Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
’n Q3 vir kerjakker, Mevrou?

Die laaste dekade of wat het Audi wat stilering betref in ’n groef geval. Dit is nogal moeilik om opgewonde te raak oor ’n nuwe model as hy visueel nie veel van sy voorganger verskil nie. Korporatiewe ontwerp is dalk deels te blameer, maar dit is ’n strategie wat die meeste vervaardigers maar volg. Dan en wan is dit egter nodig om daardie strategie te hersien en in ’n ander rigting te stuur. Daar blyk nou ’n opflikkering by dié Ingolstadtse vervaardiger te wees.

Ons het ’n voorsmakie daarvan gekry met die Q2, wat op jonger kopers gemik is, en vroeër vanjaar was die koms van die Q8 ’n duideliker bevestiging daarvan. Die Q3, wat in 2012 sy verskyning gemaak het, is die nuutste model wat sy spiere bult met hierdie, durf ons sê, meer opwindende voorkoms.

Gits, met sy fyn besnede voorkoms het die nuwe Q3 meer visuele trefkrag as ’n Mike Tyson-uitklophou.

Nuwe platform, nuwe Q3

Die nuwe model word op Audi se MQB-platform gebou wat hy onder meer met Volkswagen se Tiguan deel. Dit het Audi in staat gestel om hom 10 cm langer te maak met ’n asafstand wat met 8 cm gerek is. Hy is ook 2 cm breër, maar ’n aks laer as sy voorganger.

’n Groter verskeidenheid enjins word later verwag, maar vir nou sal Suid-Afrikaanse kopers tevrede moet wees met die welbekende 1.4 TFSI-turbo-petrolenjin (110 kW, 250 Nm) wat algemeen gebruik word in die Volkswagen-stal, gekombineer met ’n sesgang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaar-tipe).

Krag gaan na die voorwiele, dus ook g’n Quattro-vierwielaandrywing nie. Daar is drie afwerkings beskikbaar ­– Standard, Advanced Line en S Line – elk met verskillende tooisels buite om hulle van mekaar te onderskei.

’n Sportback-model, soortgelyk aan die Q8, met ’n koepee-agtige vorm, kom volgende jaar, asook ’n witwarm RS-model.

Die moderne binneruim vat raak met talle interessante ont­werpelemente.

Vaaljan tot blink-Stefaans

Daar is min dinge so mooi soos kurwes op die regte plek en dit lyk of die Q3 in sy nuwe gewaad ’n bietjie gewigoefeninge gedoen het. Die vorige model se meestal reguit lyne is vervang met ’n meer gespierde lyf. Daardie “spiere”, of uitgeboude wielboë, is ’n terugverwysing na die eerste Quattro van die 1980’s en figureer ook in die Q8. Nog iets wat die Q3 en Q8 in gemeen het, is die agtkantige rooster wat die vooraansig domineer en binne deur agt vertikale latte verdeel word.

Die voor- en agterligte het ’n soortgelyke wigvormige voorkoms met die netjiese LED-patroon wat van die kant af gesien ’n simmetriese beeld vorm. Die vorige model se effens vreemde geronde agterkant behoort tot die verlede, danksy duideliker gedefinieerde lyne wat meer dinamies en sportief vertoon.

Genadiglik het die agterkap ook nou ’n meer tradisionele ontwerp. Dit het voorheen die hele ligkombinasie ingesluit wat ’n onooglike gat gelaat het as jy die agterkap oopmaak.

Soos ’n vars bries

Dit is nie net aan die buitekant wat die Q3 meer koppe sal laat draai nie. Dit lyk of hy aan die binnekant ook uit sy gemaksone geklim het met ’n moderne instrumentpaneel met interessante vorms en lyne waarby jonger kopers ook meer aanklank sal vind.

Die instrumentpaneel word deur twee vlakke verdeel met die luginlate wat in die boonste vlak gehuisves word en die raakskerm en kontroles vir die lugversorging onderaan.

Tussen-in is ’n plat uitstaan-oppervlak wat met Alcantara-materiaal oorgetrek is vir ’n tikkie eksentrisiteit.

Die groter raakskerm is ’n groot verbetering op sy voorganger se klein eenheid wat soos ’n nagedagte uitgestaan het. Die beeld is helder en die werking gerieflik. Apple CarPlay en Android Auto is ook beskikbaar vir integrering met jou foon.

Die instrumentasie voor die bestuurder is ten volle digitaal, maar Audi se Virtual Cockpit en Virtual Cockpit Plus met verskeie ekstra funksies is ook opsioneel beskikbaar.

Danksy die langer asafstand is daar nou meer beenruimte agter. Boonop kan die agtersitplek 15 cm vorentoe en agtertoe skuif wat die bagasieruim se volume van 530 liter tot 675 liter kan ver- groot.

Audi het sy lang lys opsionele ekstras vereenvoudig en in ses pakkette gekombineer wat op verskillende voorkeure fokus, soos gerief, tegnologie en sportiwiteit. Van die opsionele ekstras is steeds afsonderlik beskikbaar.

Maak die litte los

Die 1.4-liter-enjin gaan nie jou oë laat rek met sy verrigting nie, maar sy kraglewering is meer as voldoende vir die meeste padomstandighede en kan selfs met die opsionele Drive Select se sport-modus redelik sportief voel. Die sesgang-’kas verrig ook sy taak met die nodige ywer. Ons het die Q3 oor ’n wye verskeidenheid paaie gery, wat heelwat grondpad ingesluit het, en ten spyte van ’n gebrek aan Quattro-vierwielaandrywing het die Q3 selde ’n voet verkeerd gesit.

Die ritgehalte neig na die ferm kant, maar is absorberend genoeg vir die meeste padoppervlakke en dis slegs oor slegte, geriffelde grondpad waar die vering soms uitgevang word en stampe die kajuit binnedring.

Die Q3 se hantering het ook beïndruk op die bergpasse wat deel uitgemaak het van die roete.

As jy egter sy hantering verder wil opskerp, kan jy die opsionele sportvering op jou bestelling afmerk.

Slotsom

Die nuwe Q3 kan nou met sy opwindender voorkoms uiteindelik die kollig by modebewuste mededingers soos die BMW X1, Mercedes GLA en Volvo XC40 steel.

Sy byderwetse binneruim behoort ook ’n goedkeurende kopknik by die jonger geslag te kry, terwyl Audi se tradisionele waardes soos soliede werkmanskap en topgehalte steeds in plek is. Hy is goed geprys, maar jy gaan moet hoes as jy al die lekker speelgoed wil hê. ’n Warmer enjin of twee sal ook bydra tot sy aantrekkingskrag.

Meer oor:  Nuwe Model  |  Motors  |  Toetsbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.