Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nota aan jong PA’s: Daar’s ’n nuwe Een gou op pad

BMW het pas die eerste foto’s uitgereik van sy nuwe 1-Reeks wat reeds in die derde kwartaal in Europa en Suid-Afrika beskikbaar sal wees.

Dit is die derde generasie van die gewilde 1-Reeks met die eerste model wat tussen 2004 en 2011 gebou is, en die huidige weergawe wat vanaf 2011 al diens doen. Daar was in 2014 ook ’n groot opknapping vir die 1-Reeks.

Lywiger, maar ook baie slimmer as vantevore – BMW se nuwe 1-Reeks maak oor ’n maand of drie sy verskyning, fris sierrooster en al.

Wat’s als nuut?

Die warmste nuus is natuurlik dat BMW die Mini se voorwielgedrewe ULK-platform vir die nuwe Een gaan inspan. Dit is die eerste keer dat die 1-Reeks in sy geheel nie meer agterwielgedrewe is nie.

Die afwesigheid van ’n dryfas sorg egter vir ’n laer transmissietonnel wat veral vir die agterste insittendes nou meer voetspasie beskikbaar maak.

Visueel het BMW redelik by sy wenresep gebly. Die knapie bly steeds so ougat soos destyds danksy die langerige neus (nou effe korter gemaak) en skuins voorruit. Die oorhange is lekker kort, maar die nuwe Een het redelik (+ 4 cm) in breedte en hoogte (+ 1 cm) gegroei. Die korter enjinkap het sy algehele lengte met ’n vingernael laat krimp, maar belangrik genoeg is die asafstand nou met ’n goeie 4 cm gerek.

Daardie ekstra sentimeters is vir die agterste insittendes gegee – meer beenruimte en ’n makliker in- en uitklim, sê BMW. Voorlangs kry jy weer ’n handbreedte se ekstra skouerspasie.

Hoe lyk die reeks?

Die ou tweedeur-koepee val weg met verkope wat nooit rêrig wou vlamvat nie. Daar is slegs ’n vyfdeurmodel nou te kry. Oorsee is daar wel ’n lekker mengsel van enjins te kies. Aan die petrolfront begin die reeks met ’n 1.5-liter-turbo (drie silinders) vir die 118i terwyl die 135i (2.0-liter-turbo) die topmodel sal wees.

Dieselkopers kry ’n 116d (1.5-liter), ’n 118d en 120d (albei met ’n 2.0-liter).

Topmodelle het almal die bestaande ZF-agtgang- outomatiese ratkas, terwyl die intreeweergawes ’n sesgang-handrat bied. Sommige is ook met ’n sewegang-dubbelkoppelaar’kas te kry, nou met ’n langer sewende rat vir beter verbruiksyfers.

BMW SA het op ’n “bo en onder”-strategie besluit: slegs die 135i en die 118i, vir ons mark.

Digitale skerms oorheers die instrumentpaneel. Meer skouer- en beenruimte word nou gebied, ondanks ’n lyf wat grootliks in toom gehou is.

Nogals mooi daarbinne

Ons het genoem van die ekstra skouerspasie voor en meer knieruimte agter. Die laairuim is ook breër en bied ’n klein bietjie meer pakplek.

Die grootste verandering is die Een wat nou ook die 3-Reeks se jongste digitale instrumentpaneel ontvang. Dit lyk werklik treffend en gee die pas aan in dié luikrug-segment.

Al jou inligting word op digitale skerms gebeeld: Jou spoed- en toerenaald (wat verkeerdom swaai), terwyl ’n breë skerm net langs die stuurwiel al jou nutsfunksies huisves. Ruitinligting is ook opsioneel te kry.

Afhangend van jou model sal jy nutsfunksies soos ’n baanverlaat-gonser en ’n selfstop-funksie hê, asook ’n gonser wat waarsku teen aankomende verkeer as jy tru uit ’n parkeerruimte ry. Outomatiese spoed- en volgbeheer is ook te kry.

BMW sê ’n ander nuttige opsie is die virtuele assistent – jy aktiveer dit met “Hei, BMW!” waarna jy vrae in vol sinne aan die vroulike stem kan vra.

Afsaal

Afhangend wanneer BMW sy invoerkontrak geteken het, sal die nuwe 1-Reeks straks bitter duur wees. Die rand het sedert Mei se verkiesing erg verswak, wat ook in die Een se prys weerspieël kan word.

Meer oor:  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.