Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nee kwits, nou sit Hamilton die pot mos mis

Knormoer is absoluut verheug die jonge heer Lewis Hamilton het die sware taak op sy skouers geneem om die aarde van klimaatverandering te red. Een supermotor-rit op ’n slag.

Sien, die F1-wêreldkampioen en deesdae voorbrandmaker vir menige politieke veldtog, het gesê hy ry nie meer in sy versameling supermotors nie. Voortaan is dit net rondrits in sy elektriese Smart en EQC, albei e-voertuie van Mercedes, sy borg en vir wie hy in F1 deelneem.

Hierdie skoongesig-knaap is Mercedes se nuwe GenH2, ’n e-vragmotor met ’n 1 000 km-reikafstand wat met ’n “brandstofsel” pleks van ’n battery werk.

Petrolkoppe se mond sal water by die aanhoor van Hamilton se gawe lysie supermotors in sy motorhuis.

Daar is ’n Ferrari 599, twee Ferrari LaFerrari’s, ’n McLaren P1, ’n Pagani Zonda, ’n Shelby Mustang en twee AC Cobras.

Terwyl Hamilton sy beroep beoefen om met ’n energiesuipende F1-motor 50 of 60 keer in die rondte te ry, elke ander Sondag, kan hy dus terugsit en herkou aan hoe kwaai hy die omgewing nou help met sy nuwe keuse van persoonlike rygoed.

  • Dit terwyl sy span ná elke Grand Prix die voertuie en toerusting in ’n Boeing stoot om halfpad om die wêreld gevlieg te word. Vir nog ’n naweek se rondjaery. Maar kwits, kêrel, noudat jy nie meer jou LaFerrari kafee toe vat nie, help jy die blommetjies weer blom in die veld. Dankie!

Schumi se groot stryd

Knormoer weet nie of hy moet lag of huil as hy na die stand van die media deesdae kyk nie.

Daar verklaar die nuusdienste vandeesweek uitasem dat die F1-held van ouds, Michael Schumacher, “verbete veg om weer gesond te word”.

Dis nou nadat sy voormalige spanbaas, Jean Todt, hom weer by sy huis in Switserland besoek het. Die oud-F1-kampioen is nou al vir jare bedlêende nadat hy tydens ’n skivakansie geval en sy kop teen ’n rots gekap en erge breinskade opgedoen het.

Dit was Todt wat aan ’n verslaggewer gesê het Schumacher “veg verbete”, waarna hierdie woorde klakkeloos in Suid-Afrikaanse berigte geëggo is. Maar, wie weet of hy rêrig “verbete” veg? En wat presies word daarmee bedoel?

Knormoer sukkel om ’n bedlêende persoon wat bes moontlik nie self kan eet of drink of praat nie, en net met versorgers oor die weg kan kom, in sy geestesoog as ’n vegtende mens te sien.

As jy veg, is dit iets soos Rambo wat alleen agter ’n masjiengeweer staan, terwyl ’n duisend terries op hom toesak en hy hulle voor die voet afmaai dat die velle waai.

  • Lê op die naat van jou rug met ’n pyp in die mond en iemand wat jou help in die badkamer is meer herstel as veg. Dink vandag se verslaggewers dan nie meer onafhanklik en krities nie?

Bakgat-Bugatti

Knormoer sien die gerugte loop sterk dat Volkswagen sy Bugatti-handelsmerk wil verkoop.

As dit nie reeds die wenkbroue laat lig nie, is die potensiële koper ’n nog vreemder kwessie.

Blykbaar is dit Rimac, die Kroatiese nouveau riche-vervaardiger van e-motors, wat belangstel.

Tik Knormoer met ’n sonpaneel om. In die 1990’s, toe Volkswagen ’n era van vuisbal binnegegaan het met die aankoop van spoghandelsmerke soos Bugatti (en die bou van grootse projekmotors, soos die Phaeton en XL1), is geglo die historiese Bugatti-handelsmerk sal nuwe aansien aan ’n maker van Passats en Golfs verleen.

Maar blykbaar is ’n ingewikkelde ruiltransaksie die dryfveer agter die storie. VW gee sy Bugatti-handelsmerk aan Rimac, terwyl Mate Rimac (stigter) die helfte (49%) van sy aandeelhouding aan Porsche gee.

  • Porsche soek Rimac se tegnologie om Tesla aan te vat, terwyl Rimac kan doen met Bugatti se naam en Franse fabriek. Wat als vir Knormoer beteken dis die einde van Bugatti se 8.0-liter-W16-enjin. Dis hartseer.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer  |  Hamilton
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.