Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Maak jou Range Rover só uniek

Dis ’n ander wêreld as waaraan ek en jy gewoond is. Maar tussen ons woon daar ’n paar gawe siele wat bereid is (en die vermoë het) om die hand diep in die sak te steek vir ’n nuwe ryding.

In die dun lug van die superrykes is daar wel een belangrike voorvereiste: Hoe duurder die voertuig, hoe meer eksklusief moet dit wees.

Range Rover se Sport SVR met sy unieke dofswart-bakwerk en rooi remknypers staan dadelik uit. Die SVR-afdeling kan enige verfkleur vir jou meng, vir die bakwerk en die bekleedsel.Foto: Marnus Hattingh

Range Rover se SVO-afdeling (Special Vehicles Opera­tions) vervul dieselfde rol in dié opsig as wat Mercedes se AMG-huis doen. Om vir die elite-mark spesiale voertuie te skep wat aan hul fynste, en soms vreemdste, smake sal voldoen.

Dit kan enigiets wees van jou vrou se gunsteling-naellak-kleur (om haar nuwe Rangie se leerbekleedsel mee te kleur) tot spesiale bakpanele van koolstofvesel of unieke afwerkings in die binneruim. Die lysie moontlikhede is lank.

Om vir sy Suid-Afrikaanse kliënte ’n idee te gee van wat die SVO-afdelings als kan doen, het Range Rover Suid-Afrika 27 Range Rover Sport-voertuie spesiaal laat opmaak met ’n kombinasie van items beskikbaar in die SVO-onderdelemandjie. Ons kon toe een van dié handvol vir ’n paar dae ry, en die beleë wêreld ervaar van voertuie wat uitgerus is na die puntenerigste smaak van hul eienaars.

’n Fris kêrel

Eerstens, dis slegs die Range Rover Sport met die SVR-behandeling wat vir dié doel so deftig opgemaak is. Maar die SVO-afdeling kan sy spesialis-hantering ook op ander Range Rovers toepas.

In sy SVR-gewaad het die Sport ’n 5.0-liter-V8 met ’n drukaanjaer onder die enjinkap. Daar’s 423 kW en 700 Nm wringkrag onder jou regtervoet, en danksy flappe in die uitlaatstelsel blaf die Rangie met ’n diep hoes aan die gang as jy die aansitknop raps. Piets jy die pedaal met ’n verbysteek, dreun die V8 soos ’n Oshkosh met vliegtuigpetrol in sy keel.

Dinamies is die 2,3 ton-knewel ’n interessante affêre. Daar’s hope neusduik as jy haastig in ’n draai van rigting wil verander. Maar versnelling slaan jou soos ’n hamerhou in die rug. Die stert wil selfs uitswaai, as al daardie kilowatts vastrapplek soek. Vir ’n tweeton-sportnuts!

Gly jou oë vinnig oor die middelkonsole tussen die sitplekke, sien jy die ritmodusknop asook verstellings vir ’n hoër grondvryhoogte (die Rangie het lugvering) en ’n laestrekratkas. Jip, sou jy wou, kan jy jou R3 miljoen se motor-uniekheid in ’n moddersloot gaan beproef.

Soek meneer ietsie ekstra?

Van die 27 spesiale SVR’e wat ingebring is, is 20 se bakwerk met ’n dofswart-verf beklee. Gekombineer met die yslike, swart 22-duimers, laeprofieltekkies en swart dakrak en sierrooster lyk die Range Rover beslis na iets wat jy nie saans in ’n stegie wil vies maak nie.

In sy gewone mondering kos die SVR alreeds R2,6 miljoen, maar met ’n paar afwerkingspakkette en individuele keuses uit die speelgoed-mandjie, het die prys opgeskuif na R3 miljoen. Dis reg, daar is R400 000 se ekstras bygelas. Maar, soos ons genoem het, dit maak hierdie Range Rover uniek. En dis wat hierdie kopers soek.

Benewens die dofswart-verf buite, is die enjinkap van koolstofvesel, en het dit twee groot luginlate met ’n swart rooster op. Nog items sluit in die rooi remknypers, die panoramiese sondak en swartgekleurde vensters.

Deftige binneruim

In die kajuit het die spesiale Rangie sportsitplekke met ’n rooi leerbekleedsel, en dié is met ’n pragtige stikselpatroon afgewerk. SVR-kentekens pryk ook oral in die kajuit.

Die voorste en agterste sitplekke is als verhitbaar, en die dakvoering asook die A- en B-pilare is met ’n fluweel­tipe alcantara-leer uitgevoer.

Die lysie raak nog langer, maar om als te noem gaan die bladsy in beslag neem. Wat gaaf is, is die elektronies wegvoubare sleepstang en die slim hoofligte wat vanself kan verdof as ’n voertuig in aantog is.

Afsaal

Die spesiaal opgemaakte Range Rover SVR is werklik iets besonders, maar sal grootliks tot ’n baie beperkte nisgehoor spreek. Die verrigting en klank is iets om te beleef, ek hou daarvan (vir sommige kan die ry-ervaring wel te kras wees).

Persoonlik sou ek nie R400 000 nog wou byvoeg vir ’n ryding wat alreeds R2,6 miljoen kos nie. Teen R2,6 miljoen wil ek als ingesluit hê. Die spesiale bekleedsel-kleur of bakwerk-verf is wel ’n gawe idee – daarmee maak jy jou voertuig volledig uniek. En dit is straks die roete om te gaan as jy ’n Kersgeskenk vir vroulief oorweeg en ietsie unieks wil gee.

Prys: Range Rover Sport SVR – R3 073 900.

Meer oor:  Motorskou  |  Motors  |  Range Rover
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.