Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Merc se nuwe GLA gee ’n groot tree vorentoe

Einde verlede jaar het Mercedes sy jongste GLA na ons mark gebring. Dis ’n groot gebeurtenis deesdae vir die Stuttgartse groep, want soos wat die rand verswak en voertuigpryse deur die dak skiet, soek kopers al hoe laer af op die portefeuljelysie.
Mercedes se tweede probeerslag met die klein GLA het ’n wenresep net verder verfyn. Daar’s meer ruimte binne, jy sit en ry hoër en die nuwe tweeliter-diesel ken nie van ophou nie. Foto: Marnus Hattingh

Die GLA, as die kleinste en A-klas-gebaseerde nuts in die Merc-stal, bied enersyds ’n toetrede vir kopers tot Mercedes se uitgebreide reeks sportnutse.

Maar ons sien ook dat hy ’n bepaalde aanhang geniet onder jong, werkende vrouekopers – bes moontlik as statussimbool gekombineer met ’n kompakte sportnuts-voorkoms. Dis tipies Mini Cooper- en Countryman-kopers wat in hierdie prysklas na ’n ryding soek. Jy kan egter ook Audi se Q2 en Q3 hierby voeg, en BMW se X1 en X2. Volvo se klein XC40 voel ’n raps groter, maar is ook ’n status-nuts wat onder vrouekopers gewild is.

Wys daai lyf

Moet geen fout maak nie, die eerste GLA het so bykans 1 miljoen eienaars oor die wêreld heen gevind. Dit wys hoe gewild hy inderdaad op ’n globale skaal is. Die nuwe model is nou die tweede generasie, en Mercedes het ’n paar interessante skuiwe gemaak in sy ontwerp.

Sy kajuit eggo heelwat van die huidige A-klas, soos die geleende instrumentpaneel. Maar hy gebruik ook die nuwe A se platform, wat hom bepaalde voordele bied.

Dis nou dinge soos ’n langer asafstand en breër spoor, wat dadelik wins bied in ’n ruimer kajuit. Om presies te wees, die nuwe GLA is in vele opsigte ’n aks groter as die ou model: ’n Hele 10 cm hoër en 3 cm breër. Maar, die lyf is ’n massiewe 15 cm korter gemaak.

’n Mens sou dink hierdie korter lyf gaan pakplek en beenruimte kniehalter. Tog kon ’n slimmer verpakking van die kajuit tot ’n matig groter (+14 liter) laairuim lei, en ook meer skouer- en beenruimte binne.

Moderne kajuit

My toetsmodel, die 2.0-liter-dieselgedrewe GLA 200d (daar is ’n 1.3-liter-turbopetrol ook), het benewens die opsionele digitale instrumentpaneel met sy twee inligtingskerms ook die opsionele skuifbank agter gehad. Die skuifbank maak die GLA net daardie raps buigsamer as leefstylvoertuig, sou jy ekstra sportsakke agter wou inlaai.

Die groot digitale paneel werk met ’n raakskerm, of met stembevele wat jy met “Hei, Mercedes” aktiveer. Die keuselysie is redelik lank, maar ’n item soos lugversorging is wel standaard.

Die multimediastelsel kan ook met ’n raakknoppie op die stuurwiel (onthou nog die Blackberry se knoppie?) beheer word. Dis ’n bietjie mog’t troffe, want jou vinger moet presies reg oor die oppervlak gly. Wat soms kan maak dat jy nie jou verlangde opdrag uitgevoer kan kry nie.

Andersins lyk en klink die stelsel puik: mooi ikone en ’n maklik verstaanbare stelsel.

’n Nuttigheid was die dubbele vloer van die laairuim, sou jy ’n skootrekenaar of nat klere apart en weggesteek wou bêre.

Lang treë

Die GLA probeer glad nie om ’n Jeep te wees nie. Albei modelle is slegs voorwielgedrewe, en laeprofielbande gaan gou op skerp klippe deurgestamp word.

Grondvryhoogte is ook ’n baie matige 14 cm – wat weliswaar ’n sentimeter beter as vantevore is.

Die tweeliter-diesel is die enjin wat jy wil hê. Dis ’n moderne juweel van ’n kragbron en bied die kombinasie van goeie krag (110 kW, 320 Nm) en ’n bitter lae verbruik. Ek het maklik 5,4 liter gehandhaaf, en beter is nog moontlik.

Die dieselenjin kreun net met die aanskakel so effe, of as jy hard versnel. Maar met gewone ryery is hy skaars hoorbaar. Die agtgang- outomatiese ratkas sorg ook vir ’n soepel rit, sonder om voortdurend na ratte te soek.

Die GLA stuur lekker lig in die dorp en danksy jou hoë sitposisie (nog iets wat Merc opgeknap het) kry jy dadelik ’n sportnuts-gevoel agter sy stuur.

Afsaal

Mercedes weet nogal wie sy GLA se grootste aanhangers is – jong, statusbewuste vroue met ’n goeie skeut sin vir avontuur. In dié rol munt hy uit. Hy’s nie goedkoop nie, maar hy beloon jou dubbel en dwars.

Prys: Mercedes GLA 200d – R714 560.

Meer oor:  Mercedes  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.