Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nuwe Creta verras met hupse lyf

Ondanks sy hoekige lyne is Hyundai se Creta ’n gewilde speler in die segment vir mediumgrootte sportnutse. Die goeie nuus vir diegene op soek na ’n waarde-vir-geld-nuts is dat die Koreaanse groep pas ’n nuwe weergawe in Indië bekend gestel het – en dié keer lyk hy bepaald meer modern.

Die huidige Creta het dalk ’n bekostigbare prys, maar sy voorkoms is maar baie konserwatief. Desondanks verkoop hy fluks in ons mark aangesien hy ’n gemaklike vyfsitplekker is met die prys van ’n kleiner sportnuts.

Die nuwe Creta het genadiglik van sy vaal, hoekige voorkoms ontslae geraak en kry nou iets meer avontuurlustig. Let op die skermstroke by die wielboë en forser sierrooster.

Die nuwe tweedegeslag-Creta is verlede week in Indië by die Nieu-Delhi-motorskou bekend gestel. Aangesien ons model ook van Hyundai se Indiese filiaal af ingevoer word, behoort hy reeds later vanjaar na Suid-Afrika te kom.

Ons is egter werklik beïndruk met die sprong wat Hyundai met sy nuwe Creta gemaak het. Die sportnuts kry heelwat styl-elemente van sy groter, duurder nutsbroer die Palisade (wat in Amerika te koop is). Dit sluit in die forse sierrooster, die hoofligte wat nou in drie hulse verdeel is en die vertikale stapel remligte agter.

Kyk egter ook na al die aksentlyne by die flanke, en die tweekleur-bakwerk wat aan die dak ’n swewende voorkoms bied. Die agterste vensters en C-pilaar eggo nou ook die jongste tendens van ’n traandruppelvoorkoms, wat tans so gewild by vervaardigers is.

Ook binnelangs is sake veel deftiger en moderner gemaak. Daar is nou ’n raakskerm (vertikaal geplaas) in die middel van die instrumentpaneel terwyl die tweekleur-panele ’n pragtige aksent vorm.

Binnelangs betree jou nuwe Creta ook nou die digitale era met omtrent geen analoog-wysers of -skakelaars te sien nie. ’n Groot digitale inligtingskerm oorheers die middelkonsole net voor die rathefboom.

Die skerm is ongewoon in ’n vertikale posisie geposisioneer. Dit huisves die trukamera, radio, lugversorging, satnavstelsel en al jou foon se funksies sou jy jou foon koordloos met die radio wou verbind.

Die rathefboom op sy beurt (vir outomatiese modelle) herinner aan Audi se stomp, breë hefboom wat soos iets uit ’n Boeing se kajuit lyk.

Reg voor die bestuurder sit daar nou ’n kleiner stuurwiel, terwyl die instrumente (spoed- en toerenaald, en ritrekenaar) ook nou als digitaal is. Topmodelle sal ook ’n panoramiese sondak kry.

Onder die enjinkap het Hyundai nou ’n nuwe 1.4-liter-turbopetrol geplaas vir topmodelle, gekombineer met ’n natuurlik geaspireerde 1.5-liter-petrol vir die goedkoper weergawes.

’n Sesgang-handrat is in intreemodelle te kry en ’n sewegang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaartipe) in duurder modelle.

Tans moet die Creta diens doen met ’n gewone 1.6-liter en 1.6-liter-diesel.

Dit sal interessant wees om te sien of Hyundai die 1.4-turbo hiernatoe sal bring, wat ’n duurder enjin sal wees as die standaard-sestienhonderd. ’n Ander opsie is om die 1.0-liter-turbo in te span, soos wat die kleiner Venue gebruik.

Ons vertel meer sodra die plaaslike bekendstellingsdatum bekend is.

Meer oor:  Hyundai  |  Bekendstelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.