Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
’n Defender vir die nuwe geslag

Dit was een van die moeilikste take wat Gerry McGovern en sy span ontwerpers by Land Rover nog gehad het: om ’n opvolger vir die ikoniese Defender te ontwerp.

Die hardebaard-veldryer het oor sy meer as ses dekades op die wêreld se agterpaaie ’n getroue gevolg opgebou, wat straks meer aan fanaties as rasioneel grens.

Die mark se smaak het egter verander. Ook die tegnologie, en owerhede se wetvereistes. Dit het gemaak dat Land Rover twee jaar gelede reeds sy bekende en geliefde Defender se produksie moes staak. Om hom meganies op te gradeer om aan moderne vereistes te voldoen, sou net te duur wees. Verkope het ook maar stadigaan begin daal.

Getrou genoeg aan die oorspronklike om die ondersteuners tevrede te hou? Daar sal twee bakweergawes van die nuwe Land Rover Defender te kry wees. Die kortas-“90” sal ’n vyfsitplekker wees, terwyl die langer “110” ’n sewesitplekker is.

Die nuweling sou dus altyd die klassieke Camel Man-voorkoms moes afskud en eerder iets meer van ’n sagte sportnuts moes aanneem. Die hardebaard veldryers is werklik ver in die minderheid.

As ’n kompromis het McGovern en sy span egter goed gedoen. Foto’s doen nie reg aan die nuwe Defender se erkenning aan sy voorganger nie. Die lyne is onmiskenbaar meer gerond en dus moderner gemaak, en meer vrouekoper-vriendelik.

Maar in ’n slim skuif het McGovern-hulle vier pakkette vir die Defender ontwikkel waaruit jy sal kan kies (Explorer, Adventure, Country en Urban). Die pakkette bied hom werklik vier individuele voorkomste, van wie die Explorer met sy wit staalwiele in hul tradisionele ontwerp hom baie na sy legendariese voorganger lyk.

Die hoekige lyne binne is behou, maar materiale en toerusting is so reg uit die 21ste eeu.

Die reeks sal ook weer eens uit ’n 90-kortas en ’n 110-langas bestaan. Maar, hierdie keer het die syfers niks met ware asafstande uit te waai nie, aangesien dié nou gegroei het en hy nou langer is. Dis die ander vereiste van die moderne koper, die voertuig moet prakties en gemaklik binne wees.

Daarom is die 90 nou ’n 5- of 6-sitplekker, en die 110 ’n 5- of 7-sitplekker met drie rye sitplekke. Die sesde sitplek is ’n klein stoeltjie wat tussen die twee voorste sitplekke inpas.

Alhoewel die Defender nou op ’n nuwe onderstel ry, is hy steeds van aluminium gemaak. Die groep se Ingenium-familie van enjins (2.0-liter-turbo’s, met vier silinders, waar beide die petrol- as dieselenjin dieselfde silinderblok deel) sal saam met ’n 3.0-liter-diesel die modelle aandryf.

Vierwielvastrap en ’n sluitewenaar op die agteras is standaard, tesame met ’n goeie grondvryhoogte en veral goeie nader- en vertrekhoeke.

Land Rover het ook sy toegang tot die groep se jongste tegnologie goed benut. Daar sal voorafgeprogrammeerde ritstelsels wees, asook kameras onder by die neus wat jou ’n beeld gee wat dit laat lyk asof jy deur die enjinkap kyk na waar jy jou wiele wil plaas.

Die nuwe Defender sal vroeg volgende jaar na Suid-Afrika kom met pryse wat nader aan die tyd bekend gemaak sal word.

Meer oor:  Nuwe Model  |  Land Rover Defender  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.