Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Mercedes se bukse is ’n kragtoer

Wimbledon, Lord’s, Silverstone. Ja, dit was ’n naweek van vele kragtoere wat seges vir ’n Kroasiër (hoewel die Switserse poging nie onderskat kan word nie), die Engelse (selfs al was dit eintlik gelykop met die Kiwi’s) en ’n Engelse jaer in ’n silwer Duitse blits opgelewer het.

Nou het die moederskip van die einste silwer F1-blitse hul eie kompakte kragtoer onthul (met hulp vanuit Affalterbach, natuurlik) – twee kompakte woemawaens aangedryf deur die kragtigste turbo-viersilinder- produksie-enjins ter wêreld.

Die Mercedes-AMG CLA45 S 4Matic+ met 310 kW onder sy aggressiewe neus word in September plaaslik verwag.

Jip, wyl die wêreld neig na omgewingsvriendelikheid en elektrisiteit, is daar nog g’n skietstilstand in die voortdurende perdekrag-oorlog nie. Dit lyk eerder of die ophande oliebrander-swanesang dié stryd in felheid laat toeneem.

Dit beteken hierdie kompak-rygoed in Mercedes-AMG se arsenaal – die A45 en A45 S 4Matic+, asook hul CLA-stalmaats – beskik nou oor meer as 300 kW (310 kW om presies te wees) om enige aanslag uit Beiere, Nagoia of Detroit te weerstaan.

Selfs die basismodel in die A45 4Matic+/CLA45 4Matic+-geselskap, kompleet met die nuwe haai-agtige AMG-sierrooster (die Panamericana-benaming word blykbaar nie meer waardeer nie), genereer nou meer krag as hul voorgangers; ’n stewige 285 kW en 480 Nm se draaimoment.

Die ware kragtoer is egter die S-modelle. Hulle nuwe M139-tweeliter-kragbronne verskaf ’n hele 30 kW meer as hul voorgangers (dit beteken 155 kW per liter!) en 25 Nm meer wringkrag.

Met dié soort krag versnel die S-modelle superkar-vinnig; die A45 S 4Matic+ blits in net 3.9 sekondes tot 100 km/h, wyl sy kompakte vierdeur-koepee-maat 0.1 sek. stadiger is. Dit beteken selfs ’n AMG E63 S sal sukkel om by hierdie bukse te bly . . .

Twee omgesukkelde kompakte blitse, die Mercedes-AMG CLA45 S 4Matic+ en sy luikrug-maat, die Mercedes-AMG A45 S 4Matic+, aangedryf deur die kragtigste viersilinder-produksie-enjin ter wereld. Foto’s: Mercedes-Benz AG

Die “normale” A45 en CLA45 is net ’n kortkop agter (4.0 sek. vir die A45 en 4.1 sek. vir die CLA45), maar dié modelle is nie vir Suid-Afrika bestem nie – in lyn met Mercedes-Benz se beleid om net “S”-modelle in die AMG-reekse hierheen te bring.

Geel detail-afwerking in die S-modelle beklemtoon hulle ren-karakter.

Die A45 S behoort einde vanjaar of vroeg in 2020 hier te wees, wyl die CLA45 S reeds in September hier kan wees (saam met die A35-luikrug). Die A35-sedan word in Oktober verwag.

Die bonkige S-blitse se topspoed is tot 270 km/h beperk (250 km/h vir die gewone weergawes, maar dit word met die opsionele AMG-bestuurderspakket na 270 km/h opgestoot).

Die warm enjins is aan ’n agtgang-AMG Speedshift DCT-kas gekoppel en krag word deur die 4Matic+- en AMG-wringbeheerstelsel na die wiele versprei.

Die ses bestuursmodusse sluit nou ook die “Master”-modus in, ’n ren-wegspringfunksie is nou standaard en as jy jou kompakte AMG wil laat dryf, hoef jy nou net die Race-modus te kies.

Stileringsgewys, binne sowel as buite, is die nuwe A- en CLA-reeks pure AMG, en die S-modelle kom standaard met 19-duim-rubber en -vellings, groot, rooi geverfde remknypers, groter 90 mm-uitlaatpype, plus geel aksente in die binneruim om hulle ren-karakter te beklemtoon.

So, trap suutjies, manne in die vinnige BMW’s en Audi’s; hierdie kompakte tweeliter-bukse gaan gat skop . . .

Meer oor:  Mercedes-Benz  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.