Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nissan verras met sy Indiese baba-nuts

Soos voorspel, rol die golf voertuie wat uit Indië na ons mark toe kom al sterker. Die jongste Indies ontwerpte voertuig (vir Indië, deur Indië) onder ’n Westerse handelsmerk wat sy pad eersdaags na ons waters gaan vind, is Nissan se nuwe Magnite.

Die klein Magnite sal met Hyundai se Venue, Ford se EcoSport en Volkswagen se T-Cross meeding. Die EcoSport en Venue is terloops ook Indiese boorlinge.

Die Magnite is ’n klein-klein sportnuts (net onder vier meter lank), geskoei op die Renault Triber se onderstel, en herinner in voorkoms baie aan die Venue.

Ons hou nogal van die nuwe Nissan Magnite se kordate houding.

Die rooster en kajuit se lyne is regop, hoewel die neus ’n moderne sierrooster het wat iets van die Datsun-kenteken in sy voorkoms het. Dis ook nie heeltemal toevallig nie, want die Magnite sou eers die lig sien as ’n Datsun.

As jy kan onthou, het Nissan vroeër vanjaar in ’n groot kostebesparingsaksie besluit om minder aandag aan sy Datsun-handelsmerk te skenk en eerder op sy Nissan-kenteken te fokus.

Daar is ’n hele paar moderne aspekte aan die Magnite se ontwerp wat hom van sê maar ’n goedkoper Renault Kwid onderskei. Kyk byvoorbeeld na die plat LED-hoofligte en die moderne sierwiel-ontwerpe.

Onder die enjinkap sit Nissan se nuwe 1.0-liter-petrolturbo (74 kW, 160 Nm), wat selwers ’n ongewone stap vir intree-sportnutse uit Indië is. Gewoonlik word natuurlik geaspireerde enjins met ’n gerobotiseerde outomatiese ratkas verkies, om koste te bespaar. In die Magnite se geval word die turbo-enjin met ’n CVT-tipe outomatiese ratkas gekoppel. Die Indiese mark sal wel ook ’n vyfgang-handratkas kry.

’n Eenvoudige maar tegnologies gevorderde kajuit bied onder meer stemmingsbeligting en ’n laai waar jou foon koordloos kan herlaai. Daar is ook ’n trukamera.

Buksies soos hierdie is op die jongklomp gemik en daarom is die kajuit ook vrolik opgemaak. Kyk maar na die griffel-patrone op die sitplekke, die groot raakskerm (wat Apple- en Android-slimfone koordloos kan koppel), stemmingsbeligting binne en kol-beligting in die gedaante van ’n Nissan-kenteken wat by jou voete skyn as jy die deur oopswaai.

Die Magnite sal ook ’n koordlose herlaai-vakkie vir jou slimfoon hê, plus ’n fris radio.

Nissan sê die klein sportnuts bied ’n klasleidende grondvryhoogte van 20 cm, maar hy is net voorwielgedrewe. Been- en skouerruimte is ook meer as genoeg.

Die Magnite kom vroeg volgende jaar na Suid-Afrika, en dan behoort ons te weet watter enjins en ratkaste onder meer vir ons mark beskikbaar sal wees.

Meer oor:  Nissan  |  Motorsports  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.