Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Macan draf nou met fris kuite

As die gewildste model in Porsche se portefeulje rus daar ’n groot taak op die klein Macan om net reg te voel en te lyk (en sy taak te verrig) om voortdurend die nommer een by kopers te bly.

Die mark is immers besig, en mededingers van Mercedes, BMW en Audi kan maklik kopers weglok.

Dis nou sowat twee jaar wat Porsche sy Macan-reeks opgeknap het, en nou het hy weer die model-samestelling geskommel, ’n paar verbeterings aan die kajuit gemaak, en die enjins warmer gedraai vir meer verrigting.

Dit is dus ’n goeie opknapsessie terwyl die volgende Macan nie te ver in die vooruitsig kan wees nie.

Porsche het sy gewilde Macan-gesin geskommel met die Turbo wat wegval en met die GTS vervang word. Verrigting is deur die bank beter.

Voet in die hoek

Wat die modelreeks betref, het Zuffenhausen die vorige topmodel, die Macan Turbo, weggegooi. In sy plek is nou die Macan GTS, met onder hom die Macan S en die gewone Macan as die intreemodel.

Die standaard Macan ry steeds met die groep se 2.0-liter-bokser-vier, maar dié is nou verbeter om 195 kW (+10 kW) en 400 Nm (+30 Nm) wringkrag te lewer.

Volgende in die ry is die Macan S. Die S gooi sy ou 3.0-liter-turbo weg in ruil vir die 2.9-liter-biturbo-V6 wat nogal redelik wyd in die Volkswagen-familie ingespan word. Dis ’n veelsydige kragbron en elke handelsmerk in die VW-familie pas die kraglewering en kenmerke van die enjin aan om by sy eie kultuur in te pas (dink maar aan Audi se RS-modelle wat ook hierdie V6 benut).

In die Macan S lewer die V6 nou 280 kW en 520 Nm wringkrag, wat ’n 20 kW en 40 Nm verbetering op die 3-liter se syfers is.

En dan laastens gebruik die GTS dieselfde 2.9-liter-biturbo, maar in sy geval is die blikbrein aangepas om hom 324 kW en 550 Nm te laat uitpomp. Versnelling geskied in net 4.3 sek.

Al die Macans is met Porsche se sewegang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaar-tipe) toegerus, en krag gaan na al vier die wiele. Die blikbrein kan die krag tussen die asse versprei, en ritmodusse help jou om die fermheid van die vering en spoed van ratskakeling self na smaak aan te pas. Die S en GTS het aktiewe vering, terwyl die GTS ook lugvering het wat die grondvryhoogte outomaties kan aanpas.

Die kajuit is nou propvol skoon, gladde oppervlakke wat met aanraking geaktiveer word. Die 911 se stuurwiel sit nou ook in jou hand.

Waar moet ek druk?

In die kajuit is daar nou digitale skerms voor die bestuurder en in die middel van die instrumentpaneel.

Die meeste van die skakelaars is nou mee weggedoen en in die plek daarvan aktiveer jy nou die ikone op die raakskerm.

Ander kleiner opknappings sluit in ’n korter rathefboom, ’n analoog horlosie bo-op die instrumentpaneel, en ’n nuwe, kleiner stuurwiel.

Die voorkoms buitelangs is ook matig aangepas. As jy fyn kyk, sal jy sien die rooster is nou breër gemaak met ’n swart band wat reg rondom die buiterand strek.

Die streep LED-liggies is ook herposisioneer. Die swart plastiekstrepe by die deure het ’n driedimensionele ontwerp, en daar is nuwe wielpatrone en bakwerkkleure op die keuselysie te vind.

Die opgeknapte Macan-gesin is vroeg in Januarie in Suid-Afrika beskikbaar.

Pryse:

Macan – R1 050 000;

Macan S – R1 271 000;

Macan GTS – R1 551 000.

Meer oor:  Opknap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.