Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Ry saam met Ané
Nuwe GLA veelsydiger as wat jy dink
Mercedes se kompakte GLA-sportnuts bied baie weelde in sy sakpas lyf. Daar is vierwielvastrap ook, wat korte mette met ’n grondpad maak. Foto's: Ané Theron

Ek is nie iemand wat sommer hou van sportnutse wat net Sandton-gruis kan hanteer nie. As ek wil grondpad ry, wil ek met méning grondpad ry. Die nuwe, opgesmukte GLA het onlangs by my kom inloer. Is hy meer as net ’n njammie-mammie-mobiel?

Ek sal moet jok as ek sê ek dink die GLA is onaantreklik. Veral hierdie outjie in sy glinsterende middernagblou aandpak lyk tog te elegant, asof hy op pad is na ’n formele geleentheid aan die ander kant van die oerwoud. Dan sien jy die laeprofielbande en jy weet sommer: Hierdie meneer gaan meer oor beeld en status as enigiets anders. En tog bied die GLA vierwielaandrywing vir maksimum vastrap op enige oppervlak.

Die 130 kW en 350 Nm wat sy dieselenjin bied, is nie juis ’n rissiepit wat 0-100 km/h-versnelling betref nie, maar dit gebeur darem in ’n skaflike 7.7 sekondes, en ek het my kort-kort betrap dat ek per abuis jaag op die oop pad. Dieselverbruik was nie fantasties nie, maar ek blameer die feit dat ek laat was vir die oggend se afspraak in Franschhoek. My beste verbruik was 7,5 liter.

Nadat ek die oggend reeds vinnig teen die gladde teer van die Franschhoekpas uit is, het ek besluit om die GLA sommer ’n stowwerige gruis-doop te gee op die Vanderstelpas naby Bot­rivier. Dis ’n pragtige grondpadroete met kronkels besaai.

In Afrikaans? Hy hoef nie so hard op die rugwerwels te wees soos die A-klas nie – jy kan die ritmodus stel op Comfort en dan is dinge aansienlik sagter op die gestel.

Die GLA is gebaseer op die A-klas, wat nogal vrek hard en stamperig ry, maar die GLA se redding is sy lugvering. Dit be­teken die vering kan verstel word deur middel van lugvere pleks van die normale staalvere. Dan is daar ook sy aanpasbare skokbrekers wat die hantering verskerp deur dit harder of sagter te laat reageer soos jy ry.

In Afrikaans? Hy hoef nie so hard op die rugwerwels te wees soos die A-klas nie – jy kan die ritmodus stel op Comfort en dan is dinge aansienlik sagter op die gestel. Jy kan ook die stuur­gevoel verander sodat dit meer ferm en sportief voel, as jy dit so verkies.

Die uiteinde van die saak? Ek het die grondpad ietwat vinniger aangedurf as wat ek normaalweg sou, laeprofielbande en al. Die GLA klou behoorlik en dit was ’n verbasend gemaklike en prettige rit, selfs op plekke waar die reën gesorg het vir ’n lekker ou sinkplaat-oppervlak. Veiligheids­toerusting, wat sewe lugsakke sowel as vastrap- en glybeheer insluit, help ook om verdere vertroue in te boesem.

Vir diegene wat meestal in die stad rinkink, is die GLA nogal nie onprakties nie. Die bagasiebak is ’n akkommoderende 480 liter, maar die agterbankers het ongelukkig nie veel beenruimte nie weens die sportiewe ontwerp van die twee voorste sitplekke.

Die afwerking binne is netjies, ons het net gesukkel met die ongemaklike armleuning tussen die sitplekke.

Ek het ’n raps meer beenruimte gehad agterin die effens kleiner Audi Q2, maar sy kattebak van 355 liter is nou weer aan die knap kant.

Nóg ’n GLA-irritasie was die armleuning tussen die twee voorste sitplekke. Jy kan dit maklik vorentoe skuif, maar as jy hom weer wil terugskuif om die deksel op te lig, het jy omtrént spierkrag nodig. Gelukkig beskik die holte binne-in oor twee USB-sokke om jou te beloon vir al jou moeite.

Die GLA is ’n lieflike motor, maar as jy beplan om ouer kinders gereeld agterin te laat ry, sou ek iets effens groter oorweeg.

In hierdie prysklas is daar heelwat uitmuntende sportnutse. Die Volkswagen Tiguan is propvol toerusting vir R558 300. Die ekwivalente Audi Q2 kos R565 000. En moet beslis nie vergeet van die Swede nie! Volvo se V40 Cross Country boks teen R480 400.

Maar as jy jou hart op die GLA het – hy is veelsydiger as wat ’n mens dink.

Prys: Mercedes GLA 220d – R592 500.

Meer oor:  Rubriek  |  Toetsbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.