Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Magnite wil aan jou hart kleef

Magnite, ’n kombinasie van die woorde “magnetic” en “ignite”. Met ’n koel naam soos dié tokkel Nissan se jongste aanspraakmaker in die bedrywige mark vir kompakte sportnutse sommer klaar die hartsnare.

Maar ’n byderwetse naam alleen gaan jou nie ver bring in dié hoogs kompeterende marksegment nie. Maar wag, die Magnite het dalk net ’n troefkaart of twee om sy stempel mee af te druk.

Kurwes op al die regte plekke. Nissan se nuwe Magnite het genoeg houding om aandag te trek.

Wat het ons hier?

Die mark vir kompakte sportnutse bars uit sy nate met verskeie waarde-vir-geld mededingers wat onlangs tot die stryd toegetree het. Die meeste van hulle word in Indië vervaardig, wat hul koste laag hou.

Dit is in dié segment wat die Magnite teen Ford se EcoSport, Kia se nuwe Sonet, die Hyundai Venue, die Toyota Urban Cruiser en die Suzuki Vitara Brezza om kopers se harte meeding.

Die Magnite word op dieselfde platform as die Renault Triber en Kiger gebou. Die Kiger is terloops Renault se eie weergawe van die Magnite, wat later sy verskyning in ons mark maak.

En daardie Datsun-agtige rooster?

Die Magnite sou aanvanklik ’n vlagskipmodel vir Datsun wees, maar met die afskaal van Datsun se bedrywighede, is besluit om die Magnite onder die Nissan-naam te bemark.

Sit hom in ’n boks

Die Magnite is ’n kompakte kalant met ’n lengte van net onder vier meter, en met ’n grondvryhoogte van 20 cm (van die beste in sy klas) kan hy ook ’n grondpad of twee trotseer.

Met sy L-vormige LED-dagryligte en hoofligte wat op skrefies getrek is, asook netjiese 16”-allooiwiele en sy prominente rooster, lyk die Magnite so hups soos ’n paar geskeurde jeans op die skooldans, terwyl die skermplate voor en agter en die breë plastiekomlyning by die wielboë wys hy kan homself hardebaard gedra.

Die dak kan in wit of swart afgewerk word.

Die Magnite word deur ’n 1.0-liter-turbo (drie silinders) aangedryf wat in die vyfgang-handratmodelle 74 kW en 160 Nm lewer, terwyl die modelle met die CVT-ratkas teen 152 Nm ’n raps minder wringkrag bied.

Wat afwerking betref, kan kopers kies tussen die Acenta- en die luukser Acenta Plus-model.

Magnite

Die lysie is lank

In die binneruim is daar verskeie ligpunte. Die voorkoms van die instrumentpaneel lyk nie net netjies nie, maar die ergonomiese ontwerp laat jou vinnig tuis voel.

Die digitale skerm voor die bestuurder is iets wat ’n mens nie sommer in dié prysklas sien nie.

Danksy die duidelike, kleurvolle beeld is die inligting maklik leesbaar. Verder is daar ’n netjiese raakskerm vir al jou media- en nutsfunksies, met Android Auto en Apple CarPlay as standaard.

Die sitplekke bestaan uit ’n kombinasie van materiale en het ’n netjiese patroon vir ’n tikkie ekstra flair.

Ten spyte van sy kompakte afmetings, is die Magnite verbasend ruim binne, voor en agter, met verskeie nuttige bêreplekke vir los goed.

Die bagasieruim van 336 liter sal ook ’n naweek se bagasie sonder te veel gemeet en pas akkommodeer.

Daar is verskeie mededingers wat met begeerlike oë na die Magnite se lysie standaardtoerusting sal loer.

Sleutellose toegang, ’n banddrukmonitor, elektroniese stabiliteitsbeheer, vastrapbeheer en ’n vashoufunksie as jy teen ’n bult moet wegtrek, laat hom uitstaan.

’n Koordlose herlaai-vakkie vir jou slimfoon is van die min opsionele ekstras. Buiten ’n trukamera, het die luukser Acenta Plus-model ook ’n 360°- panoramiese kamerastelsel wat jou onder meer ’n beeld van die voertuig van bo af gee vir beter sig wanneer jy parkeer. Die beeld is nie van die beste gehalte nie, maar dien sy doel.

Alles is egter nie net maanskyn en rose nie.

Harde plastiek is byna ’n gegewe in dié prysklas, maar die gehalte van sommige van die materiale oortuig nie heeltemal nie terwyl van sy mededingers dalk ’n bietjie beter aanmekaargesit voel.

Die binneruim lyk netjies met ’n minimalistiese ontwerp.

Dankie tog vir turbokrag

Danksy turbo-aanjaging is die Magnite se driesilindertjie heel woelig vir sy grootte. Jy gaan dalk nie eerste by die verkeerslig wegspring nie, maar daar is genoeg krag om teen ’n haastige pas spore te maak sou jy wou.

Op die oop pad gee die Magnite ook lang treë en is verbysteek nie regtig ’n probleem nie.

Ons het die CVT-model bestuur en hoewel dié ratkaste berug is vir hul luidrugtigheid, het die Magnite se CVT-’kas hom heel goed gedra.

Dit is net onder harde versnelling dat hy keel skoonmaak en van hom laat hoor.

Ritgehalte en stuurgevoel is nie juis die Magnite se sterkpunte nie. Op mooi, gelyke paaie loop dinge klopdisselboom, maar op slegter paaie voel die rit taamlik stamperig met ’n goeie skeut bandgeraas. Hy sit heel stabiel om draaie, maar die stuurgevoel self is redelik vaag en oninspirerend.

Slotsom

Die Magnite het beslis die koel-faktor onder die knie met ’n jeugdige voorkoms en byderwetse naam wat ’n goedkeurende kopknik van jonger kopers sal kry.

Hy bevind hom in ’n taai marksegment, maar hy behoort ’n sterk aanspraakmaker te wees.

Meer oor:  Nissan  |  Magnite  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.