Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nuwe Swift sprei sy vlerke

Suzuki vier vanjaar sy eerste dekade in Suid-Afrika en die model wat die paadjie van die begin af saamgestap het, is die Swift.

Ná byna tien jaar is dié staatmaker steeds op sy pos, maar bevind hom in ’n segment wat net al hoe mededingender raak en baie pryssensitief is.

Nie dat Suzuki te bekommerd hoef te wees nie. As vervaardiger oortref hy gereeld sy eie verkoopsrekords en die Swift het ’n groot aandeel daarin; hy is Suzuki se topverkoper in Suid-Afrika met ongeveer 19 000 Swifts wat sedert sy bekendstelling in 2008 verkoop is. En ons verstaan hoekom. Hy het ’n netjiese, vrolike ontwerp, is stewig aanmekaar gesit, pret om te bestuur en bied goeie waarde vir geld. Die derde generasie wat pas sy verskyning gemaak het, kan net hierop verbeter. Of hoe?

Heel spoggerig, reken ons. Die nuwe Suzuki Swift het sy basiese vorm behou, maar lyk nou effens ronder en platter as voorheen. Die intreemodel (links) lyk egter effens armsalig.

Dis als in die heupe

Die nuwe Swift word op Suzuki se sogenaamde Heartect-platform gebou, wat ook vir die Ignis en effens groter Baleno gebruik word. Die platform is nie net stewiger nie, maar ook ligter, wat beteken die nuwe Swift weeg ’n skamele 875 kg, ’n hele 95 kg ligter as sy voorganger.

In sy nuwe gewaad het ons ’n Swift wat steeds kompak is, maar 4 cm breër in sy sokkies staan. Hy is met 1 cm ’n raps korter gemaak, maar die voorste en agterste wielspoor is nou onderskeidelik 4 cm en 3 cm breër, terwyl die asafstand met 2 cm gerek is.

Die nuwe Swift se ontwerp is heeltemal nuut, maar die kernbestanddele is behou, terwyl die resep nou meer skop het danksy verskeie sensuele lyne en nuwe ont­werp­elemente.

Die skouerlyn en wielboë is meer prominent gemaak en die effe lawwe groot hoofligte van sy voorganger is nou ingekatrol met ’n meer kompakte ontwerp, terwyl die rooster groter gemaak is.Suzuki het die vorige model se ronde agterstewe meer vorm gegee met die agterligte wat vierkantiger vertoon en ’n voulyn bolangs by die luikdeur.

Soos met sy voorganger is die A- en B-pilaar in swart afgewerk, maar die nuwe model neem dit ’n stap verder met die C-pilaar wat ook gedeeltelik verdonker is terwyl die deurhandvatsel daarby geïntegreer is. Dit gee die dak daardie “swewende” voorkoms wat deesdae so gewild is.

Die agterdeur se handvatsel is nou netjies by die C-pilaar geïntegreer en bied ’n skoner voorkoms agterlangs.

Hieruit kan jy kies

Die reeks bestaan soos voorheen uit die GA- en luukser GL-model.

Die 1.2-liter-viersilinderenjin van sy voorganger word weer ingespan, gekombineer met ’n vyfgang-handratkas, terwyl die GL ook met ’n vyfgang gerobotiseerde outomatiese ratkas beskikbaar is.

Dié ratkas werk soos ’n handrat, maar sonder die koppelaar – die rekenaar laat die motor vanself die koppelaar aktiveer.

Die topmodel, die GLX, kom moontlik later vanjaar, asook die Swift Sport met sy warm 1.4-liter-turbo-enjin, wat rondom die middel van 2019 verwag word.

Netjies en modern, maar die harde plastiek beïndruk nie juis nie.

CD? Nee, raakskerm

Aan die binnekant het die nuwe Swift ’n jeugdiger en moderner voorkoms, wat netjies vertoon. Die plastiek wat gebruik word, is egter van die harde, blinkerige soort wat effens goedkoop lyk. Alles is darem netjies en stewig aanmekaar gesit met ’n ergonomiese uitleg en verskeie bêreplekke.

Daar is ’n paar silwer aksente hier en daar en die uitgeboude, ronde hulse vir die spoedmeter en toereteller lyk sommer lekker sportief.

Die GL-model is goed toegerus met onder meer elektriese vensters, elektriese verstelling vir die kantspieëls, ritrekenaar, lugversorging en klankstelsel met Bluetooth en USB-sok. Die GA is meer basies en moet onder meer sonder ’n klankstelsel en stuurwielkontroles klaarkom.

Die sitplekke is lekker sag en daar is nou meer kopruimte agter en meer skouerruimte vir die voorste insittendes. Belangriker nog is dat die bagasieruim van 268 liter met ’n heel indrukwekkende 58 liter gegroei het.

Op die pad

Die Swift se normaal-geaspireerde 1.2-liter-enjin draf teen ’n heel stewige pas, al lewer hy nou ironies genoeg 2 kW minder as voorheen (61 kW teenoor 63 kW). Die “vet­jies” wat hy afgeskud het, vergoed egter daarvoor. Hy voel op sy gemaklikste in die stad, waar die enjin selfs rats voel en met gemak rooilyn toe gedruk kan word. Op die snelweg en veral teen opdraandes moet ’n mens egter gereeld laer ratte haak om nie te veel momentum te verloor nie – en dit is aan die kus.

Ons het nie die outo’kas beproef nie, maar te oordeel aan die rukkerige werking van die Kwid se soortgelyke stelsel het ons ons bedenkinge. Die handrat het wel ’n aangename en gladde wisselaksie.

Terwyl die kraglewering soms tekort skiet, oorskry die Swift die verwagtinge met sy ritgehalte en hantering.Die stuur is lig, maar met ’n akkurate gevoel, en danksy sy “viervoetigheid” kan draaie met entoesiasme aangepak word.Sy absorberende rit kry ook ’n regmerkie in ons boek.

Laaste gedagte

Die nuwe Swift bou voort op sy voorganger se kernwaardes en met verbeterings op verskeie gebiede bied hy in geheel ’n veel aantrekliker pakket. Ten spyte van ’n enjin wat ’n bietjie sprankel kort en ’n binneruim wat nie orals ewe veel beïndruk nie, twyfel ons nie dat die nuwe Swift voortaan selfs helderder vir Suzuki sal skyn nie.

Meer oor:  Suzuki  |  Nuwe Model  |  Motors  |  Swift
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.