Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Megane RS Trophy jaag eie trofee los
Die GTI-bende het iets nuuts om oor bekommerd te wees. Dis Renault se nuwe Megane RS 300 Trophy, wat witwarm verrigting uit sy klein 1.8-liter- kragpot beloof.

Almal praat van die kroonjuweel in die portefeulje; daardie model wat nie noodwendig in groot getalle gaan verkoop nie, maar wat die handelaar en handelsmerk sommer breëbors kan laat staan.

In Renault se geval is dit deesdae sy RS-modelle, daardie rygoed wat hy na sy Renault Sport-skuur toe stuur om ’n bietjie aan getimmer te word.

Die jongste knaap uit hierdie geweste is die nuwe Megane RS 300 Trophy, waar daar sommer ’n hele paar leidrade in daardie naam ingepas is oor wat jy als te wagte kan wees.

Ten eerste, die 300 verwys na sy perdekrag, die 221 kW wat sy 1.8-liter-turbo loswoel (saam met ’n draaimoment van 420 Nm).

Die “RS” is natuurlik die lapelwapen van Renault Sport, die Franse groep se afdeling vir verrigtingsmotors. En dan Trophy, wel, hoekom nie aan jouself ’n beker toeken as jy ’n motorvervaardiger is nie?

Dié fris klong uit Parys gaan Renault se vaandeldraer in Suid-Afrika wees, maar jy sal moet gou spring as jy die oog op een het. Suid-Afrika kon net sewe modelle bekom in die wêreldwye toewysing van die 500 voertuie wat gebou is.

Goeie nuus: Renault sê die bestelboeke is nou maar eers oopgemaak, so jy nie hoef bekommerd te wees dat iemand al in April ’n bestelling geplaas het nie.

Blink pedale, ’n vertikale inligtingskerm, groot toerenaald in die middel van jou paneel en rooi stikwerk op die handrem en rathefboom gee ekstra woema aan die blitsbuks se kajuit.

Wat het ons hier?

Die Megane is Renault se Golf-mededinger, so ’n lekker kompakte luikrug met ’n moderne ontwerp. Anders as sy mededingers – soos die Golf GTI en R, Honda se Civic Type R en die Hyundai i30N – benut die Fransman nie ’n tweeliterturbo nie, maar wel daardie kleiner 1.8-liter-turbo.

Dit wys hoe knap die span by die RS-afdeling dus werklik is.

Want uit ’n kleiner slagvolume toor hulle Eben Etzebeth se boarm en nog so ’n ietsie uit, of dan 221 kW en 420 Newtons, soos ons vroeër genoem het.

Dis werklik verstommend.

Al daardie krag gaan slegs na die voorwiele en nie na al vier soos by die Golf R nie. Renault sê daar is ’n elektroniese sluitewenaar op die vooras, waar die blikbrein moet help keer as jy die voet plant met die stuur gedraai.

Hoe goed dit werk sal ’n mens nog moet sien.

Blink, Jean-Pierre, dankie

Om al daardie krag hanteerbaar en volhoubaar te maak het die witjasse ’n paar penne in hul bosak goed deurgekou, lei ’n mens af. Die silinderkop is byvoorbeeld nuut ontwerp om meer hitte te kan weglei en by die turbo self is daar nou keramiek-laers om die ekstra hitte te hanteer en minder wrywing te bied. Spesiale (bloedrooi) Brembo-remknypers sit ook op elke wiel en Renault sê op elke hoek is daar ’n goeie 1,8 kg gespaar danksy ’n rits nuwe, ligte materiale wat vir die wiele en remme benut is.

En laastens het die klein Megane RS ook vierwielstuur, wat nogal ’n verrassing vir so ’n klein luikrug is. Die agterwiele draai teen hoë spoed ’n aks in dieselfde rigting, en in die teenoorgestelde rigting as jy stadig ry en wil skerp draai.

Slim knapie, dié

Die vierwielstuur-aksie is natuurlik ’n partytjietruuk wat goed op papier klink, maar nie noodwendig in die kajuit uitgewys kan word as jy iemand sou wou beïndruk nie.

Maar hier het Renault ook vooruit gedink.

Die digitale inligtingskerm bevat ’n klomp skerms waar allerlei tegniese data oor die voertuig en sy verrigting op allerhande maniere uitgebeeld word.

Dit sluit nou in jou kragvlak, die G-kragte om draaie, jou tyd op ’n bepaalde roete, die temperatuur van omtrent elke vloeistof behalwe die brekfis-koffie in jou maag en ’n paar nuttige grafikas en grafieke.

Dié RS Monitor (wat anders?) is bestem om jou mederyers mateloos te beïndruk wanneer jy dwars-dwars om die draai Sarel.

Ren-kajuit

Net soos met die Honda Civic Type R die geval is, is die RS Trophy ’n werklik gefokusde ryding (anders as, sê maar, die veel meer gematigde GTI of i30N). Kyk net na die diep Recaro-skottelsitplekke, wat uit ’n enkele plastiekbak gegiet is.

Daar is ook die leerstuurwiel, die alcantara-bekleedsel wat jou broek styf vashou en die verskeie ritmodusse om jou voertuig mee na jou smaak in te stel.

Wenk: Gaan na Race-modus om die meeste pret op jou skinkbord te sit.

Afsaal

Met net sewe modelle wat in die land te kry is (drie handrat, vier outomaties), is dit ’n vraag waarom Renault nog die moeite doen. Maar, al sewe sal uitverkoop word. En dit sal die handelaarsnetwerk en ondersteuners gelukkig hou. Die res gaan maar droëmond moet sit en wag op ’n volgende verrigtingsmodel uit die Renault-stal.

Prys: Renault Megane RS 300 Trophy – R774 900 (handrat);

Renault Megane RS 300 Trophy – R799 900 (out).

Meer oor:  Renault
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.