Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
’n ‘A’ vir Mercedes
06 September 2018

Onthou jy hoe die heel eerste A-klas gelyk het? Die stomp agterstewe en die skerp eendbekkie voor, gewild by pensioentrekkers, en sy beste eienskap die wapen voorop? ’n Paar matige ontrimpelings later stel Mercedes-Benz die derdegenerasie-A-klas in 2012 bekend. Nou’s hy ewe skielik ’n harde ruk-en-rol-ster, met bypassende vering. Motormedia het gehou van die ontwerp, maar gekla oor die ferm rit.

Met die laaste verfrissing in 2015 was daar min veranderings, en die ritgehalte was nie veel sagter nie, tensy jy lugvering sou byvoeg. Maar ten spyte hiervan is die A-klas steeds gewild onder Suid-Afrikaanse kopers, veral vroue.

Kyk net so! Mercedes se nuwe A-klas is nou groter in lyf, maar eindelik ook met ’n heelwat gemakliker rit as vantevore bedeel. Die nuwe klein 1.3-liter het wel vir ons dors gevoel.

’n Draai in die regte rigting?

Vir 2018 se A-klas gooi Mercedes-Benz die appelwa weer heeltemal onderstebo. Die nuwe A-klas lyk soos ’n nuwe motor, en ry ook soos een, danksy verstelbare vering (standaard).

Die ontwerpers se stileringslagspreuk was “sensuele suiwerheid”, en dis te siene in die vloeiende lyne van die koninklike neus, asook hoofligte wat netjies na agter swiep – kompleet asof hulle vir jou wil knipoog.

Die nuwe A-klas skud ook 20 kilo’s af, ten spyte daarvan dat hy effens groter is, meer ruimte binne bied en ’n kattebak het wat 29 liter meer bagasie kan akkommodeer. Dan spog die nuwe A-klas boonop met die laagste sleursyfer in sy segment; glo laer as ’n fietsryer s’n!

Die agteraansig is ongelukkig met minder aandag aangepak – ek vind die peervormige stertligte wat op hul sy gedraai is effens verbeeldingloos. Boonop lyk die onderkant vir my te breed in vergelyking met die bokant.

E- en S-klas-kajuitkombinasie

Die binneruim is ook ten volle geroskam om splinternuut vir 2018 te vertoon. Die knoppiebesaaide stuurwiel, byvoorbeeld, is net so uit die S-klas oorgedra, en die breë raakskerm wat strek tot by die digitale snelheidsmeter en toereteller, vind ook ’n tuiste hier. Dit is nou wel ’n R10 000-opsie, maar dit verskaf die superweelde-gevoel wat jou A-klas laat uitstaan bo die res.

Maar dit is die nuwe MBUX-multimediastelsel (standaard) met bypassende stemaktivering wat die groot nuus is – nou kan jy op ’n natuurlike manier met die stelsel “praat” en dan word jou opdragte (wel, die meeste van hulle) uitgevoer.

Hierdie kunsmatige-intelligensiestelsel is ook veronderstel om jou beter te leer ken, hoe langer jy jou A-klas ry: hoe jy praat, waarheen jy gewoonlik ry, wie jy gereeld bel, en so meer.

Die stelsel kan ook voorstelle maak. As jy na ’n sekere radioprogram luister, sal die stelsel jou vra of jy wil oorskakel na ’n ander stasie. Met behulp van die Mercedes Me-app kan jy ook in ’n japtrap die perfekte restaurant of hotel opspoor, en alles gebeur met die spoed van 4G. Klink dit alles net ’n bietjie te intiem? Jy moet eers toestemming gee vir Mercedes om jou data te deel. Opgradering van die stelsel sal ook oor die lug gebeur.

Die A kry nou sy deftiger nefies se moderne, breë inligtingskerm. Vir ’n paar rand ekstra kan jy sommer ook met die blikbrein “gesels”.

Is dit ’n pyn om te gebruik?

’n Mens sê “Hei Mercedes” om die stelsel te aktiveer, en gee dan jou opdrag. In my geval wou die stelsel net sekere dinge doen. Ek het “haar” gevra om asseblief die voorste venster te ontwasem en “sy” het mooi geluister. Toe ek sê ek kry koud, het “sy” die temperatuur verstel – maar geweier om die radiostasie te verander vanaf 5FM na KFM, of enigiets anders. Gelukkig is daar ook verskeie ander maniere om toegang tot die stelsel te verkry, as jy nie jou asem wil mors nie.

Hoe is die rit?

Op die bekendstelling het ons slegs die A200 gery met sy nuwe 1.3-liter-turbo-enjin wat die ou 1.5-liter-kragbron vervang (en die A250 word nou met ’n nuwe tweeliter-enjin toegerus). Eersgenoemde het net-net genoeg woema, maar is nie die stilste nie, veral as jy skielik vet gee.

In “Comfort”- en “Eco”-modus voel ’n mens amper nie die oneweredige pad onder die wiele nie, en dis ’n heel ruggraat-vriendelike ry-ervaring. Stukke beter as die vorige generasie.

Jy kan ook koebaai sê vir ’n A-klas met ’n handratkas: Van nou af is elke model toegerus met Merc se sewegang- outomatiese ratkas. Dié ratkas was wel effens traag om na ’n hoër rat oor te skakel, ten spyte daarvan dat ons meestal in gemak- of eko-modus gery het. Ons gemiddelde verbruik van 9,0 liter laat ook veel te wense oor.

Wat van standaardtoerusting?

Die A-klas was destyds die eerste motor in sy segment om stabiliteitsbeheer te hê, en die nuutste model is dus glad nie karig toegerus met veiligheidstoerusting nie. Maar jy sal moet opdok vir die outonome stelsels wat self jou ryding om die draaie stuur terwyl jy jou hare in die spieëltjie regruk, of vanself stop en weer wegtrek in swaar verkeer.

Wat jy wél pasella saam met jou nuwe A200 kry, is ’n selfstopfunksie wat die kar tot stilstand bring as ’n vas-aan-die-slaap-fietsryer voor jou inry, byvoorbeeld. Geriefstoerusting soos koordlose koppeling met jou slimfoon is by die prys ingesluit, so ook ’n banddruk-monitor en spoedbeheer.

Wil ek een hê vir die volgende vyf jaar (of meer)?

Ek is gaande oor die nuwe A-klas se stilering. Dis weelderig, gesofistikeerd, en lyk boonop peperduur. Maar as dit by die outonome stelsels kom, kan niemand nog kers vashou by die gebruiksvriendelikheid van Volvo nie. En waar die A-klas se kajuit my oorweldig met al sy knoppies, blink oppervlakke en raakskerms, stel die Volvo se binneruim my op my gemak en verlaag oombliklik my stresvlakke. Die intreevlak-V40 mag dalk nie dieselfde rolprentster-voorkoms as die A hê nie, maar hy kos ’n hele R100 000 minder . . .

  • Die nuwe A-klas-sedan, sowel as die dieselmodelle, sal hul verskyning in 2019 maak.
Meer oor:  Mercedes-Benz  |  Nuwe Model
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.