Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Meer renoster vir die Veloster

Hyundai staan op die punt om sy nuwe verrigtingsblitsbuks, die Veloster N, ’n hupstoot te gee met ’n nuwe sewegang- outomatiese ratkas met twee koppelaars.

Die Veloster N is die groep se Golf GTI-mededinger, maar word tans net oorsee versprei. Daar is ’n gewone weergawe met ’n tweeliterturbo wat 186 kW lewer, en ’n warmer model met 205 kW.

Hyundai se eerste tree in die verrigtingsmark met sy nuwe N-subafdeling is die haastige Veloster N. ’n Nuwe outomatiese weergawe is nou ook op pad.

Dit vergelyk goed met syfers wat mededingers soos die GTI en Golf R bied, asook die Honda Type R en Renault Megane RS. Audi, BMW en Mercedes se blitsbukse is egter in ’n ander liga wat verrigting betref.

Steelfoto’s van ’n nuwe Veloster wat onlangs op die Nürburgring geneem is, toon dat die toetsmodel ’n outomatiese ratkas het. Tans kom die Veloster N slegs met ’n sesganghandratkas, aangesien dit deur puriste as die beste keuse vir sportmodelle beskou word.

Hyundai het egter erken hoewel die puriste ’n voorkeur vir handrat­modelle het, is daar heelwat kopers wat eerder ’n geriefliker outomatiese ratkas wil hê.

Die vermoede is dat Hyundai-ingenieurs die groep se bestaande dubbelkoppelaar-ratkas nou opgeknap het om die robuustheid van die Veloster N se warm tweeliterturbo te weerstaan.

Die outomatiese ratkas bied in der waarheid meer voordele as die handratkas: Dit skakel vinniger op deur die ratte, en met die afrat sal hy ook die toere opjaag sodat die skakelaksie gladder geskied.

Hyundai sal graag die warm Veloster na die land wil bring, maar om hom hier teen ’n billike prys te kan bemark gaan die grootste uitdaging wees. Oorsee kos hy sowat R400 000, maar danksy ’n swak wisselkoers en hoë invoerbelastings sal hy by ons nader aan die R600 000-kerf wees, wat vir die plaaslike koper ’n ekwivalente prysopsie tussen ’n GTI en ’n Megane RS sal bied. Koperlojaliteit sal dus maak dat die Koreaan altyd ’n opdraande stryd gaan voer, ongeag sy gehalte.

Tog is dit jammer, want op papier blyk hy ’n Jan Wilkens te wees.

Meer oor:  Hyundai  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.