Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs
Miljoen-kerf onbereikbaar?
“Joune, vir ’n winskoop.” Het ons te veel vervaardigers en modelle in die land? Dis ’n warm debat.

Het ons te veel modelle vir ons beperkte mark?

Inderdaad, as jy deur ’n pryslys blaai – of vinnig na jou plaaslike winkelsentrum se parkeerterrein kyk – sal jy ’n string verskillende soorte motors waarneem. Van goedkoop, klein Tatas tot staatskontrak-gehalte weeldewaens.

Daar’s iets vir almal.

My eerste antwoord is gewoonlik die mark sorteer homself uit. Dis bloot ekonomiese beginsels wat geld. As ’n vervaardiger sy boeke kan laat klop deur slegs twee voertuie per maand te verkoop, dan kan hy sekerlik sy deure oophou.

Maar dat dinge vandag swaar trek aan die motorfront, is nie altemit nie.

Vervaardigers bevind hulle vandag tussen die duiwel en die diepblou see: Hy moet ’n handelaar in elke belangrike stad hê. Maar elkeen moet ook winsgewend wees.

Motorinvoere hou nie van ’n pap rand nie. Motorverkoopsmanne hou nie van banke wat hul beursies dig hou nie.

Dit is hierdie voetafdruk op die kaart, soos dit in die bedryf bekend staan, wat baie van die klein spelers seermaak. Een of twee handelaarskappe kan nog winsgewend wees in die groot stede, maar dit is sy kleiner dienssentrums in die Nelspruits, Bloemfonteins en Beaufort-Wesse wat sy balansstaat harde bene laat kou.

Hoe groot moet ons mark dan wees? Hoe groot kan ons raak?

’n Dekade gelede het die land onder ’n vaardige president met ’n meestersgraad in ekonomie en ’n gerespekteerde minister van finansies ’n ekonomiese opbloei beleef. Ons wisselkoers het onder R5,90 teenoor die dollar gedraai, en vir ’n euro het jy slegs R9 opgedok.

Dit was goeie tye. Die ekonomie het gedy. Rentekoerse het afgekom en banke het maklik lenings uitgedeel. Teen daardie wisselkoers kon jy enige voertuig invoer, en steeds met ’n billike prys op die mark plaas.

Skielik het elke jong lat met ’n eerste salaristjek en ’n kamer in sy ouers se huis ’n Golf GTI gekoop. Verkope van nuwe motors het ontplof. Op sy hoogtepunt het ons bokant 700 000 eenhede per jaar gedraai, en is op konferensies gevra: “Is die miljoenkerf eindelik haalbaar?”

Die magiese miljoenkerf. Die SA motorbedryf se ewig ontwykende beminde.

Ten spyte van ’n bloeiende ekonomie en ’n middelklas wat die vrugte gepluk het, was die werkersklas te ongeduldig om te wag vir die voordele om deur te syfer.

Die president is uitgeskop ten gunste van ’n populis – deur einste vakbonde wat deesdae sy bloed eis.

Vandag is ons werkloosheidskoers op sy hoogste, die ekonomie in die doldrums en die wisselkoers ’n tandelose tier.

Motorinvoere hou nie van ’n pap rand nie. Motorverkoopsmanne hou nie van banke wat hul beursies dig hou nie.

As ons gelukkig is, gaan ons vanjaar 400 000 verkope haal. ’n Hersenskim van daardie eens winkende miljoenkerf.

Maar dat dinge vandag swaar trek aan die motorfront, is nie altemit nie.

Terug na ons vloot voertuie in die vertoonlokale. Die verskeidenheid is beslis buitengewoon groot vir die grootte van die mark. Maar twee dinge het sedert ’n dekade gelede gebeur.

Al raak jou ekonomie en wisselkoers papper, kan jou boonste laag van die samelewing sy lewenspeil handhaaf. Groot, goeie maatskappye sorg vir sy mense. Salarisse het relevant gebly, en solank jy vandag ’n goeie werk het, kan jy steeds die groot, duur voertuie bekostig.

Dis minder mense as destyds, maar hulle is steeds daar. Die vervaardigers weet dit, en daarom sal jy steeds duur sportnutse en weeldesedans op die verkooplyste sien, almal vanaf R800 000 en duurder. Op so ’n voertuig maak ’n handelaar genoeg wins om sy boeke te laat klop.

Die tweede aspek was afskaling. Driekwart van ons beskikbare voertuie is klein motors. Sportnutse, luikrûe, sulke goed. Net-net bekostigbaar as jy mooi spaar en ’n billike inkomste het.

Daarom die verskeidenheid voertuie op ons paaie. Dit is logies en nie verkeerd nie.

Die miljoenkerf vir die SA mark? Dis steeds haalbaar, glo ek. Maar dan sal die owerhede eers hul wantroue jeens die kapitalisme moet verloor.

Meer oor:  Ekonomie  |  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.