Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Merc se brieke laat Max vlieg

Kan jy kopersverdriet kry ná die sluit van ’n Formule Een-jaerskontrak? Só sou ’n swaarmoedige Lewis Hamilton Sondagaand op pad terug van die Red Bull Ring na sy woning in Monaco gis. Dít na Saterdag se aankondiging van ’n tweejaar-verlenging van Mercedes se sewemalige wêreldkampioen se kontrak, voor hy 24 uur later die jaar se mees snydende skrobbering van sy medetitelaanspraakmaker, Red Bull-Honda se Max Verstappen, by Sondag se Oostenrykse Grand Prix moes verduur.

Die 23-jarige Hollander het Sondag self (ware) geskiedenis gemaak deur die eerste jaer te word om by drie F1-renne binne drie opeenvolgende naweke met die louere weg te stap. Met die losjaag van die voorste wegspringposisie, die vinnigste rondtetyd en sy gemaklikste sege van 2021, teenoor Hamilton se vierde plek (beskadigde aërodinamika het hom sy tweede plek gekos), was Verstappen ongeëwenaard by sy Red Bull-span se tuisren. Dié wen – sy vyfde van die jaar teenoor Hamilton se drietal – plaas hom nou meer as ’n oorwinning bo die Brit op die punteleer.

Lewis Hamilton bekyk sy motor. Foto: Reuters

Was die stormende stiere se verwoestende vertrapping van die Silwer Pyle op die Stiermarkse lappieskombers enigsins ’n verrassing? Ongeag hul beste pogings was Mercedes Sondag net so stadig as twee weke gelede by dieselfde baan – maar die Red Bull steeds ratser.

Dit was danksy ’n perkelose aantal nuwe onderdele, ’n 20-grade koeler baanoppervlak en die verpligte gebruik van Pirelli’s een spesifika­sie­vlak sagter as voorverlede Sondag s’n – wat ten gunste van die Bulle gewerk het.

Die reuk van bloed – asook die veerkragtigheid van volgehoue positiewe momentum – du die foutlose Verstappen nou al hoe nader aan sy debuutkroon. Daarteenoor, ná vyf opeenvolgende afranselings deur Red Bull, is die vraag hoe die eens onstuitbare Silwer Pyle tot vanjaar se naasbestes kon verval; en of daar nog enigsins skietgoed onderin hul rammelende koker oorbly om ’n laaste terugvegpoging te begin.

Die anker wat Mercedes in vanjaar se ontwikkelingstryd teen Red Bull saamsleep, is die gedwonge vermindering (’n geraamde tien persent) van die vloerarea voor alle motors se agterwiele; ten doel om die opwek van afwaartse druk te beperk, snelhede in toom te hou en die oorwerkte Pirelli’s ’n blaaskans te gee.

Afwaartse druk verleen aan die F1-motors hul greep deur middel van lugvloei bo-oor hul vlerke, asook onderdeur die vloer wat na die lugsnoer agterlangs gekanaliseer word om die motor as’t ware aan die baan vas te suig.

Die lugsnoer se doeltreffendheid word bepaal deur óf die volume óf spoed van die lug wat daardeur beweeg; wat opsigself gemanipuleer word deur die hellingshoek onder die motor.

Die Mercedes se groter vloer vra ’n laer hellingshoek, terwyl die Red Bull se stert sigbaar hoër gewip is om meer lug vinniger deur sy lugsnoer gestoot te kry. Die verlies van einste oppervlakspasie is ’n kruis wat die Driepuntsterre al heel jaar dra.

En tot ’n kruispad gedwing het.

Die gevolglike onlangse bekendmaking dat Mercedes nie verdere hulpbronne aan vanjaar se W12-model sal wy nie, is verlede week opgeklaar toe die span vermeld het dat daar wél nog verbeteringe op pad is, maar niks addisioneel tot wat reeds beplan was nie. So te sê alle aandag is dus reeds op 2022 se motor gevestig.

Die knyp van 2021 se begrotingsplafon, strenger tegniese regulasies, asook die dalende opbrengste van die ontwikkeling van ’n jaar oue motor, maak dit betwisbaar of dié beoogde stap voldoende sal wees om Red Bull weer binne trefafstand te kry – iets wat Hamilton sélf Sondag agterna oor getwyfel het.

Vanjaar word geen deurlopende verrigting-gebaseerde enjinontwikkeling toegelaat nie.

Formule Een

Die spanne mag wel eksperimenteer met verbeteringe rakende doeltreffendheid, soos olieverbindings wat die enjin se verkoelingsbehoeftes kan verlaag en sodoende kleiner luginlate (wat ongewenste sleur veroorsaak) toelaat; en gevolglik ’n hoër topsnelheid weens ’n meer vaartbelynde vorm voortbring. Verder sal Mercedes poog om die W12-model se petrol- en elektriese motors se krag meer effektief te ontplooi, en waar moontlik bandverbruik te verbeter. Die omvattend­ste verandering sal waarskynlik die implementering van ’n paar opgeskerpte aërodinamiese addenda behels.

Al die bogenoemde sal ’n buiging op die Mercedes by volgende naweek se Britse Grand Prix by Silverstone maak. Met sy lang pylvakke en hoëspoed-draaie, word dié voormalige militêre vliegveld gevrees as ’n Mercedes-slagveld; en sal dié ronde beduidend wees van die felheidsgraad van die stryd wat Red Bull vir die res van die jaar van hul aartsvyande kan verwag. Of nie.

Met nog 14 renne oor om te beslis, en anders as in Oostenryk, gaan daar bane volg wat die Mercedes beter pas.

Die Red Bull hou na bewering van kort, knap kurwes, maar sou jy dit sê nadat Verstappen vir Hamilton verlede maand op Frank­ryk se Paul Ricard laat les opsê het? Watter skyn van ’n topsnelheidsnood waaraan RB16B ook al vroeër vanjaar gely het, het intussen soos metaangas – waaraan die Mercedesse nou stik – in sy sleurstroom verdwyn.

Géén kroon is so gesog vir ’n jaer soos sy eerste nie.

Die 36-jarige Hamilton het sy kontrak verleng gedagtig met heimwee aan die dae van sy eie eerste wêreldtitel. Toe hy ’n held op die baan was pleks van op Instagram. Toe V8’s sy polsslag vinniger opgejaag het as veganisme; en oktaan eerder as die osoon.

Tuur hy 13 jaar later in by sy spieëlsaal van ’n trofeekabinet, is al wat uit die see van goud terugstaar die vae weerkaatsing van Max Verstappen se gesig op elke beker.

Meer oor:  Mercedes  |  Honda  |  Grand Prix  |  Max Verstappen  |  Lewis Hamilton  |  Monaco  |  Oostenryk  |  Motors  |  Formule Een
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.