Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nuwe Sprinter kry ‘ruim van gesinsmotor’
Mercedes se jongste Sprinter-reeks is weer in ’n verskeidenheid van modelle – van ’n bakkie-weergawe (links) tot die tradisionele paneelwa (regs) en ’n bussie – te kry.
Die paneelwa is in verskillende asafstande en dakhoogtes te kry om by jou behoeftes te pas. Ons hou van hierdie kêrel se plan om wyn in grootmaat aan te koop.

Mercedes se nuwe Sprinter-bussie beloof om die lewe van die paneelwabestuurder na captain Kirk-vlakke te neem.

Die derdegeslag-Sprinter is pas in Duitsland onthul, maar behoort eers vroeg volgende jaar sy weg na Suid-Afrika te vind.

Hoewel daar nog nie besluit is presies watter modelle hierheen gaan kom nie, gaan die Europese mark kan kies uit die tradisionele paneelwa, ’n bakkie-formaat, die Tourer-gesinsbus, ’n meer gestroopte vervoerbus, en ’n kajuit-plus-onderstel vir spesialis-bakbouers.

Daardie paneelwa-module is natuurlik ook verder verdeelbaar in verskillende lengtes en hoogtes, wat die laairuim direk beïnvloed.

Onder die enjinkap sit Mercedes twee van sy bekende turbodieselenjins in, ’n groot 3 liter-V6 en die groep se nuwe 2,1-liter met vier silinders. Die drieliter-diesel bied 140 kW en 440 Nm wringkrag, terwyl die 2,1-liter in verskillende kragvlakke te kry is, wisselend van 84 kW tot 130 kW.

Die toekoms in

Die groot nuus oor die nuwe bus is egter die rits tegnotruuks in die kajuit wat die tradisionele wit paneelwabestuurder reguit na die vlak van die jongste weeldemotors bring.

Die kajuit is straks nie so deftig met leerbekleedsel nie. Eerder is dit die tegnologie daarin vervat wat konnektiwiteit en interkommunikasie nou soveel omvattender maak.

Die instrumente beslaan nou Mercedes se nuwe MBUX-paneel (Mercedes-Benz User Experience), wat in wese ’n breë digitale paneel is wat voor die bestuurder staan waar sy ou analooginstrumente in die verlede sou wees.

’n Groot inligtingskerm is oor die hele middelste deel van die voorpaneel met knoppies op die stuurwiel om die radio te verstel.

Jy beheer al die inligtingskerms op die groot paneel vanaf ’n draaiknop wat jou toegang tot ’n rits nutsfunksies gee.

Dit bevat onder meer ’n multimedia-stelsel en koordlose verbinding met jou slimfoon wat al jou foon se toepassings ook kan benut. Jy kan met stembevele die stelsels beheer, oproep of manipuleer, elke keer beginnende met die frase “Hei, Mercedes”.

’n Verdere voordeel van die stelsel is dat vlootbestuurders self, op hul beurt, nou vanuit hul kantoor intyds toegang tot die motor en sy data kan kry.

Dus, die vlootbestuurder kan intyds sien waar die voertuig is, hoe vinnig hy ry en wat sy enjininligting als vertel. Die vlootbestuurder kan ook direk met die voertuig en dus die bestuurder kommunikeer, deur opdragte te stuur of inligting van die bestuurder aan te vra.

Nuwe opdragte aan die bestuurder kan so dus direk na die voertuig gestuur word, waarna die drywer dit op die groot inligtingskerm kan oproep. Die voertuig sal dan self die nuwe adres in sy GPS-stelsel kan sit en jou daarheen navigeer.

Voorlopig bied Mercedes al hierdie slim truuks in agt verskillende pakkette vir sy kopers aan, maar dit is nog onseker of Suid-Afrika dit ook so gaan doen (of eerder als as een bondel teen ’n ekstra koste aanbied).

In die bussie kan die sitplekke vooroor gekantel word vir ekstra en versteekte bêreplek onder die stoel.

Die pakkette behels onder meer ’n toesighou-pakket, vlootkommunikasie, onderhoudpakket en ’n outomatiese logboek-pakket.

Wat die bussie-weergawes betref, sal elke ry sitplekke hul eie USB-sokke hê. Daar sal ook toegewyde lêplekke wees waar jy jou slimfoon koordloos kan laat herlaai.

Mercedes sê ook sy Tourer sal voortaan sitplekke hê wat maklik uitgehaal kan word om ekstra pakplek in die kajuit te skep.

Benewens die gewone reeks modelle sal daar later in 2019 ook ’n e-Sprinter kom wat vir ligte take in stede geskik is. ’n Nuwe, goedkoper intreemodel maak ook sy buiging wat net voorwielaandrywing sal hê.

Meer oor:  Mercedes  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.