Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Maskas! Meer styl, fris enjins vir Creta

Daar’s ’n vars bries wat deur Hyundai se sportnutsreeks waai met die aankoms van die nuwe Creta in die land, net so drie jaar nadat die kompakte sportnuts die eerste keer voet aan wal gesit het.

Tot dusver het die Creta ’n nuttige gaping vir Hyundai gevul: net onder die Tucson wat deesdae nogal deftig en ál duurder is, maar groter as die i30-tipe Kona.

Waar die eerste Creta ’n sterk waardepakket gebied het met sy basiese afwerkings, het die nuweling ’n tree vorentoe gegee. Die Creta is nou nie net ’n aks groter in die heup, skouers en agterstewe nie, maar ook deftiger binne met meer luukses wat as standaarditems ingesluit is.

Beste van als is dat daar nou ook drie nuwe enjins in die modelreeks is wat hul buiging maak.

Indië vat raak

Soos in die verlede kom die nuwe Creta weer uit Hyundai se Indiese fabriek. Dis meestal ’n sportnuts vir ontluikende markte (ruim bakwerk, basiese afwerkings) en Europa en Noord-Amerika sien hom glad nie, maar in dié Creta se geval skree sy voorkoms en afwerkings gewis nie “sakpas” en “gebou met ’n R10-begroting” nie.

Van winskoopjagter na staatmaker: Hyundai se nuwe Creta lyk nie net stukke beter as vantevore nie, sy nuwe enjinreeks bied nou ook ’n rit wat by die bestes kan kers vashou.

Waar die ou model strak, reguit lyne gehad het, draf die nuweling met mooi uitgeboude wielboë, ’n groot sierrooster met ’n eierkrat-ontwerp vir ’n lekker forse voorkoms, skrefiesoog-hoofligte danksy moderne LED-tegnologie, en dan daardie C-pilaar wat halfpad na bo die dakpaneel ontmoet.

Terloops, twee bakwerkkleure is met ’n wit dak beskikbaar vir ’n windmaker tweekleur-voorkoms.

Hoe lyk die reeks?

Twee afwerkingsvlakke is te kies terwyl jy ook uit ’n sesgang-handrat en twee outomatiese ratkaste kan kies. Topmodelle kry byvoorbeeld Hyundai se selfontwerpte sewegang-outokas (dubbelkoppelaartipe), terwyl die middelvlak-weergawes ’n CVT-tipe ratkas het.

Hyundai het sy CVT-kas weer onder hande geneem en sê dit bied nou ’n gladder rygevoel. Ons kon dit nie self beproef nie, maar die witjasse in Korea het die band tussen die twee keëls (wat die verskillende ratverhoudings bied) met ’n ketting vervang. Die ses “ratte” wat vir die ratkas geprogrammeer is, is ook na agt vermeerder om die spronge kleiner te maak.

Lig op die ’kap

Vir my is die beste nuus die nuwe enjinfamilie. Daar’s nou ’n 1.4-liter-turbo wat 103 kW en 242 Nm wringkrag lewer. Dit word vir die topmodelle gereserveer. Die kragsyfers vergelyk billik met wat ander vervaardigers opdis (Suzuki: 103 kW, 230 Nm; Volkswagen: 110 kW, 250 Nm).

Dan vervang ’n nuwe 1.5-liter-turbodiesel die 1.6-liter-diesel. Hy is matig laer in kragsyfers (85 kW, 250 Nm), maar bied ’n laer verbruik en skoner uitlaatgasse. Hyundai sê die enjin benut ’n beter verkoelingstelsel asook twee inspuitpunte in elke silinder om skoner ontbranding te bied. Die silinderblok is ook dunner en dus ligter.

Die laaste toevoeging tot die Creta-gesin is die nuwe 1.5-liter- natuurlik geaspireerde enjin (85 kW, 144 Nm), vir die intreemodelle.

Gooi kole

Op ’n mengsel van snelweë en grondpaaie het die Creta verras. Hy’s heerlik stil in die kajuit, en die klein turbo bou fluks stoom op as jy die voet plant.

Wat die kajuit betref, het die slim ouens ’n brandweerwa se skuim in die deurholtes ingeblaas plus nog ’n paar lappe mat en rubber by al wat metaalplaat tussen kajuit en enjinruim is ingewurm om die kajuit so geïsoleer as moontlik te kry. Die resultaat is jy kan ’n gesprek teen enige spoed voer, daar’s nie ’n greintjie wind- of bandgeraas wat jou stem soos die Suidoos wegwaai nie.

Die turbo het so ’n effense getalm voor hy sy ore plat trek, en dan hol hy soos ’n kameelperd met ’n honger ding op sy hakke.

Die kajuit self is nou ’n aks groter as vantevore, met die bagasieruim wat ook ’n handsak ekstra kan sluk ná dese danksy ’n langer asafstand vir die nuwe model.

Afsaal

Hyundai het sy sakpas Creta gevat en dit na ’n stylvolle sportnuts in eie reg ’n trap hoër geneem. Die prys het maar so R5 000 per model gestyg. Saam met die Renault Duster en kleiner Ford EcoSport bied hy nou ’n stylvolle intreemodel vir dié mark.

Meer oor:  Creta
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.