Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Makulu-baas!

Die Porsche 911 GT3 RS was nog altyd Egmont Sippel se gunstelingmotor, tot en met 2017 se 911 GTS. Kon die nuwe GT3 RS dus sy kroon laasjaar met ’n laat-November-lopie deur die Wes-Kaap terugwen?

In Maart 1977, aan’t einde van die Engelse sokkerseisoen, is Nottingham Forest van die tweede tot die eerste divisie bevorder. ’n Jaar later was hulle Engeland se kampioenspan met nog twee verdere pronkstukke: die Football League-beker en die FA Charity-skild.

In 1979 wen Forest boonop die Europese beker asook die UEFA-superbeker, en in 1980 nogmaals die Europese beker.

Dis ’n feitlik ongekende suksesverhaal, iets soos Japan wat skielik die Springbokke, die All Blacks en die Wallabies klop om rugby se wêreldbeker te beklink, en dit dan teen ’n span van Mars verdedig. En wen.

Die Forest-spanbestuurder Brian Clough aan die woord: “Ek sou nie sê dat ek die beste in die wêreld was nie, maar ek was in die top . . .”

Komaan, Brian! Moenie skaam wees nie. Ten minste die toptien? Die topdrie?

Laat die finale woord egter aan die beskeie Clough oor: “ . . . ek moet erken, ek was in die top-een.”

Jan Balleman

Die motorwêreld het ook ’n top-een – die Honda Jazz. Dit nou as jy prys, ontwerp, verpakking, ruimte, verbruik, funksionaliteit, veelsydigheid, betroubaarheid, lopende koste en herverkoopwaarde – oftewel die hele katoetie – as maatstaf neem.

Noem dit die allerbeste wielepakket nog vir Jan Alleman, veral die eerste Jazz.

Maar nou’s daar ook Jan Balleman, die ou met gróót cojones.

Jan Balleman vermy alledaagse wiele. Hy soek mallejaagse wiele.

Hy soek ’n Porsche.

En die kroon-Porsche bly ’n 911, spesifiek een wat gebou is om allerhaastig op die pad te wees, soos Porsches maar is, en ook een wat terselfdertyd gebou is om renbane soos ’n pak slap tjips op te vreet en uit te spoeg.

Die Porsche met die grootste tande en kwaaiste spoeg is die 919 Hybrid EVO, wat die Nürburgring se Nordschleife al in 5:19.5 verpletter het.

Vir motormaniakke is die Nordschleife natuurlik soos Mekka vir die Moslems: Heilige grond. ’n Goeie rondtetyd dui op ’n ordentlike balans tussen krag, versnelling, spoed, remkrag, greep en hantering; alles sportmotorvereistes.

Die EVO is nie ’n sportmotor nie. Dis ’n volbloedrenmonster, in wese ’n plus-weergawe van die wa wat Le Mans van 2015 tot 2017 gewen het. Ignoreer dus sy tyd.

Nürburgring en rondtetye

Die Lamborghini Aventador SVJ is ’n sportmotor, of dan ’n supermotor. Vir wiele wat jy by ’n handelaar kan koop en op die pad ry, is sy tyd van 6:44.97 die vinnigste nog om die Nordschleife.

Die SVJ skop uit ’n onaangejaagde 6.5-liter V12 wat 566 kW en 720 Nm na al vier hoeke dryf. Sy prys? Sowat R10 miljoen, dankie.

Die batterygedrewe Nio EP9 (met ’n elektriese motor op elke wiel) is volgende op die lys met ’n tyd van 6:45.90. Ses EP9’s is al teen ’n prys van nagenoeg R16 miljoen elk aan die publiek verkoop; nog tien sal mettertyd volg.

Derde op die lys is die Porsche 911 GT2 RS. Hy kos omtrent die helfte minder as ’n SVJ en net een derde van ’n EP9 se prys en sy 3.8-liter-platses skop 515 kW en 750 Nm nét na die agterwiele, versus die Lambo en Nio se alwieldryf.

En 3.8 liter, huh? Versus die Lambo se 6.5 liter? En ses silinders versus 12?

Goed, die Porsche spog met twee enorme BorgWarner-turbo’s wat help om die Nordschleife in 6:47.30 te kou. Vir dié soort ding benodig jy wiele wat, soos die GT2 RS, 340 km/h kan haal en die 0-100 km/h-lopie in 2.8 sekondes verbrysel.

Versnelling is dus nie soos ’n vegvliegtuig s’n wat uit ’n vliegdekskip se kettie lanseer nie. Versnelling is soos ’n vuurpyl wat uit ’n vegvliegtuig in volle vlug se vlerke geskiet word om die vyand te vang voor hulle oogknip.

Jou maag ruk tot in jou keel. Jou oë eindig agter jou ore. Jou brein se sinapse ontkoppel. Jou longe stol.

En dan skroef jy die twee turbo’s los en die 911 raak ’n Simson sonder hare?

Enjin, spoed en klank

Toe nie. Behou die GT2 RS feitlik nes hy is – wiele, bande en koeëlgewrigte uit staal ingesluit, laasgenoemde wat rubberbusse in die veerstelsel vervang vir stywer bindings tussen motorbak en onderstel – maar vervang die 3.8-liter-turbo met ’n onaangejaagde 4.0-liter-platses en daar het jy dit. Die gort is feitlik ewe gaar.

Mens sou dit nie uit kragsyfers aflei nie. Die GT2 RS se 515 kW en 750 Nm oorrompel die GT3 RS se 383 kW en 470 Nm.

Maar laasgenoemde se tyd van 6:56.40 is net nege sekondes stadiger as die GT2 RS se blitzkrieg, en 24 sekondes vinniger as die vorige GT3 RS s’n.

Dis báie. Daar’s véle redes.

Eerstens die effe sterker enjin, nou met nuwe ringe en suiers, plasma-silindervoering, ’n stewiger krukas, groter hoof- en koppelstanglaers en ’n drukverhouding wat van 12.9:1 tot 13.3:1 opgeskuif is.

Tel alles bymekaar en die GT3 RS dop die 0-100 km/h in 3.2 sekondes om.

Dis ’n entjie stadiger as die GT2 RS se 2.8 sekondes maar die verskil is dalk minder as wat mens sou verwag het. Wees ook daarvan verseker dat 3.2 sekondes steeds allerblitsig is – én dat jy die voordeel het van ’n skrou wat suiwer uit die keel breek, sonder die moffel-effek van aanjaers.

Dis ’n skrou wat inderdaad diep uit die platses se pens begin bou as jy verby 5 000 toere skuif. Dis een wat kartetse rondom 8 000 begin skiet.

En dis een waar alle hel in die duisend toere vóór 9 000 r.p.m. losbreek.

Lugdinamika en hantering

Wat dus in terme van super-ekstreme verrigting vis-à-vis die GT2 RS verloor word, wen die GT3 RS aan klank terug.

Die GT2 RS bulder diep en donderend; die klank word in ’n wolk saamgesleep. Die GT3 RS is ’n smeltkroes vol kokende goud wat die pad na vore oopbrand en skoongil.

Die res is amper identies, insluitend die rolkou plus die stert se massiewe koolstofveselvlerk doer bo in die hoogtes, om met meer skoon lug te werk. En werk werk hy, soos ’n wins van 40% in afwaartse druk vergeleke met die vorige GT3 RS toon.

Lugdinamika is dan sommer ook die tweede verskil tussen die vorige model en die nuwe een: die groter stertvlerk, groter luggate, ’n groter voorste aërolip, ’n nuwe lugversneller en NACA-inlate op die neusdeksel (nes op die GT2 RS) vir voorste remverkoeling.

Teen 200 km/h lewer die GT3 RS byvoorbeeld dubbel die drukkrag van die GT3.

Voeg ’n vinniger stuurratio by die vergelyking, asook agterwielstuur, en die RS se indraai is verstommend vinnig en direk. Selfs al kon jy ’n lyn met laser uitsny, sou jy ’n motor nie akkurater as hierdie Porsche op die pad plaas nie.

En hy’s rats, o hemel. Jy kan soos ’n spykerbal van rigting verander.

Sport- én renmotor

Vir die pad dan, gebou?

Jip. Alle 911’s, alle Porsches, is gemaklik teen dorpsnelhede en so meer. Hard geveer, ja; op erg gebroke teer sal jy rondskud. Maar dis nooit ondraaglik nie, juis daar die GT3 RS (nes die GT2 RS) se kantelkeerstawe net die helfte so aggressief soos byvoorbeeld die GT3 s’n is, juis om te vereffen wat – in terme van ritgehalte – aan strammer vere en vinniger dempers afgestaan word.

As hy dus nie so laag en knus gesit het nie, sal Jan Alleman teen 80 km/h wonder of die Porsche waarin hy ry, waarlik ’n sportmotor is.

As jy egter ’n bietjie Jan Balleman in jou murg het, sal renbane of bergpasse hierdie wanopvatting uiters onmiddellik in die kiem smoor.

Die R4 miljoen-GT3 RS is 100%-sportmotor én 100%-renmotor.

Overgesetsynde: Hy’s in die top-een.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.