Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
’n Megane vir haastig rondgaan

Hier aan die stertkant van die Covid-19-pandemie het Renault ’n giftige ding van sy eie na die land gebring: die groep se nuwe Megane RS Trophy 300.

Nou, dis ’n wilde naam vir ’n wilde ryding. Maar kortliks is dit die sportiewe weergawe van die sportiewe weergawe. As jy verstaan wat die Franse bedoel.

Net om die geheue te verfris: Ons het in 2018 die RS Lux en die RS Cup gekry – die warm Megane met ’n 1.8-liter-turbo en 205 kW en 390 Nm onder die regtervoet.

Nou het die Franse hul Trophy-naam afgestof en op die Megane se stert geplak, plus so ’n paar ekstra speelgoed om hom ’n aks vinniger en meer spesiaal in voorkoms (binne en buite) te maak.

Kyk, die nuwe Renault Megane RS Trophy laat die koppe draai by enige plek waar jy stilhou. Foto: Marnus Hattingh

Dit is straks meer ’n bemarkingsoefening as ware vernuwing of opknapping, want die verskille is matig. Maar die Trophy-naam het soveel waarde dat kopers sal wag en dan die hand diep in die sak steek om net daardie spesifieke model in die hande te kry.

Bygesê, Renault maak die pap ook dik aan deurdat hy slegs ’n handvol Trophy-modelle bou.

Trouens, Suid-Afrika kry net sewe modelle. So, jou Renault is nogals uniek.

Lig op die kap

Wat het Renault als gedoen? Die 1.8-liter is behou, maar danksy ’n paar plooie regtrek lewer hy nou 223 kW en 420 Nm wringkrag – mits jy die dubbelkoppelaar-ratkas kies. Tik jy die kassie vir die sesgang-handrat moet die enjin makker gemaak word om al daardie kragte te kan weerstaan en lewer hy 223 kW en 400 Nm wring.

Vir ’n een-punt-agt is dit inderdaad puik kragsyfers. Beter, of vergelykbaar, met talle tweeliter-turbo’s in die blitsbuks-segment. Saam met die warmer enjin bied jou spesiale Trophy ook ’n skakelaar in die kajuit waarmee jy ’n klep in die uitlaat kan manipuleer om ’n dieper grom te laat opklink as jy vetgee.

Gaaf, maar wérk dit?

Dis eintlik ’n handvol klein aanpassings, elkeen hier en daar, wat Renault aangebring het. Die somtotaal bied inderdaad ’n voortreflike ryding – as jy in Brittanje bly.

Dié Megane is wat die Britte noem ’n track toy. Dis ’n aktiwiteit wat baie gewild onder die Britte is en ’n blits soos die Megane Trophy en Honda se Civic Type-R word pasgemaak vir hierdie nismark.

Klipharde vering, diep sportsitplekke met geïntegreerde kopstutte en ’n geskulpte rugleuning, alcantara in die bekleedsel en die rooi streep op 12-uur op die stuurwiel. Dis als kenmerke van ’n blitsbuks waarmee jong knape bietjie op die renbaan wil gaan speel. Selfs die ritrekenaar is daarvoor aangepas: Wip tussen die tuimelkassies deur en jy vind ’n skerm wat al jou krag- en wringkrag-grafieke wys, asook jou G-kragte en rondtetye.

Lekker, maar . . .

Meganies is die Megane ’n kragtoer. Die ingenieurs het uit ’n 1.8-liter ’n kishou losgetoor.

Vierwiel-stuuraksie, sluitewenaar op die vooras en die vering . . . Ah, die vering.

As jy in Suid-Afrika woon, maak maar vriende met jou tandarts. Die voertuig is geveer vir blitstye om die renbaan. By jou veiligheidskompleks se inrit of die spoedwal voor die supermark gaan jy elke knik soos ’n Duane Vermeulen-duikslag voel.

Nog iets wat opvallend is, is die ratkas. Ons toetsmodel was die sesgang-handrat, maar sy ratte is so kort (vir daardie gespeel om die renbaan, waar jy tussen tweede en vierde bly grom) dat jy voel jy oefen vir die Dusi. Só flink moet jy voortdurend roei met die koppelaar en rathefboom tussen elke verkeerslig.

Afsaal

Kyk, al skryf ons ook wát oor die Trophy, dit maak nie ’n duit saak nie. Daar kom net sewe modelle na die land en al sewe het reeds eienaars gevind. Dis ’n heerlike klein blitsbuks met ’n magdom energie onder jou regtervoet. Vir ons mark? Dalk nie so perfek nie.

Maar vir die aanhangers gaan dit soos ou-oom-praatjies klink.

Prys: Renault Megane RS Trophy – R774 900.

Meer oor:  Megane  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.