Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
’n Lewe deur die kantvenster
Nissan se 370Z – die manne wat weet sê hy ry sywaarts net so vinnig as neus eerste. Foto: Marnus Hattingh

Verlede week, tydens Nissan se bekendstelling van sy 370Z, het ’n venster oopgegaan op die skaduwêreld van glyry.

Glyry – hoe’s daai vir ’n lekker nuwe Afrikaanse woord? Dis nou hierdie kêrels wat hul motor se stert laat uitswaai as hulle om ’n draai jaag, en die agterwiele so tol jy kan as ’n skim-inskrywing vir SA Braaimaster vergis word.

Dis inderwaarheid ’n groot sport. Die klomp het hul eie nasionale reeks: Vir ses maande in die jaar gaan gly hulle een keer ’n maand in die land se grootste stede so boude vorentoe om die baan.

Die voorloper in die reeks was juis by Nissan se bekendstelling. Hoekom? Want hy ding met ’n 350Z mee.

“Yster”, is hoe hy sy “Z” beskryf as hy met ’n fluweellap oor die deur se ruit vee. Dis die skoonste venster in die hele kar. Dis waar hy vorentoe kyk as hy jaag.

Die glyryers het ons gewys hoe jy nou eintlik die motor dwars kry – en hou – as jy vorentoe wil ry. Dis nie so maklik nie. Knight Rider, James Bond, die Transporter, al daardie hardekwas snare van Hollywood gebruik professionele bestuurders om so lepellê deur die stegies te slinger.

Dit gaan als oor daardie V6 onder die ’kap, man.

Die huis-toe-neem-les vir die dag? Basies moet jy jou innerlike Lewis Hamilton in ’n rooi toerbus sit en jouself soos die beste minibustaxibestuurder gedra. Maar sonder om te stop as jy iets interessants langs die pad gewaar.

Daar’s ’n rede waarom die meeste deelnemers in glyry vandag steeds met ou Nissan 350Z’s jaag. Dit gaan als oor daardie V6 onder die ’kap, man.

Jy gaan lank en hard soek om iets te kry wat die nodige verplasing het (drie en ’n halwe liter, in die Z se geval). Plus die goeie maniere om nie te kla as jy hom tot 8 000 toere druk – en daar hou – nie.

En dan is daar die nuttige kenmerk dat die Z perfek gebalanseer is: 50% van die gewig op die vooras, 50% op die agteras. Die glyry-ouens hou hiervan. Dit maak stert uitswaai makliker.

Hierdie vet-ses van Nissan is ’n uitgeslape kalant. Die enjin het sy lewe dekades gelede begin as ’n drieliter, en as jy vandag nog ’n ou Maxima het, sal jy weet dis dieselfde enjin as waarvan ons praat.

Op sy dag is hierdie drieliter aangewys as die Wêreldenjin van die Jaar. Streelsag soos dit ’n V6 betaam, maar ook gematig in sy geaardheid en met hope krag.

Later het Nissan hom uitgebou tot ’n 3.5-liter, soos jy hom in die Murano-sportnuts en die ou 350Z sal kry. En vandag is hy ’n 3.7-liter, gewillig om die toerenaald hoog te laat vibreer tot net duskant jou armholtes.

Dis interessant hoe onbekend ’n handelsmerk se sterk punte soms in ’n mark kan wees.

Maar dit gaan hom min baat. Want hy het – vir die Suid-Afrikaanse mark – die verkeerde kenteken op sy neus.

Verlede week het ek Mitsubi­shi se nuwe Pajero Sport gery, die groep se hardebaard-sportnuts wat op die Triton-bakkie se onderstel geskoei is.

So puik en veelsydig as wat die nuwe Pajero Sport is, gaan hy plaaslik steeds nie goed verkoop nie – want hy ding met die geliefde Toyota Fortuner mee.

Ek het die nuwe Pajero terdeë geniet. Sy stilering is strate beter as sy voorganger s’n, sy veldryvermoë is van die boonste rak en sy sitplekke se kuns om soos ’n Roemeense gimnas op ses plekke dubbel te vou is bloot ligjare verwyder van wat die starre Fortuner kan bied.

Maar dit gaan hom min baat. Want hy het – vir die Suid-Afrikaanse mark – die verkeerde kenteken op sy neus.

Ek is seker Pajero-eienaars wat al die veraf stofpaaie van die vasteland met hul vuur­waens aangedurf het, sal nie weer na iets anders kyk nie.

Maar net soos met die glyry-kêrels van die asbane vertaal binnekennis nie noodwendig na ’n breë bewustheid in die mark nie.

Plus, die bemarkingsveldtogte gaan fokus op “sagte” kenmerke, soos slim selfparkeertruuks of ’n ekstragroot sondak.

Welkom se ou registrasienommer was OKE – Ons Ken Enjins. As ek ’n Nissan- of Mitsubishi-handelaar was, het ek dit op my voordeur geplak.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.