Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nuwe i10 rol die moue op

Terwyl die mark klappe deur die gesig kry van alle virus- en wisselkoers-kante af, sorg Hyundai Suid-Afrika se slim voetwerk dat hy nie net vroeg uit die blokke was ná die aanvanklike inperkingstyd nie.

Die groep weet ook presies in watter kryt hy moet aantree om sy verkope die vinnigste te laat klim.

Verlede week het die groep sy nuwe Grand i10 plaaslik bekend gestel, en dié knapie gaan net soos die kleiner Atos ’n flukse verkoper wees.

Vandat Hyundai die Grand i10 in 2014 hiernatoe gebring het, was hy ’n amperse moderne weergawe van sy Getz van weleer. Lekker kompak, rats en vrolik, maar nie so spartaans soos die Atos wat op werklike intreekopers gemik is nie.

Dis mos nou alte grand! Hyundai se nuwe Grand i10 het pas in die land aangeland en gaan die wêreld vir die VW Polo Vivo nog warm maak.

Hyundai sit dié resep voort deurdat die nuwe Grand i10 steeds waarde vir geld bied, maar met ’n lekker windmaker voorkoms wat byval by jong kopers sal vind, ’n billike prys en ’n lang lys standaardtoerusting.

Die nuwe Grand i10 het nogal redelik lyf bygekry. Hy is 4 cm langer, 2 cm breër en amper 3 cm langer tussen die asse as die voorganger.

Dit bied dadelik aan jou heelwat meer elmboog-, heup- en beenruimte in die kajuit.

Hoewel die lyf groter is, en die voorkoms ook in ’n mate verander het (die neus herinner aan ’n Opel Adam), het Korea die enjins en ratkaste onveranderd gelaat. Ons vermoed dis ’n koste-oorweging.

Die 1.0-liter (49 kW, 94 Nm, drie silinders) doen diens in die basiese Motion- en deftiger Fluid­-afwerkingsvlak. Dit is met ’n vyfgang-handrat- of viergang- outomatiese ratkas te kry.

Die ietwat frisser 1.2-liter (61 kW, 114 Nm, vier silinders) word slegs vir die Fluid gereserveer, ook met ’n keuse van ’n vyfgang-handrat- of viergang- outomatiese ratkas.

Die vyfgang-handratkas skakel lekker lig en maklik oor, presies wat jy soek as jy moet heen en weer in ’n besige parkeergarage.

Getrou aan Hyundai se aanslag bied die twee afwerkingsvlakke elkeen ’n lang lys standaardtoerusting, met omtrent geen opsionele items wat jou koopprys sommer gou die hoogte kan injaag nie.

Items wat opgeval het, sluit in die raakskerm vir al die modelle, asook die sleutellose toegang. Dis ’n baie nuttige funksie en is inderdaad uniek in die goedkoper Motion se pryssegment in die mark.

Die Fluid se verhitte kant­spieëls, en die kragsok vir die agterste sitplekke tesame met die parkeergonsers agter (laasgenoemde twee items is by al die modelle standaard ingesluit) maak die Grand i10 se pakket ook ál meer aanloklik.

Vir so ’n klein stadsmotor voel die klein Grand i10 glad nie te beknop nie. Beenruimte is genoeg vir kleingoed of jong tieners om gemaklik sportveld toe gekarwei te word, en die laairuim sal ’n sportsak of drie kan sluk.

Hyundai sê hy het die A-pilaar ietwat smaller gemaak om beter sig skuins na voor te bied. Dis natuurlik moeilik om enige verskil dadelik agter te kom. Maar in die verkeer was daar nooit ’n blindekol iewers rondom jou waar ’n sportnuts jou uit die pad uit wou skouer nie.

Die segment vir nuwe stadsmotors rondom die R200 000-kerf gaan ál besiger raak.

Ons kon slegs die 1.0-liter weergawe ry, en dan was dit ook aan die kus – wat manna vir ’n natuurlik geaspireerde eenliter is. Sy kort ratte behoort hom op die Hoëveld te help as sy asem kort raak, maar hier onder by die kus het hy lewendig genoeg gevoel.

Wat eintlik die meeste beïndruk het, was sy vasvoetigheid as jy met entoesiasme om ’n haastige draai Sarel.

Die sagte vering laat hom eers net wegsink na die buitekant, maar dan hou hy sy lyn heel gedwee. G’n korreksie nodig met die stuur na binne of buite nie.

Die segment vir nuwe stadsmotors rondom die R200 000-kerf gaan ál besiger raak.

Mense soek bekostigbare wiele, en dis wat voertuie soos die Renault Kwid, die Datsun Go en die VW Polo Vivo jou bied.

Hyundai se klein Grand i10 bied ’n stewige aanbod, met straks sy lang lys standaardtoerusting wat ’n tweede kyk werd is.

Meer oor:  Motors  |  Hyundai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.