Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Mazda vind kolf se middel met CX-5

In die segment vir kompakte sportnutse het Mazda vir hom ’n gemaklike lêplek uitgekerf. Sy CX-3 is ’n modieuse klein stadsritser en heel gewild by dié tipe koper wat ook ’n Mini of ’n BMW 1-reeks sal oorweeg. Terwyl die groter CX-5 self ’n stelling maak met sy grasieuse lyne en nommerpas grootte.

Ons het onlangs weer ’n draai gery met die groep se CX-5, en wel met die nuwe 2.2-liter-turbodiesel onder die enjinkap. Nou kyk, die diesel-weergawe is ietwat van ’n anomalie op die Japanse motorfront. Die Japannese hou van hul natuurlik geaspireerde enjins.

Maar in die middelslag-CX-5 maak die twee-punt-twee absoluut sin. Kyk net na die syfers: 140 kW en ’n fris 450 Nm wringkrag, wat eintlik maar die syfer is waarin jy die meeste sou belangstel.

Die enjin is gekoppel aan ’n CVT-tipe outomatiese ratkas, wat tot so vyf, agt jaar gelede nog vir koue rillings sou gesorg het sou jy dit by die vleisbraaivuur verkondig het. Vandag egter is die jongste generasie CVT’s strate beter. Dit hou elke rat langer, sodat die enjin nie meer klink soos ’n kwaadgemaakte haardroër as jy die voet plant nie.

Met sy fris dieselenijn is die Mazda CX-5 ’n heerlike langpad-toermotor.Foto: Marnus Hattingh

Rek daai bene

Die diesel bied hope trekkrag, raas nie te hard as jy hom soggens aanskakel nie, en kom tot sy reg as jy die langpad haak en hy teen so 120 km/h moet toer. My verbruik het tot so 6,8 liter gedaal, en dit het snelweë en ry in die dorp als ingesluit. Dis net ’n Nissan Qashqai met ’n 1.5-liter-diesel of ’n Renault Duster met dieselfde enjin wat vir jou ’n beter verbruik sal gee – maar sonder daardie massiewe wringkrag waarmee jy ’n boot Hartenbos toe kan sleep. Sonder om agter elke vragmotor op die langpad te moet wag vir ’n afdraande om verby te kan kom.

Die kajuit van die CX-5 is vir my nog te donker afgewerk, want swart oppervlakke is oral te sien. Die inligtingskerm is ook te klein, hoewel Mazda ’n draaiknop bied waarmee jy tussen funksies kan wissel. Dis nie die beste, gebruikersvriendelikste stelsel daar buite nie, maar die maatskappy volhard met hierdie stelsel.

Die sitplekke self sit heel gemaklik en drie tieners of twee volwassenes sal agter kan inpas. Die laairuim is billik, maar jy kan ’n Venter-sleepwa nuttig vind as jy nie elke gesinslid tot net een tas beperk nie.

In die dieselmodel kom die CX-5 ook met ’n rits nuttige bestuurshulpmiddels, hoewel ek sommige dadelik gedeaktiveer het omdat dit lastig op die oop pad kan wees. Dit sluit in die terugdu-funksie op die oop pad, wat jou terug na jou baan sal dwing as jy oor die stippellyn beweeg.

Afsaal

Die CX-5 is een van die gewilde kompakte sportnutse (hoewel die VW Tiguan loshande die voorloper is), en met sy mooi voorkoms kan ’n mens ook verstaan waarom. Die dieselenjin gee hom ekstra woema, wat vir ’n puik kombinasie sorg. Nou moet Mazda nog net die raakskerm en inligtingstelsel op datum kry, dan is hy ’n heel gedugte sportnuts.

Prys: Mazda CX-5 2.2 diesel – R649 900.

Meer oor:  Motors  |  Mazda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.