Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
’n G-klas vir die 21ste eeu

Hoe vervang jy ’n legendariese voertuig, een met ’n stamboom wat oor dekades strek, met ’n heel nuwe, moderne weergawe? Dit is die dilemma waarmee Mercedes met sy G-klas, oftewel Geländewagen, sit. Hy word al sedert 1979 vervaardig en is Mercedes se model wat die langste in produksie is. Oor die jare heen was daar verskeie meganiese en kosmetiese verbeterings, maar min van sy basiese DNS het verander.

Met sy kenmerkende, bokserige ontwerp en bewese veldryvermoë het hy ’n getroue gevolg opgebou, ook as statussimbool.

Nostalgie kan egter jou vriend of vyand wees – wyk te veel af van die oorspronklike en kopers kan hul neus optrek vir jou nuwe, moderne interpretasie van hul geliefde ryding. G-klas-aanhangers kan egter ontspan, Mercedes het bitter min getorring aan die G-klas se ikoniese ontwerp, al is die tekenbord vir die eerste keer in byna 40 jaar nadergetrek.

Nee, ons trek nie jou been nie, hierdie is inderdaad Mercedes se heel nuwe G-klas. Hy is van bo tot onder nuut, al lyk dit nie so nie.

Dis évolusie, nie révolusie

Mercedes het dalk katvoet geloop met die buitestilering van die G-klas, maar moenie dat dit jou mislei nie. Hy is van bo tot onder ’n nuwe voertuig met byna elke paneel en onderdeel wat nuut of herontwerp is. Daar word nou ruimskoots van aluminium in die bakwerk gebruik gemaak, asook hoësterktestaal, wat die voordeel bied van beter wringweerstand, asook ’n gewigbesparing van ongeveer 170 kg.

Die G-klas het in alle rigtings gegroei en is nou 10 cm langer, 12 cm breër en 4 cm hoër. Die leerraamonderstel het behoue gebly, maar is nou meer rigied. Die veerstelsel is egter heeltemal nuut. Die soliede voorste as van
vroeër is met onafhanklike dubbele mikvering vervang, gekombineer met ’n nuwe vyfskakelontwerp vir die rigie­de agteras. Die G-klas het ook die moderne era betree met ’n nuwe elektriese stuurstelsel. Dinge spring sommer met ’n knal weg in die vorm van die G63 AMG-vuurvreter, die enigste model wat aanvanklik beskikbaar is. Die makker, sinvoller G350d word volgende jaar in die tweede helfte verwag.

Die G63 AMG lag egter in die gesig van enigiets wat met sinvolheid te make het. Mercedes het die vorige model se 5.5-liter-V8-biturbo-petrolbrander met ’n 4-liter-V8-biturbo-petrolenjin vervang wat ’n allemintige 430 kW en 850 Nm (10 kW en 90 Nm meer as voorheen) uitskop. Dit word gekombineer met ’n negegang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaartipe) waarvan die sagteware gekalibreer is vir flinker ratwisseling.

Laat ons nie doekies omdraai nie, die G63 is verspot vinnig en kragtig. As jy die petrolpedaal trap, word ’n leeu onder die enjinkap losgelaat en wat daarop volg, is ’n stormloop.

Koel kwadraat

Bitter min het buitelangs verander. Die G63 is steeds ’n vierkantige ryding met die aërodinamika van ’n baksteen, maar dit is die hele punt. Torring te veel aan ’n ikoniese ontwerp en jy gaan die G63-aanhangers die josie in maak. Die kenmerkende skarniere by die deure, die beskermingstrook aan die sykante, uitstaan-flikkerligte by die enjinkap en spaarwiel wat agter vasgeskroef is, is alles steeds daar, asook die soliede klank van die deure as jy hulle toemaak.

Die grootste veranderinge is aan die voorkant te bespeur. Die vooraansig is minder hoekig danksy egaliger lyne en die voorste ligte wat teen ’n skuinser hoek is. Die hoofligte word deur LED’s omlyn. Die AMG het ’n paar ontwerpdetails wat hom as topmodel onderskei, soos breër wielboë, ’n AMG-rooster met vertikale hortjies en voorste buffer met groter lugopeninge weerskante, asook die dubbele alumi­nium-kanonlope weerskante by die agterdeur.

Welkom in eerste klas

Terwyl min aan die buitekant verander het, het die G-klas ’n 180°-draai aan die binnekant gemaak. Die instrumentpaneel is heeltemal nuut met ’n groot digitale skerm wat ’n magdom inligting en nutsfunksies bied, net soos wat jy in die S-klas sal vind.

Die sportstuurwiel met sy raakoppervlak waarmee jy die verskillende funksies beheer, kom ook net so uit die S-klas. Tog is daar ’n paar elemente van ouds wat behoue gebly het, soos die gryphandvatsel reg voor die voorste passasier, asook die drie skakelaars vir die sluitewenaars.

Soos te wagte is daar g’n tekort aan luukshede en bestuurderhulpmiddels nie. Die heelwat chroomdetails, asook koolstofvesel-beslag plek-plek, lyk nie net fraai nie, maar ook sportief, en daar is leer en nogmaals leer. Die G-klas se groter buite-afmetings beteken dat die voorste en agterste insittendes nou ’n paar sentimeter se ekstra been- en skouerruimte kan geniet.

’n Paar pêre onder jou voet

Die binneruim is ’n weelderige gedoente. Hier is hy in Edition 1-gedaante met ekstra rooi tooisels.

Laat ons nie doekies omdraai nie, die G63 is verspot vinnig en kragtig. As jy die petrolpedaal trap, word ’n leeu onder die enjinkap losgelaat en wat daarop volg, is ’n stormloop. Daar is bitter min wieltol danksy die elektronika terwyl die G63 soos ’n vuurpyl vorentoe lanseer en die outo’kas blitsig deur al nege ratte draf – sportmotorverrigting in ’n groot, swaar en regop 4x4.

Ten spyte van sy hoë, bonkige profiel, hoef jy darem nie ’n skietgebedjie op te sê as jy ’n draai wil aanpak nie. Die G63 is heel rats met relatief min bak­rol vir sy grootte, deels danksy die elektronies aanpasbare veerstelsel en die akkurate stuurgevoel, maar hy is beslis g’n sportmotor nie. Die bestuurder kan uit vyf ritmodusse kies wat wissel van ’n gerieflike verstelling tot sportief.

Die rit is taamlik ferm in die sportverstelling, maar andersins heel aangenaam en absorberend.

Die veld is natuurlik die G-klas se tweede tuiste. Hier is daar ook in byna elke aspek verbeterings, insluitend ’n grondvryhoogte van 24 cm en waaddiepte van 70 cm. Daar is drie modusse vir veldrywerk, “Sand”, “Trail” en “Rock”. Die vierwielstelsel het ’n kragverdeling van 40% voor en 60% agter en soos voorheen is daar ook drie sluitewenaars (vooras, middel en agteras) wat jy individueel en in die ry kan aktiveer.

Afsaal

Dit is sinneloos om die G-klas met moderne ontwerpneigings te meet, want hy’s in ’n klas van sy eie. Onder die vel is hy egter ’n splinternuwe voertuig en aansienlik meer verfynd en modern as voorheen. In G63-gewaad is hy ’n gedierte van ’n ander aard wat nie vir die streng rasionele koper bedoel is nie. Maar pret is hy gewis. Hy sal waarskynlik nooit die wildernis sien nie, maar sy terrein is die teerpad, waar hy op blitsbukse en ander sportiewe rygoed jag maak.

Meer oor:  Mercedes Benz  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.