Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nuwe Corsa het billike kans – teen regte prys

Opel maak gereed vir ’n groot aanslag vanjaar op die plaaslike mark met minstens vier nuwe modelle wat deur die loop van die jaar hul opwagting op ons paaie kan maak.

Opel se nuwe Corsa is op pad en hy beloof om ’n opwindende rit te bied danksy sy nuwe turbo-enjins en ’n ligter lyf.

Die warmste nuus is natuurlik die koms teen die einde van die jaar van die jongste Corsa – die sesde generasie – wat nou op die PSA-groep se kleinmotor-platform ry.

Dis dieselfde onderstel as wat die Peugeot 208 benut, en volgens Opel het dit gehelp om die Duitse filiaal se beminde straatbuks amper 100 kg ligter as sy voorganger te maak.

Sportiewe lyne

Formeel trek die nuwe Corsa die skaal op 980 kg in sy basiese vorm, wat beteken die Franse se 1.2-liter-enjins wat hy nou onder die neus kry, het ook ’n ligter las om te dra. Goeie nuus dus vir brandstofverbruik en verrigting.

Die nuwe Corsa is reeds middel verlede jaar in Europa onthul, waar sy kompakte dog sportiewe lyne dadelik die oog gevang het. Die stadsmotortjie is ’n raps groter as sy voor­ganger, maar verrigting is lewendiger en die afwerkings binne is steeds modern en topgehalte.

Modelreeks

Ons modelreeks is nog glad nie vasgepen nie, maar jy kan verwag dat aanvanklik net enkele modelle van wat oorsee beskikbaar is, hierheen sal kom. Oorsee kry jy ’n 1.2-liter sonder enige turbo-aandrywing as basismodel (met ’n vyfgang-handratkas), gevolg deur ’n 1.2-liter met ’n turbo in twee kragvlakke (sesgang-handrat of agtgang-outomaties) en ’n 1.5-liter-turbodiesel.

Die petrol- sowel as die dieselenjin het net drie silinders. Getrou aan Opel se tradisie is die brandstofverbruik werklik laag: Die groep maak trouens aanspraak op enigiets van 4,1 liter vir die natuurlik geaspireerde 1.2-liter tot net 4,4 liter vir die 1.2-liter-turbo’s.

Raakskerm

Binne kry jy ’n groot raakskerm op die instrumentpaneel wat ál jou nutsfunksies huisves, en in topmodelle kry jy bestuurshulpmiddels (sommige slegs opsioneel) soos selfdomp-hoofligte met matrikstegnologie. Laasgenoemde is waar die hulsel uit ’n bondel lampies bestaan wat elkeen individueel verdof kan word om nie aan­komende verkeer te verblind nie.

Daar is ook aanpasbare spoedbeheer en ’n radar­gebaseerde gonser asook ’n selfstopfunksie wat jou waarsku sou ’n voetganger of dier voor jou in die pad stap (of as die spitsverkeer skielik tot stilstand kom).

Pryse is altyd ’n tameletjie, maar oorsee kos die Corsa enigiets tussen 18 000 en 20 000, wat hom in direkte omskakeling sowat R288 000 tot R320 000 maak. Ons reken as Opel hom hier vanaf net onder die magiese R300 000-kerf kan plaas tot R350 000, het hy ’n billike kans in die mark.

Die voorlopige beplanning is om die Corsa teen die vierde kwartaal na die mark te bring.

Meer oor:  Opel  |  Corsa  |  Motorindrukke  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.