Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
M2 CS – ’n honger windhond

Staan terug, en lig die hoed vir sekerlik een van die laaste van die ouskool-sportmotors wat vandag uit ’n hoofstroom-motorfabriek gaan rol.

BMW se nuwe M2 CS – waarvan slegs 2 200 in totaal in Duitsland gebou gaan word – het pas in Suid-Afrika geland, maar selfs al sou jy die R1,6 miljoen hê wat jy vir dié spogwa sou moes opdok, is jou kans eintlik maar nul.

Suid-Afrika kry slegs 30 modelle, en 20 daarvan is reeds verlede week op Kyalami aan ’n eksklusiewe groep klante opgeveil.

Die wins, sou die prys oor die minimum van R1,6 miljoen gaan, is aan BMW-ondersteunde hulporganisasies geskenk.

Die oorblywende tien modelle is na handelaars verskeep waar ons vermoed elkeen reeds ’n koper het wat met ’n deposito gereed staan.

Maar eers nadat ons darem met twee van dié oorblywende tien ’n paar rondtes om die Kyalami-renbaan kon gaan jaag het.

BMW se nuwe M2 CS is eksklusief soos ’n Lotto-wenkaartjie, met straks meer pret agter sy vet stuurwiel.

Die M2 CS is BMW se laaste, kragtigste M2 wat die groep se 3,0-liter-reguitses ontvang in dieselfde verrigtingstaat as die huidige M3 en M4. Dit beteken 331 kW en 550 Nm wat na die agterwiele gaan met ’n sewegang-, dubbelkoppelaartipe, outomatiese ratkas, waar ’n elektroniese sluitewenaar krag tussen die wiele balanseer soos dit nodig is om draaie.

Fermer vering, ’n beter verkoelingstelsel vir die warm enjin en ’n deeglike aëro-pakket om lugvloei optimaal onderdeur die voertuig en deur die neus te neem, rond die pakket af. Maar daar is ook ekstra detail, soos die stutte wat oor die enjinruim span (van koolstofvesel), die enjinkap, dak en kantspieëls wat van koolstofvesel is om gewig te help bespaar, en die lugsnoer agter wat die lugvloei onderdeur die voertuig netjies kanaliseer.

Binne is daar ligter, diep sportsitplekke en ’n vet stuurwiel wat met fluweeltipe alcantara-leer oorgetrek is. Keramiek-remme is opsioneel, sou jy ’n verdere 24 kg wou bespaar. Trouens, soos die M2 CS daar staan, weeg hy net 1 550 kg, wat vir so ’n fris sportmotor werklik lig is. Op elke hoek sit daar ook spesiaal ontwerpte Michelin Pilot Sport Cup-bande, wat ’n gladder oppervlak het vir renpret op die baan.

Met al hierdie tegniese en elektroniese truuks wil jy eintlik net op die renbaan met hom gaan speel. Soos genoem was ons toetsmodelle met die standaard- outomatiese ratkas toegerus, maar wat dié M2 so spesiaal maak is dat jy hom ook met ’n sesgang-handrat kan aanskaf – ’n kopknik na vervloë dae en straks die laaste van dié tipe voertuie, saam met die Porsche GT4.

Om die baan voel die klein Beemer fris met die ingehoue spierkrag van ’n honger windhond.

Versnelling is oombliklik, maar seker sy beste eienskap is sy viervoet-gedrag om die draaie. Ja, as jy te gou te veel vet gee gaan die stert uitswaai, maar elektronika hou jou in toom en die neus doen ’n puik stukkie werk om nie buitentoe te bly draf nie.

Slotsom

Die 30-tal gaan as beleggings gekoop word, is my raaiskoot. Oor ’n paar jaar is hulle meer werd as vandag. Vir BMW is die M2 CS ’n bewys van waartoe hy in staat is.

Vir ons gewone mense is hy maar net ’n muurprent.

Meer oor:  Bmw  |  Sportmotor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.