Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
’n Fris bus vir lekker rus

Mercedes het pas die eerste foto’s gewys van sy opgeknapte Vito-bus wat hy vroeg aanstaande maand amptelik op die Geneefse motorskou in Switserland bekend gaan stel.

Plaaslik is die Vito taamlik skaars op ons paaie, bes moontlik omdat sy prys al by ’n miljoen rand draai. Maar bygesê, dit is die prys waarteen sulke groot toerbusse deesdae almal verhandel.

Oorsee is die Vito egter heel gewild, veral sy toerweergawe die Marco Polo. Die toerbus se dak kan oplig vir ’n gerieflike slaapbank bo in die dak, en daar is ook ’n ingeboude kombuis en uittrek-tafeltjie in die kajuit.

Mercedes wys aanstaande maand sy opgeknapte Vito-bus op die Genève-motorskou. Jy skud die sak deesdae behoorlik vir so ’n bussie, maar hy is ingerig vir ’n koning op safari.

Die agterste sitplekke kan ook omdraai sodat almal na mekaar kan sit en kyk as hulle by die tafel aansit. Aan die buitekant van die voertuig is ’n breë oprol-afdak vasgemaak vir heerlike skadu wanneer jy wil kampeer.

Vir die opknapping het Mercedes heelwat by sy gesinsmotors gaan afkyk. Die Vito kry ’n nuwe rooster en buffer voor, asook ’n nuwe buffer agter. Veral treffend is die nuwe AMG-Line wat nou ook vir die bussie te kry is, en nie net vir die gesinsmotors nie.

Die AMG-Line bied jou ’n prominente rooster met die enkele, dik chroomstaaf wat van kant tot kant strek met ’n groot ster-kenteken in die middel. Op die agtergrond is die chroompennetjies wat ’n driedimensionele sterretjiebeeld skep as jy na die neus kyk.

Ander opknappings is die groter 19-duim-vellings en twee nuwe bakwerkkleure, grys en rooi. Binnelangs kry topmodelle ’n mooi, nuwe leerafwerking in ’n ligter bruin as vantevore. Die instrumentpaneel is een groot, vloeiende konsole afgewerk met ’n donker hout wat sowel treffend as weelderig voorkom.

Die instrumente lyk treffend in die skoon uitleg. Let op die vloeiende lyne en gladde oppervlakke.

Ons hou ook van die stomp rathefboom wat hoog in die middel geplaas is, omring deur vloeiende lyne. Selfs die luginlate is herontwerp en kry nou ’n turbine-voorkoms.

Nog ’n byvoeging tot die modelreeks is die nuwe Exclusive Line-afwerkingspakket. Dit bied jou S-klas-tipe gemak en gerief, sê Mercedes, danksy die tweede ry sitplekke wat nou individueel agteroor kan platlê en ook ’n masseerfunksie het.

Dis mos nou ’n bus om in te rus! Die toerweergawe van die Vito bied jou ’n opslaandak met ekstra slaapplek, ’n uitrol-afdak en ’n ingerigte kombuis met ’n opslaantafel en stoele wat na mekaar kyk.

Onder die enjinkap het Mercedes sy jongste tweeliterdiesel in die bussie geplaas. Die viersilindereenheid is in twee kragvlakke te kry: Die V250d bied jou 140 kW en 440 Nm wringkrag, en die V300d skop 176 kW en 500 Nm wringkrag los. Daar is ook 30 Nm ekstra vir ’n kort rukkie beskikbaar sou jy die lepel diep plant om ’n bus verby te steek.

Krag gaan danksy die groep se jongste negegang- outomatiese ratkas na die agterwiele. Geriefs- en veiligheidsitems wat voortaan as standaard ingesluit is, sluit in ’n wakkerbly-gonser wat seker maak dat jy nie agter die stuur indut nie, asook dwarswind-hulp wat jou voertuig help stabiliseer as die sleepwa in ’n dwarswind begin rondswaai agter jou.

’n Selfstop-funksie wat aktief is in stadstoestande kan bykomend aangevra word, net soos slim LED-hoofligte wat vanself om draaie kan belig, of die hoofstraal se LED-bondels stelselmatig verdof namate ’n voertuig naderkom om die bestuurder nie te verblind nie.

Die opgeknapte Vito sal die einde van die jaar na die plaas­like mark kom, met pryse wat straks net bokant die R1 miljoen-merk sal staan.

Meer oor:  Mercedes Benz  |  Oos-Kaap Naweek  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.