Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nuwe T-Roc wys sy sportiewe aanslag

So stil-stil het Volkswagen se nuwe T-Roc einde verlede jaar sy verskyning op ons paaie kom maak.

Dis ’n redelike nisvoertuig, hierdie knaap. ’n Raps kompakter as die Tiguan, wat so gewild onder Suid-Afrikaanse gesinne is, maar groter en deftiger as die T-Cross, wat ons algaande meer op die pad sien.

Waarom sou VW dan hierdie T-Roc na die mark bring en veral na Suid-Afrika? ’n Mens vermoed VWSA het meer van ’n strategiese plan met hom as suiwer volumeverkope.

Volkswagen se nuwe T-Roc is ’n pragtige sportnuts met meer GTI-bedoelings as stofpadry. Hy vreet die langpadmyle behoorlik op. Foto: Marnus Hattingh

Vir die Europese mark pas die T-Roc met sy woelige Golf GTI-enjin en dinamiese skuinsrug-ontwerp nommerpas. Daar is selfs ’n oopdak-weergawe. Hul mark is ook groter, wat meer lêplek bied vir nismodelle soos hierdie. Die T-Roc is dus ’n ryding vir iemand wat nie die hoekige normaliteit van die Tiguan wil hê nie en na iets groter en deftiger as die T-Cross soek.

Hy wil ook nie in ’n bonkige voertuig ry wat “sportnuts” skreeu in Hoofstraat nie. Dus, iets meer subtiel, sjiek en modern; in voorkoms en in manier van doen.

GTI op stelte

En dis waarin die T-Roc uitmunt (jip, selfs die ruk-en-rol-naam is gepas). Hy lyk meer soos ’n haastige luikrug as ’n suiwer sportnuts.

Sy afwerking binne is lekker modern en uitdagend. Kyk ook na die laeprofielbande, en subtiele skermstroke by die wielboë.

Selfs die grondvryhoogte (16 cm) sê meer blitsbuks as sportnuts. Jy ry dus in ’n ryding wat meer van ’n GTI-op-stelte is as in ’n suiwer nutsvoertuig. En dis lekker.

Ek het die langpad gehaak met die T-Roc en ook ’n paar honderd kilometer grondpad gery deur die Groot-Karoo. My toetsmodel was die 2.0-liter-turbo (162 kW, 320 Nm), maar daar is ook ’n 1.4-liter-turbo as intreemodel beskikbaar. Maar dis nie rêrig die een wat jy wil hê nie.

As jy die T-Roc soek, pas die tweeliter se warmer verrigting beter by sy voorkoms.

Op teerpaaie ry hy heerlik.

Die kajuit is skoon en funksioneel – ons het gehou van die groot raakskerm met sy eenvoudige werking. Kyk ook die sportsitplekke in hul tweekleurafwerking – heerlik!

Die T-Roc is klankdig en dit voel of jy in ’n stil kokon sit soos jy oor die aarde seil. Die ryposisie is wel nie sportnuts-regop en hoog nie. Sou jy daarna soek, sal jy eerder ’n Tiguan moet opsaal of die kleiner T-Cross.

Die afwerking binne is als uit die Golf-familie geneem. Daar is ’n mooi, groot raakskerm wat heel maklik navigeerbaar is met al sy nutsfunksies. Skakelaars op die stuurwiel help ook om vinnige instruksies uit te voer.

Die T-Roc in hierdie topmodel-weergawe is te kry met permanente vierwielvastrap en vier ritmodusse. Om eerlik te wees, ek het nooit nodig gehad om enige van daardie modusse te benut nie. Selfs nie op die grondpad nie. Met vierwielaandrywing het jy genoeg beheer om in die draaie net meer vet te gee.

Die GTI-enjin is ook met die VW-groep se sewegang-dubbelkoppelaar-ratkas toegerus en nie die agtgang-outokas nie. Die DSG-tipe ratkas is straks oorbodig, maar wisseling geskied wel blitsvinnig. Dis nuttig as jy wil verbysteek op die langpad en jy moet vinnig twee ratte afrat.

Ek het maklik, op ’n baie besige N1-snelweg tussen taxi’s en vragmotors deur, van ’n toer-spoed in sewende rat vier ratte afgerat na derde om die toerenaald bokant 4 000 r/min. te kry – reg in die middel van die kragstrek. Dan skiet daai T-Roc daar weg soos ’n samesweringsteorie op sosiale media.

Langpad-drawwer

Nog hoogtepunte? My brandstofverbruik het werklik verbaas.

Vir ’n tweeliterturbo het ek om 7,5 liter verwag, maar teen ’n matige spoed kon ek maklik 5,7 liter haal. Dis puik. Met die wind van voor en as jy aanstoot, het dit wel na 8,0 liter gespring, wat weer petrolenjins se liggeraaktheid vir harde werk wys.

Op die grondpad was die bande die grootste probleem. Die laeprofiel-tekkies verlang mos maar ’n stywe oppomp. Dis piekfyn vir die teerpad, maar op grondpaaie het jy min “meegee” en jy voel elke klip se stamp in jou rug. Jy “dryf” ook maklik oor die pad om ’n draai.

Ek het maar tussen 60 km/h en 80 km/h gehandhaaf.

Afsaal

Ek sien die T-Roc se kopers as jong gesinsmense wat nie lus voel vir die gewone sportnuts-voorkoms nie.

Sy luikrug-stilering en GTI-enjin bied hom ’n lekker wintie houding en as jy dalk ’n Mini Countryman oorweeg het, kan jy ook na die nuwe Volksie kyk.

Hy’s die moeite werd.

Prys: VW T-Roc 2.0 TSI 4Motion – R548 400.

Meer oor:  T-Roc  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.