Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Merc gee sy GLC-gesin kreatien

Die verrigtingsfanatici by Mercedes-AMG het die kraggrense in die middelgrootte-sportnutssegment met die onlangse bekendstelling van die GLC 63 S en GLC 63 S Koepee – die eerste V8-gedrewe modelle in hul onderskeie segmente – ’n verdere hupstoot gegee.

Dit was einste Affalterbach-tegnici wat byna twee dekades gelede die eerste warm sportnuts, in die vorm van die ML55 AMG, in die mark gestoot het. Die sukses van hierdie model, en die koms van mededingers vanaf München en Ingolstadt, het die bestaansreg van blitsnutse gevestig.

Lus om leeus in die wildtuin op ’n flukse pas te gaan kyk? Mercedes se GLC-familie het twee fris broers bygekry, in AMG-gewaad nogal.

Dis egter die eerste keer dat Mercedes-AMG sy vierliter-V8-biturbo-enjin, soortgelyk aan dié wat in die Mercedes-AMG GT-reeks gebruik word, in die kompakte GLC-sportnutsmodelle prop. In dié formaat pomp die agtsilinder-kragbron in die twee GLC 63 S-variante ’n stewige 375 kW (350 kW in die gewone AMG GLC’s) en 700 Nm wringkrag (650 Nm in die normale AMG) uit – genoeg om die S-modelle in ’n skrale 3.8 sekondes tot 100 km/h te laat blits. En wat menige rasegte sportmotors in hul stofspore sal laat byt.

Dis als in die rooster

Mercedes-AMG het ook besluit om die twee GLC 63-nuwelinge met ’n aangepaste weergawe van die Panamericana-sierrooster, soos gebruik in die AMG GT-familie, as verdere verwysing na hul verrigtingspotensiaal toe te rus.

Hoewel dit aantreklik en sommer lekker aggressief vertoon, doen dit na my mening afbreuk aan die eksklusiwiteit van die rooster, soos gebruik op die GT’s. Dis ook effens minagtend teenoor Mercedes-Benz se roemryke geskiedenis, want die Panamericana-rooster is spesifiek op SL-modelle gebruik.

Benewens die prominente sierrooster word die vlagskip-modelle deur ’n groot lugverdeler en kantinlate voor, breër wielboë, eiesoortige sypanele, ’n swart lugsnoer agter en silwer insetsels langs die kante en agter van hul mindere weergawes onderskei.

In hierdie gewaad is die weeldesportnuts nou ook vir die eerste keer met ’n klein drukvlerk op die dak toegerus, wyl die koepee met die groter drukvlerk van sy GLC 43-stalmaat spog, om genoeg afwaartse druk agter te bewerkstellig teen die snelhede waartoe hierdie kragtige sportnutse in staat is.

Maar ook deftig binne

Ook binne word hierdie rygoed se spierkrag deur die gebruik van swart nappaleer-sportsitplekke, AMG-kentekens en rooi details by die spoed- en toerenaald beklemtoon. ’n Versameling bykomstighede is onder die sogenaamde AMG Night-, die koolstofvesel- en Performance Studio-pakket beskikbaar, dan is daar ook die vlagskip-“Edition 1” wat onder meer met 21-duim-wiele, sportsitplekke met ’n diamant-stikpatroon en geel stikwerk toegerus is. Tog is die grootste aanpassings, soos die vierwieldryfstelsel met wringverspreiding, lugvering, sluitewenaar agter en kragtiger remme nie sigbaar nie.

Tesame met die fris V8-enjin verseker dié stelsels dat dié monsters nou beslis die vinnigste hoëdak-rygoed in AMG se stal is – indien nie algeheel in hul klas nie – soos ons op die Zwartkops-renbaan buite Pretoria kon ervaar.

’n Dinamiese kragtoer

Die eerste wat opgeval het, was die soomlose wisselings van die ratte, en die nuwe, vereenvoudigde lanseerbeheerstelsel.

Waar dit in die verlede ’n hele lanseerprosedure geverg het om ’n blitswegspring te bewerkstellig, is dit nou so eenvoudig soos ’n Malema-uitspraak.

Kies die Sport-, Sport Plus- of Race- (eie aan die S-modelle) modus uit die vyf opsies, trap die briek vas en trap die versneller plat totdat die instrumentpaneel wys als is reg vir wegtrek.

Los dan die rem en hou vas terwyl die GLC grond vinniger eien as wat die EFF ooit sal kan.

Afwerking binne is sportief met ’n klein, dik sportstuurwiel, rooi naalde op die spoed- en toeremeter en blink pedale, onder meer.

In Sport Plus- of Race-modus kan die stabiliteitsbeheer ook in drie grade van ingryping verstel word. Dit beheer die sluitewenaar en vierwieldryfstelsel om die beste uit die aanpasbare lugvering en stewige onderstel te haal.

Om die kort, draaierige baan is die lekkerluister-grom van die V8 (versterk deur ’n klep in die uitlaat) telkens deur ’n ril-lekker afratknor onderbreek, en die AMG-blitsnutse het verbaas met hul ratsheid en vastrap.

Tydens remming was hul gewig wel voelbaar, en enige oorywerigheid om ’n draai te vinnig aan te pak, het tot progressiewe, maklik hanteerbare stuurtraagheid gelei.

Dit was ook interessant dat die GLC effens meer stabiel as die S-koepee op die baan gevoel het; vermoedelik vanweë sy groter gewig agter.

Op normale paaie in geriefsmodus het die V8’s so rustig soos tevrede katte op ’n sonstoep gespin, en selfs met laeprofiel-rubber was albei modelle se ritgehalte selfs op hobbelpaaie gerieflik.

Wie kan kers vashou?

Met BMW wat nog nie ’n regte M-weergawe in sy nuwe X3/X4-reeks bekend gestel het nie is die Porsche Macan Turbo met verrigtingspakket (324 kW en 600 Nm) die nuwe GLC 63 S se enigste mededinger – wel, minstens tot die koms van Alfa-Romeo se Stelvio QV (375 kW en 600 Nm).

Die Porsche is beskikbaar vir R1 540 000 wyl die GLC 63 S nou R1 563 596 kos, en die Koepee R1 679 605. Daarvoor kry jy die blitsigste kompakte sportnutsryding met genoeg ruimte vir passasiers en bagasie, omvattende veiligheidstoerusting, en uitstekende kloukrag. O, en ’n grommende V8-klank.

Tog meen ek dat selfs met al dié eienskappe hierdie blitsnutse eintlik oordadig is in hierdie mark. Ja, dis beslis ’n troefkaart in die “myne is beter as joune”-statusgeveg, maar wat my betref, kies ek eerder die meer gebalanseerde, goedkoper en reeds blitsige GLC 43. Net jammer ek sal dan sonder die Panamericana-sierrooster moet klaarkom.

Meer oor:  Mercedes Benz  |  Mercedes-Amg  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.