Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nuwe A1 ’n gawe stadsknaap, sy nukke ten spyt

Audi het amper ’n dekade gewag vanaf 2011 se bekendstelling van sy A1-stadsbuks om die tweede generasie na die mark te bring. Dis wel ongewoon, maar verklap ook hoe gewild die Polo-gebaseerde stadsmotor vir Audi in Europa is.

Ons het gemengde gevoelens oor die lewendige Audi A1 Sportback gehad. Die afwerkings is modern en goed, maar die minimalistiese kajuit en ’n rukkerige rit was klein irritasies. Foto: Marnus Hattingh

Deesdae in Suid-Afrika kry ons slegs die vierdeurmodel, wat inderdaad heelwat praktieser as sy koepee-stalmaat is. Ingolstadt het aanvanklik die rakker as ’n Mini Cooper-mede­dinger geposisioneer, maar ons vermoed die groter Mini kon meer kopers met sy tweedeur-ontwerp lok as wat die A1 destyds kon regkry.

Aangesien die A1 op die jongste Polo se onderstel geskoei is, het die klein Audi ook heelwat (+ 6 cm) gerek. Dit help onder meer met ekstra beenruimte agter en ’n groter laairuim.

Die ontwerp is redelik sportief, maar dalk nie so opwindend as wat ’n Mini jou sou bied nie.

My toetsmodel was die 35 TFSI, wat beteken Audi het die VW-groep se deurwinterde 2.0-liter-turbo onder die neus gedruk.

In hierdie konfigurasie lewer hy 147 kW krag, wat beskeie is vir wat tweeliters deesdae uitpomp, maar steeds heel woelig is vir ’n klein stadsmotortjie soos die A1.

Wat het opgeval?

Ek het so twee of drie fronse oor die A1 gehad. In die geheel gesien, is hy ’n lekker stadsrakker, maar teen lae snelhede in eerste of tweede rat was die rit rukkerig – asof dit onseker was in watter rat die outomatiese ’kas moet wees.

Nóg iets wat opgeval het, was die luikdeur wat styf toeklap en dan ’n redelike trek van die hand benodig om dit weer oopgewip te kry, van doer onder by die handvatsel. As ’n mens byvoorbeeld pas by die winkel was en jou hande is vol inkopiesakke, sou ek nie nog wou stoei met ’n swaar luikdeur nie.

Klap ’n toon

Tog het die A1 heel gaaf gery, as jy eers op dreef is. Daar is woema as jy voet neersit, maar hy kan ook lekker lig op brandstof wees as jy lang ente wil aflê. Ruimte agter? Vir tieners eerder as volwassenes.

Dit bly egter moeilik om te besluit op wie die A1 werklik gemik is. ’n Gesin sou beter daaraan toe wees om ’n klein sportnuts te kies, en ’n jong en dinamiese persoon sou ek reken wil eerder ’n koepee hê.

Maar, Audi ken seker sy mark. Solank die enjin-ratkas-kombinasie se nukke slegs tot die toetsmodel beperk was, kan ’n mens hom met ’n geruste hart aanbeveel.

  • Prys: Audi A1 35 TFSI Sportback – R429 900.
Meer oor:  Nuwe Model  |  Motors  |  Audi A1
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.