Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
’n X-Line vir die wille wintie kêrels, ek sê

Daar’s ’n hupse nuwe segment aan’t ontwikkel in die plaaslike mark, en vir kopers van sakpas voertuie is dit sommer baie goeie nuus.

Vir enigeen wat tot dusver sy oog op ’n sportnuts gehad het, was fris Fortuners tot iets kleiner soos die Renault Duster jou voorland.

Maar nou het daar ’n nuwe groep kop begin uitsteek. Verlede jaar het Ford sy Figo Free­style na ons mark gebring, en neffens hom sit Suzuki se klein Ignis ook al ’n jaar of drie.

Die jongste baba-nuts is Kia se parmantige Picanto X-Line, basies ’n Picanto met ’n deurmekaar kuif.

Meganies is hy identies aan die gewone 1.2-liter-modelle. Maar ons hoor hy is wel 5 mm hoër in sy sokkies gelig. Maar ja, geluk met ’n fyn oog as jy dit sou kon raaksien!

Die X-Line, soos die Figo Freestyle, boks in die mark vir jong kopers wat na sakpas wiele soek, maar nie afgeskeep wil wees met ’n gewone stadsryding nie.

Kyk net so! Kia se nuwe Picanto X-Line kombineer ’n wafferse sportnutsvoorkoms met die sakpas waarde van ’n intree-buks.

Die Picanto X-Line se swart skermstroke by die wiele, en die blink skermplaat by die neus, gee hom reeds ’n effense sportnuts voorkoms. Kia sê hy het ook die sierrooster spesiaal ’n knerts platter gevorm om hom ’n lekker wie’s-jy-voorkoms te gee.

Binnelangs is daar ’n tweekleur-afwerking vir die bekleedsel (kunsleer), en blink pedale om ’n sportiewe gevoel te skep. Ook die bakwerk is nou in ’n rits nuwe, helder kleure te kry, soos Alice-blou, Honey Bee-geel en my gunsteling, die Pop of Orange-oranje.

Die Picanto-reeks se 1.2-liter (natuurlik geaspireerd) doen diens in die X-Line, en bied 61 kW en 122 Nm se wringkrag. Kies tussen ’n viergang- outomatiese ratkas, of ’n vyfgang-handrat vir jou ratskakeling.

Die enjintjie was heel gewillig met ons rit aan die Kaapse kus, maar ek vermoed as jy die hokkiespan ingelaai het en jy pak Doreen-weg aan die Wes-Rand, gaan jy ’n bietjie momentum moet hê.

Ons hou van die tweekleur-afwerkings. Let ook op die blink pedale. Die handrat skakel moeiteloos oor.

Die wenplan van Kia is egter om vir sy Picanto X-Line drie unieke eienskappe te gee wat sy mededingers se mond sal laat water. Die kajuit het ’n kleurraakskerm wat met ’n Apple- of Android-slimfoon gekoppel kan word; ’n trukamera is standaard; en die tweekleur-bekleedsel is ook ’n nuutjie vir dié segment.

Op die oop pad het ek die handrat-Picanto X-Line as ’n lekker woelige outjie ervaar. Jy kan die een-punt-twee maar roer, hy sal nie sommer kla tot by die rooilyn nie. Die vering was ook soepel genoeg om ’n rits knikke en gate in die pad teen ’n vaart met sukses op te slurp.

Slotsom

Daar’s ’n rede waarom die Picanto tans so gewild is. Hy bied goeie waarde vir geld, maar hy ry ook gemaklik en moeitevry.

Nou, met die X-Line, vermoed ek gaan nog meer kopers tot sy wintie kuif aangetrokke voel.

Meer oor:  Picanto X-Line  |  Sakpas  |  Sportnuts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.