Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
’n Wa wat langpad kort maak

Hyundai het ’n sterk tree vorentoe gegee met die bekendstelling van sy nuwe Santa Fe, die groep se lekker groot sportnuts.

Waar desjare se Santa Fe’s nog grootliks ’n veldry-gerigte sportnuts was, is die nuwe model ’n heerlike gesinsbus met groot ruimte, puik afwerkings en weeldes, en ’n kajuit stiller as jou bankrekening ná Swart Vrydag.

Ons hou sommer baie van die nuwe Santa Fe se netjiese voorkoms. Let op die mooi skrefiesoog-hoofligte. Slegs die topmodelle het 4x4-vastrap.

Luc Donckerwolke se ontwerp vir die vierdegeslag-Santa Fe het heelwat geleen by die Tucson. Daar is die groot sierrooster met die skrefiesoog-hoofligte, en onder op die hoeke die diep inhamme waar die misligte sit. Dit lyk werklik treffend en modern.

In sy afmetings het die Santa Fe ook matig gegroei. Daar is wins by die algehele lengte (+ 7 cm), maar veral die dak wat nou op sy horisontale as met ’n stewige 19 cm verder na agter gerek is, beteken dat jou insittendes baat vind met ’n ruimer, gemakliker kajuit.

Ook die asafstand wat met ’n handbreedte gerek is, het gehelp om meer beenspasie agter te skep. Ja, dis klein inkremente, maar elke bietjie help.

Hoe lyk die reeks?

In Suid-Afrika bring Hyundai net hul 2.2-liter-turbodiesel na ons mark. Dis dieselfde enjin wat hulle al in 2000 in die tweede Santa Fe bekend gestel het, maar danksy voortdurende verbeterings en ’n nuwe agtgang- outomatiese ratkas lewer die hardebaard ’n foutlose vertoning in die jongste Santa Fe.

Jy kan wel uit drie afwerkingsvlakke kies (Premium, Executive en Elite), met slegs die topmodel wat oor 4x4-vastrap beskik. Van keuses gepraat, ’n ritmodusknop help jou ook wissel tussen ’n Comfort-, Eco- en Sport-modus, maar slegs die ratskakeling en sensitiwiteit van die versneller en stuurwiel word geaffekteer.

Lig op die knippie

Die groot binneruim is deeglik opgeknap en gemoderniseer teenoor die ou model. Jy sit lekker hoog agter die stuur en rondom jou is oral sagte spons­oppervlakke in ’n stemmige swart afgewerk. Blou beligting bied ’n mooi aksent op die instrumentpaneel, by die vloer en deure en rondom enkele skakelaars.

Afwerking is skoon en sonder fieterjasies. ’n Nuwe agtgang-outomatiese ratkas sorg vir ’n gladde skakelaksie.

Topmodelle kry mooi gordyntjies by die agtervensters, terwyl ’n parkeerkamera en gonsers standaard op al die modelle is. Ander tegnotruuks sluit in die raakskerm wat jou nutsfunksies huisves, ’n radarstelsel wat jou waarsku teen kruisverkeer as jy tru uit ’n nou parkeerplek ry, en spoedbeheer.

Terloops, jy kan jou slimfoon ook koordloos met die radio verbind en die stelsel met stembevele beheer terwyl jou hande op die stuurwiel is.

Agter in die kajuit kan nog vyf tieners hulself tuismaak. Die heel agterste twee sitplekke bied nou ’n slim knip-meganisme waar jy met een oplig van ’n hefboom die hele sitplek en sy rugleuning vooroor kan kantel om ’n plat laaivloer te skep. Jy kan die rugleunings ook van agter by die luikdeur af, of aan die kante by die deure, platslaan. Ek hou ook daarvan dat jy die luikdeur se hoogte wat hy moet oopwip kan bepaal, asook die spoed waarteen hy moet oop- en toevou.

Gee vet, Sarel

Op die oop pad het ’n paar dinge dadelik opgeval. Die groot Santa Fe ry heel lewendig vir ’n voertuig wat “slegs” ’n 2.2-liter-diesel het. Danksy heelwat klankdigtingsmateriaal in die deure, by die enjinruim asook onder sy pens hoor jy skaars die enjin. Trouens, jy hoor nie eens pad- of windgeraas nie. Die voertuig is klankdig en ’n gesprek binne is teen enige hoë spoed maklik te voer. My verbruik het ook gou tot 7,5 liter gedaal, wat enkele energieke lopies ook ingesluit het.

Wat sê ons?

Hyundai het ’n heerlike bus hier beet. Die intreemodel is strategies teen net onder die R600 000-kerf geplaas, maar as jy kan sou ek die topmodel aanbeveel met die ekstra weeldes. ’n Wa om die langpad kortpad te maak.

Meer oor:  Hyundai  |  Oos-Kaap Naweek  |  Sportnutsvoertuig  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.