Isuzu het pas die sluier gelig oor sy nuwe MU-X, wat hy oor ’n jaar of twee ook na Suid-Afrika sal bring.
Die MU-X is die groep se hardebaard-sportnuts wat op die D-Max-bakkie geskoei is. Dit sal met die Toyota Fortuner, die Ford Everest en Mitsubishi se Pajero Sport meeding.
Al dié nutsvoertuie is op hul onderskeie bakkies se leerraam-onderstelle gebou, maar die bladvere agter maak plek vir kronkelvere om ’n meer gesinsmotor-soort rit te help bied.
Plaaslik het die MU-X die stokkie oorgevat by sy voorganger, die Chevrolet Trailblazer. As ’n Isuzu moes hy die Chev-enjins prysgee, met veral die Duramax-enjin van 2.8 liter van Chev wat ’n puik kragbron was. In sy plek het Isuzu sy eie 3.0 liter gesit wat hy ook in sy D-Max-bakkies benut. Maar dié ougenerasie-enjin is al so traag in vergeleke met sy mededingers s’n dat hy maar ver te kort skiet wanneer dit by pad-dinamika kom. Dis jammer, want as ’n voertuig is die MU-X heel gaaf. Goed gebou, lekker hardebaard in die veld en ’n gerieflike ry-motor. Sy enjin is net traag op die oop pad.

Isuzu se nuwe MU-X beloof ’n veel moderner kajuit en afwerkings as die huidige model.
Wat die nuwe model betref, sal hy in dié opsig baat vind by die opgeknapte weergawe van daardie 3.0 liter-diesel. Die nuwe enjin lewer ’n veel lewendiger 140 kW en 450 Nm, syfers wat al heelwat nader aan die mededingers s’n is.
Ons is die meeste opgewonde oor die afwerkings binnelangs. Uit die eerste foto’s kan ’n mens aflei dat Isuzu die begroting veral daarop ruim beskikbaar gestel het. Die instrumentpaneel herinner meer aan ’n gesinsmotor se omvou-paneel as dié van ’n werkesel-bakkie s’n, soos die huidige weergawe aan herinner. Kyk ook na die groot raakskerm, die netjiese gebruik en plasing van dowwe aluminiumpanele en die digitale skerm voor die bestuurder. Interessant is die reeks skakelaars onder die raakskerm en ’n rits skakelaars weerskante van die rathefboom. Isuzu sal mooi moet besluit waar hy sy sportnuts wil posisioneer. Ons reken ’n eerlike veldryer en hardebaard met ’n kanniedood-houding sou in die kol wees. Verwag hom einde 2021 of vroeg 2022 in Suid-Afrika.