Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
’n Tucson vir die toekoms

Jy sal nog so ’n jaar moet wag, maar dit behoort die moeite werd te wees as ons net na die foto’s kyk van Hyundai se nuwe Tucson wat hy pas uitgereik het.

Die vierde Tucson (daar was ’n tyd dat hy by ons, asook in sommige oorsese markte, as die ix35 bemark is, terwyl Amerika strykdeur die Tucson-naam behou het) kom met ’n nuwe platform, ’n groter lyf en, straks die belangrikste, ’n werklik dinamiese en moderne voorkoms.

Die groep se 45-skoumotor van verlede jaar dié tyd in Frankfurt het gewis ’n groot rol in sy ontwerp gespeel. Die 45 het sy naam ontleen aan die konsepmodel se talle skuins hoeke, lyne en oppervlakke wat met ’n treffende 45°-hoek gespog het. Kyk ’n mens na die nuwe Tucson herken jy dadelik daardie skuins lyne by die deure, die misligte en die C-pilaar.

Dit als bied die nuwe Tucson ’n vars en moderne aanslag op die middelslag-sportnutssegment. Dis ’n segment wat die laaste tyd al hoe konserwatiewer geraak het in sy voorkoms. Dink maar aan die Toyota RAV4, die Volvo XC60 en die VW Tiguan, om maar enkele te noem.

Dis mos ’n segment-wakkerskrik-sportnuts hierdie! Hyundai se nuwe Tucson beloof ’n moderne voorkoms vol skerp aksente en slim ontwerp-truuks. Hy’s volgende jaar hier.

Ons hou ook baie van die nuwe Tucson se treffende sierrooster. Dit herinner aan Mercedes se jongste roosters (met hul klomp blink pennetjies, wat ’n 3D-effek skep) met die Koreaan wat pleks van blink pennetjies eerder ’n eierkrat-ontwerp volg met kort, skuins oppervlakke wat na die middel gekantel en gedraai is.

Selfs die wielboë met hul plat en reguit boonste kurwes bied ’n mate van hardekwasgeit aan die voorkoms.

Onder die enjinkap

Die nuwe Tucson is 2 cm langer, ’n vingerdikte breër en ’n oogknip hoër as sy voorganger. Straks die braaivleisfeit hier is dat die witjasse ’n ekstra sentimeter kon afknyp om tussen die asse in te pas wat nou ’n aks meer beenruimte aan die agter-insittendes bied.

Onder die enjinkap is daar oorsee ’n opgeknapte weergawe van die vervaardiger se 1.6-liter-petrolturbo in twee kragvlakke (110 kW en 132 kW) te kry. Daar is ook ’n 2.4-liter- natuurlik geaspireerde enjin (ons vermoed ’n kostebesluit, hoewel Hyun-dai ook al donkiejare saamstap met hierdie enjin, wat hy kennelik dol oor is) oorsee te kry, met 140 kW en 246 Nm. Die tussenin-enjin, die natuurlik geaspireerde 2.0-liter wat tans in SA te kry is, sal dalk behou word wanneer die nuwe model volgende jaar by ons beskikbaar is (saam met die 1.6-turbo).

Wat oliebranders betref is daar ’n 1.6-liter- en ’n 2.0-liter-turbodiesel te kry.

Die intreemodelle sal slegs voorwielaandrywing hê, terwyl die topmodelle permanente 4x4-vastrap het.

Hyundai noem ook in dié verband dat hy sy ritmodusstelsel opgeknap het om nou ekstra modusse te bied vir sand-, klip- en modderige toestande. Die ratwisseling geskied via ’n agtgang- outomatiese ratkas.

Buck Rogers se kajuit

Die kajuit is waarskynlik die kragtoer van die nuwe Tucson. Dit eggo die beste kajuitontwerpe van Mercedes en Volvo en stel in sommige opsigte selfs ’n nuwe standaard.

Die instrumentpaneel skep twee dele, met elk wat netjies deur die boonste rand van die paneel afgebaken word. Dié rand bied twee fyn aluminiumstroke en gly naatloos van die voorpaneel na die deurpanele oor, in ’n vloeiende golfbeweging.

Sagte stemmingsbeligting (64 kleure, wat jy in tien vlakke “sagter” kan verstel) en skoon oppervlakke sorg vir ’n deftige atmosfeer.

In die middel sit ’n groot raakskerm wat nutsfunksies huisves, terwyl die tradisionele huls voor die bestuurder heeltemal mee weggedoen is. Daar is slegs ’n digitale skerm voor die bestuurder en dié is diep en laag agter die stuurwiel versink.

Kyk ook na die sentrale kolom: Die rathefboom is weggesmyt en in sy plek is daar net vier knoppies – vir P, N, D en R.

Hulpmiddels sluit in ’n selfstopfunksie as die blikbrein vermoed jy gaan teen iets vasry en ’n volgbeheer-funksie, waarmee die voertuig in sy baan sal bly (ook om draaie, en self kan rem en versnel saam met die verkeer).

Afsaal

Ons verwag die nuwe Tucson teen middel volgende jaar in Suid-Afrika, met pryse en spesifikasies wat teen daardie tyd gefinaliseer sal wees.

Meer oor:  Motors  |  Tucson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.