Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nuwe C3 parmantig, prettig

Terug, weg, en nou weer terug. Dít is die wisselvallige storie van Citroën in Suid-Afrika. In 2010 het dié Franse vervaardiger sy terugkeer na die land gemaak, net om in 2016 sy vertrek aan te kondig weens powere verkope. Citroën is deel van die PSA-groep, wat Peugeot en Opel insluit, en het dit in die vooruitsig gestel om as deel van ’n vyfjaarplan op die Peugeot-handelsmerk te fokus.

Destyds al het die groep dit egter duidelik gemaak dat Citroën tegnies nie die land verlaat nie, maar wel ’n paar jaar lank nie enige nuwe modelle gaan invoer nie, aangesien die modelaanbod hom in daardie stadium nie ’n mededingende voordeel in Suid-Afrika sou bied nie.

Die tyd blyk egter nou ryp te wees vir Citroën se hertoe­trede tot die Suid-Afrikaanse mark, en hy doen dit met ’n netjiese modelaanbod wat hy hoop sal vergoed vir sy afwesigheid die afgelope drie jaar.

Hooffoto: Die C3 Aircross is ’n kompakte sportnuts wat teen teenstanders soos die Ford EcoSport moet kragte meet.

Drie van die beste

Citroën spring sommer in versnelrat weg met drie modelle wat gelyktydig hier aanland met ’n teenwoordigheid in van die gewildste marksegmente. Dit is die C3-luikrug, dan sy sportnutsmaat, die C3 Aircross, en laastens die vlagskip in die reeks, die C5 Aircross, wat in die mark vir middelgrootte nutse boks.

Sekere ontwerpelemente kom in al drie sterk na vore, soos die hooggeplaaste streep LED ligte en Citroën-kenteken wat deur chroomstroke verbind word, met die hoofligte onderaan, asook Citroën se knobbelrige Airbumps-plastiekbedekking en ’n drie­dimensionele ontwerp vir die agterligte.

Gerief is ’n groot fokuspunt met al drie wat met sagte, breë sitplekke toegerus is.

C3

Die C3 is bekend in Suid-Afrika en het al in die vroeë 2000’s sy verskyning hier gemaak.

Generasie drie behoort met sy parmantige voorkoms uit te staan tussen sy B-segment-mededingers soos die Volkswagen Polo, Ford Fiesta en Renault Clio. ’n Hoë, stomp neusgedeelte, asook plastiekbedekking by die buffers en wielboë, gee hom ’n prettige sportnutsvoorkoms.

Inlas: Die C3 het heelwat eiesoortighede en ’n kordate voorkoms wat hom onder sy meer konvensionele mededingers laat uitstaan.

Die Airbumps-bedekking langs die kante lyk nie net treffend nie, maar bied ook ekstra beskerming. Hy word verder opgevrolik deur ’n kontrasterende rooi dak, asook rooi afwerking vir die kantspieëls en rondom die misligte.

Binne kry jy ’n vrolike, aweregse kajuit met rooi aksente by die instrumentpaneel en sitplekke, en ’n paar uniekhede soos ’n gryphandvatsel by die deure wat soos ’n leerbelt lyk. Verder is daar ’n mediaraakskerm met Apple CarPlay en Android Auto vir integrasie met jou foon. Die bagasieruim van 300 liter vergelyk ook goed met sy mededingers.

Die reeks bestaan uit die Feel- en luukser Shine-afwerkingsvlak en albei word deur ’n 1.2-liter­petrolenjin aangedryf.

C3 Aircross

Soos sy naam aandui, is die Aircross op die C3 gegrond en word soos die C3 op die PSA-groep se bekende PF1-platform gebou. Groottegewys skuif hy in by ander kompakte sportnutse soos die Mazda CX-3, Hyundai Kona, Ford EcoSport en Volkswagen se nuwe T-Cross.

Die C3 Aircross is meer as ’n opgeblaasde C3. Die algehele ontwerp is redelik bonkig en regop, en soos met die C3 is daar heelwat eiesoortighede wat hom laat uitstaan, wat insluit ’n helderoranje afwerking vir die dakrelings, kantspieëls en rondom die voorste ligte, asook ’n interessante hortjiesmotief op die C-pilaar.

Die Aircross bestaan ook uit ’n Feel- en Shine-model en span dieselfde 1.2-liter-turbo van 81 kW in wat in die C3 gebruik word, met dieselfde sesgang- outomatiese ratkas. Aandrywing geskied deur die voorwiele.

Die binnekant het ’n meer robuuste voorkoms as die C3, maar staan ook uit met die gebruik van interessante materiale en ’n voorliefde vir reghoekige vorms, asook kleuraksente plek-plek. Sy raakskerm word ook met die C3 gedeel met dieselfde funksies.

Daar is genoeg kopruimte vir hemelbesems, en danksy die agtersitplek wat in ’n 40/60-formaat individueel vorentoe en agtertoe kan skuif, kan die bagasieruim van 410 liter tot 520 liter vergroot word.

Meer oor:  Nuwe Model  |  Motors  |  Citroen C3  |  Opknapping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.