Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nuwe reëls kan lewe blaas in F1

’n Jaar van nuwe beginne, laaste kanse en onbeantwoorde vrae.

Dis die voorspelling vir die nuwe Formule Een-seisoen, wat op 28 Maart in Bahrein begin en uit die meeste renne tot nog toe in een jaar, 23, bestaan. Die Australiese, Chinese en Viëtnamese rondes is vroeër vanjaar reeds óf uitgestel óf gekanselleer weens die Covid-19-pandemie.

Die onsekerheid oor reisreëlings is beswaarlik 2021 se grootste uitdaging. Vanjaar betree die bestaande era van oppervlak-gegronde aërodinamika sy swanesang en word alle beplanning gefokus op 2022, wanneer die sport se mees omvattende reëlwysiging wat betref grondeffek-aërodinamika in werking tree.

Danksy hierdie verandering sal F1-motors se voor- en agtervlerk verklein word en dienooreenkomstig ’n groter afhanklikheid hê van die lug wat tussen die onderkant van die romp en die baanoppervlak vloei, ten einde die opwek van afwaartse druk te bewerkstellig.

Waarom? Oppervlakgegronde aërodinamika skep reusevolumes turbulensie in ’n renmotor se sleurstroom, wat dit haas onmoontlik maak vir ’n opponent om hom te volg – en verbysteek kwyn.

grafika

Van die mees intense baardvrywery in 2021 gaan dus wees oor die balanseer en berekende oorskakeling van ontwikkelingsbronne van vanjaar na volgende jaar se motors. Vir ’n verandering is dít nie net ’n tameletjie vir armer spanne nie: ’n begrotingingsperk (met die salarisse van jaers en topdrie bestuurderslede uitgesluit) van $145 miljoen geld juis van 1 Januarie. Mercedes se verowering van sy sesde dubbele jaer- en vervaardigerstitel in 2019 het $442 miljoen gekos.

As ’n tussentydse stap moet motors in 2021 ’n geraamde 10% afwaartse druk inboet deur ’n verpligte verkleining van die vloergedeelte net voor die agterwiele, tesame met die verwydering van kepe en gleuwe om dié se rand.

Laasgenoemde seël die sy-areas onder die vloer en voorkom dat ongewensde turbulensie die versnelde vloei van skoon lug deur die lugsnoer, wat die motor aan die baan vassuig, versteur.

Dit sal spanne omtrent een sekonde se rondtetyd kos.

’n Verdere sekonde sal verlore gaan vanweë die gebruik van swaarder Pirelli-bande met meer duursame sywande (hoewel die loopvlak onveranderd bly) as tevore.

Die verlies van aërodinamiese sowel as bandgreep sal motors minder stabiel en minder aangenaam maak om te bestuur.

Wat jaers en spanne betref, is die grootste opwinding oor die transformasie van die voormalige Racing Point-span na Aston Martin, waar Sebastian Vettel hom sal aansluit nadat sy ster oor die afgelope ses jaar by Ferrari verskiet het.

grafika

Dié Duitser se kinderdroom om Michael Schumacher se sukses by F1 se luisterrykste span na te boots, is aan skerwe. Hy het nouliks die 2017- en 2018-wêreldtitel misgeloop, maar ’n gebrek aan stabiliteit in die spanbestuur, ’n oormaat ongedwonge foute, sowel as die aankoms in 2019 van sy jonger en mettertyd meer geliefde spanmaat, Charles Leclerc, het Vettel ontgogel en later laat ontspoor. Die uitgerekte stilte as aanloop tot sy uiteindelike genadeskoot deur Ferrari se weiering om Vettel se kontrak vir 2021 te hernieu, was een van 2020 se felste oomblikke.

Alte bewus van die Racing Point-span se status as ’n de facto Mercedes-satellietspan wat vanjaar aan die ontvangkant staan van ’n rits haastige onderdele van die 2020-Silwer Pyl – die vinnigste F1-motor tot nog toe – is ’n nuwe daeraad dalk net die doepa wat Vettel nodig het om die lood terug in sy potlood te druk.

Laasgenoemde se sitplek by Ferrari sal gevul word deur McLaren se Carlos Sainz, terwyl dié vervang word deur Daniel Ricciardo (eks-Renault), wat op sy beurt plek maak vir die terugkeer van die Spaanse kanniedood-veteraan Fernando Alonso.

Die McLaren-span loop vanjaar op Mercedes-krag en Renault word herdoop na Alpine, die naam van dié Franse vervaardiger se verrigtingsafdeling.

By Red Bull, as 2020 se naasbeste span, groet die enjinverskaffer, Honda, F1 teen jaareinde en sal dié kragkoeldrankieknape die enjin erf en self van 2022 aan die kook hou. Die Mexikaan Sergio Pérez het Racing Point verlaat en sluit hom vanjaar by Red Bull aan.

Vir die ongesalfdes soos Sainz, Ricciardo en Pérez, waarvan elkeen se F1-CV tevore deur omstandighede ’n spoedwal geslaan het, wink 2021 soos ’n skoon lei met die seldsame belofte van ’n tweede kans in ’n piranhasport in wie se leksikon konsepte soos lojaliteit en sentimentaliteit geen bestaansreg het nie.

Daarteenoor pronk F1 se adel – Vettel (33) en Alonso (39), met ses jaerskrone tussen hulle, maar albei word gejaag deur die spook van onblusbare ambisie en die gejeuk van onafgehandelde sake – terwyl hulle brandende brûe agterweë laat en die uurglas leegloop.

Salig onbewus is hul nemesis: die heersende sewemalige wêreldkampioen, Mercedes se sir Lewis Hamilton, wat vanjaar die geskiedenis kan herskryf wanneer hy sy agtste kroon en 100ste loopbaansege verower. Met min om nog te bewys, is sý visier reeds gerig op ’n post-F1-bestaan en sal bespiegeling oor die onlangse verlenging van sy kontrak – om slegs vanjaar nog vir Mercedes te jaag – aanhou om die sportopskrifte in 2021 te oorheers.

F1 kan kwalik nog ’n 2020 bekostig – nie in korona-terme nie en nog minder in ’n herhaalde Mercedes-massamoord. As die futlose 2020-seisoen moes instaan as ’n gorerige voorgereg vir 2022, en laasgenoemde die hoofgereg in die beloofde land, dan moet 2021 seker die mondskoonmakertjie wees.

In Normandië bedien fynproewers Le Trou Normand, ’n skeut appelbrandewyn tussen disse om die vorige ronde se nasmaak weg te brand. Kan F1 in 2021 bloot net as interimjaar verras?

  • Skink solank ’n dop en laat die gewag begin. Maar maak dit sommer ’n dubbel. F1 se voorseisoentoets vind van 12 tot 14 Maart in Bahrein plaas.
Meer oor:  Motors  |  Formule 1-Ren
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.