Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
’n Sprite, ’n braai, en ’n Hilux

Volpunte aan Toyota vir sy slim bemarkingsveldtog tydens die pas afgelope Dakar-uithouren.

Kyk, ons almal weet jy neem net aan so ’n grootse, duur ren deel om jou staal as vervaardiger ten toon te stel. Die truuk is egter om daardie winste op die renbaan as ’n bemarkbare boodskap aan Jan Publiek oor te dra.

Toyota se heerlike nuwe TV-advertensie bied ’n tipiese kamptoneel (Sprite-woonwa, skottelbraai) wat sy Hilux-teikenmark dadelik sal herken.

Vandag is dit kennelik makliker, danksy grootskaalse TV-dekking en opdaterings op sosiale media. Elke dag en elke minuut weet ons hoe ver is Nasser en Carlos van mekaar af.

Twee goed het egter vir Knormoer uitgestaan. Vanjaar het Toyota ’n direkte koppeling met steun vir sy span en steun vir die land gemaak: “Back South Africa, Back Team Hilux”.

Dus, as jy vir Nasser en Giniel skree, steun jy ook die land. Dalk iets van die Bokke se Wêreldbeker-glorie wat deurgesyfer het? Hoe ook al, dit was slim en suksesvol.

Hoekom slim? Want kyk na die bewoording: Back Team Hilux. Die formele spanbenaming is Toyota Gazoo Racing. Toyota doen groot moeite in elke persverklaring om daardie naam so, volledig, uit te skryf. In elke sin.

Maar hy weet dat wat hy probeer bereik, is om meer bakkies te verkoop. Hiluxe. Daarom is die treflyn kort en kragtig, en benut dit terminologie waarmee sy teikenmark vertroud is: Team Hilux. Nie daardie esoteriese skepping uit Tokio, Team Toyota Gazoo Racing, nie.

Die ander ding wat Knormoer opgeval het, was daardie heerlike TV-advertensie waar Giniel de Villiers in sy woonwa sit tydens ’n oefensessie in die duine. ’n Drietal meerkatte jaag dan met sy Hilux rond, terwyl hy in sy woonwa toegesluit sit.

Ook hier is die bemarking baie fyn beplan. Kyk na die toneeltjie. Dit is ikonies daardie woonwa wat jy Kersvakansie by Hartenbos gaan waarneem.

Dis ’n ou Sprite-woonwa. Buite staan ’n paar seil-kampstoeltjies. Daar’s ’n tafeltjie en ’n afdakkie. Die toneel is herkenbaar vir elkeen wat koeksisters eet, kerkbasaar toe gaan en Afrikaans praat.

Weer eens, dit is die teikenmark waarop Toyota fokus. Die mense wat hy hoop nog meer van sy Hiluxe sal koop.

  • Dis goed om te sien daar is nog ’n (groot) vervaardiger wat omgee vir die Afrikaanse koper.

Gaan dié ding werk?

So van veldrenne gepraat. Knormoer sien ’n voorlopige kalender is pas bekend gestel vir die nuwe Formule E Extreme-reeks wat volgende jaar moet afskop.

Dieselfde mense wat agter die bestaande Formule E-reeks vir elektriese renmotors sit, beplan hierdie nuwe reeks vir sportnutse. Elke span kry ’n onderstel en ’n elektriese, batterygedrewe aandryfstelsel, maar kan sy eie bakwerk op die lyf pas.

Die kalender het nog net vyf plekke op sy rooster, maar dit behels eksotiese bestemmings soos Groenland, Brasilië, Nepal en Senegal.

Dis nog redelik onduidelik hoe als gaan werk, maar basies gaan ’n paar e-sportnutse ’n paar rondtes om ’n lang grondpad-renbaan jaag.

Met sulke vreemde bestemmings wonder Knormoer watter toeskouers vir hierdie byeenkomste gaan opdaag. Dan wonder Knormoer ook as die huidige WRX-renne alreeds die kreeftegang gaan, hoe gaan so ’n nuwe reeks (met minder aspekte tot sy voordeel) suksesvol wees?

  • Hierdie ding se batterye gaan pap word nog voor hy behoorlik weggetrek het, sê Knormoer nou.

Intussen, in Australië

Die prys vir die vreemdste poets – ten koste van jouself – moet gaan aan ’n Australiër wat pas na sy plaaslike drankwinkel gery het in ’n Ford Laser wat soos ’n swembad met water gevul was. Dit was glo baie warm.

Die kêrel is intussen vir roekelose bestuur gearresteer, kort nadat hy ’n video van sy rit op YouTube gesit het.

  • Wel, blok myself, mate.
Meer oor:  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.