Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nissan krap min aan Juke se lyne

Dit was ’n lang wag, maar Nissan het eindelik die sluier gelig van sy nuwe Juke, skaars die tweede generasie van dié baanbrekermodel wat al meer as tien jaar met ons is. Destyds het die Juke se vreemde, uitdagende voorkoms vir heelwat geligte wenkbroue gesorg. Hy was die eerste kompakte sportnuts vir die jongklomp wat die resep wat die eerste Toyota RAV4 mee probeer het, eintlik vervolmaak het.

Kort nadat die Juke die lig gesien het, het vervaardigers oor hul voete geval om ’n mededinger in dié nuwe segment op die mark te kon plaas. Dink maar aan Renault se Captur, die Honda HR-V, Toyota se C-HR en binnekort Volkswagen se T-Cross.

Kyk net so! Nissan se nuwe Juke het pas die lig gesien en hy lyk ’n raps meer besadig as vantevore, sonder om sy oorspronklike sjarme te verloor.

Terwyl die res dus ingehaal het, het Nissan in die rande gerol met sy gevestigde Juke. Tog het die tyd hom begin inhaal sodat Nissan kort voor lank planne moes maak om ’n opvolger te bou.

Dié opvolger, die tweedegenerasie-Juke wat nou onthul is, het daarom nou groot skoene om te vul. Ons reken hy is redelik suksesvol hiermee aangesien Nissan wyslik besluit het om nie te veel aan ’n wenresep te torring nie.

Die nuwe Juke ry op Nissan se CMF-B-platform wat hy ook vir sy Qashqai benut. Die groter asafstand beteken ’n effens langer en breër lyf as vantevore, maar dit vertaal weer in meer binneruim- gerief vir die insittendes.

Dit was maar altyd een van die koepee-agtige Juke se groot kopsorge. So ougat as wat hy gelyk het (formeel ’n vierdeur, maar met die voorkoms en afmetings van ’n koepee), so beknop was die ruimte agterlangs.

Met die nuwe onderstel het jy 20% meer pakplek in die laairuim, ’n sentimeter meer kopruimte vir die agterstes en 6 cm meer beenruimte agter.

Let wel, al hierdie gawe winste kom nie ten koste van ’n swaarder lyf nie. Nissan kon danksy meer gebruik van aluminium in die bakwerk die algehele massa inderdaad met 23 kg laat daal.

Die Juke het steeds daardie koepee-tipe voorkoms danksy die dalende daklyn en agterste deure waarvan die handvatsels hoog bo weggesteek is, maar die skouerlyn is nou nie meer so sterk wigvormig nie.

Pret en vrolikheid is wel steeds boaan die spyskaart. Die motor is maar gemik op jong Europese kopers en om dié onthalwe is sy binneruim redelik deftig uitgerus terwyl kopers ook kan kies uit ’n rits opsies om die voertuig se voorkoms so na jou smaak in te rig. Dit sluit in ’n aparte kleur vir die dak, syskorte en buffers, en verskeie kleur-opsies vir die panele binne die motor. Terloops, daar is nou meer sagte materiale in die binneruim ingespan om daardie gevoel van luuksheid sterker na vore te bring. Onder die enjinkap sit Nissan se 1.0-liter-petrolturbo (86 kW). Dit is gekoppel aan ’n sesgang-handrat of ’n sewegang- outomatiese ratkas.

Tegno-hulpmiddels vir die bestuurder sluit in ’n terugdufunksie as jy uit jou baan sou dwaal, ’n blindekolgonser, ’n gonser wat waarsku teen kruisverkeer as jy tru sou ry, en ’n selfstopfunksie wat aktief in stadstoestande is. Nissan beloof ook ’n semi-selfstuurstelsel vir die voertuig.

Die nuwe Juke is in November reeds in Europa te kry, maar dit is nog onseker of hy volgende jaar na Suid-Afrika sal kom. Die pap rand maak dat Nissan eerder op sy goedkoper voertuie wat hy uit Asië invoer, konsentreer.

Meer oor:  Nuwe Model  |  Nissan Juke  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.