telemetrie bewys dit. En dís die streep.

Sonder reëls sal chaos heers

Een oënskynlike sterk teenargument klink egter só: Óf Vettel het geen beheer oor sy motor gehad nie en dus vir Hamilton onbedoeld geblokkeer – wat hom onskuldig laat. Óf hy het beheer oor sy motor herwin en uiteindelik dus vir Hamilton doelbewus geblokkeer – wat toelaatbaar is.

Wat Vettel se eie argument betref, dat sy motor buite beheer was en hy derhalwe nie meer kon kies waar om dit te plaas nie moet ons die tweede van bostaande sienings summier skrap.

Toe Verstappen boonop laasjaar die kinkel in Japan gesny het waarna Räikkönen met die Hollander se terugkeer van die baan gedwing is, het Vettel die straftyd teen Verstappen ondersteun.

Nou wil hy dit andersom hê.

En ai, Seb, nou’t jy jouself mos twee keer in ’n straftyd ingepraat, eerstens met jou siening oor Max en Kimi, en tweedens omdat jy per definisie ’n onveilige hertoetrede tot die baan gemaak het as jou motor, in jou eie woorde, so “buite beheer” was dat jy nie ’n motorwydte tussen die Ferrari en die muur kon oorlaat nie.

Wat anders moes die renbeamptes dus doen, as om ’n straftyd uit te deel? Was hulle te meedoënloos? Te hardvogtig?

Op emosionele vlak dalk wel, veral omdat mense ’n slag iets anders as ’n Merc wil sien wen. Maar rasioneel gesien is die reël vir ’n goeie rede daar. Dis hoekom Oscar aan moord skuldig bevind is en hoekom Mueller nie vir Trump van wetsverydeling kon aankla nie, al het hy hom duidelik ook nie verontskuldig nie – daar was goeie redes.

Sou ons dít – gesonde redes, oftewel die fondamente waarop orde gebou word – ignoreer net omdat koorsiges rooi sien en daar vele is wat vooraf hul antwoorde in klip wil uitkap, sal ons byvoorbeeld ook vir Numba’ One moet verontskuldig.

En kennelik kan ons nie. Foute dra merendeels ’n straf. Per slot van sake is dit Vettel wat in Kanada ’n lelike glips onder druk begaan het, terwyl Hamilton feitlik foutloos was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.