Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nuwe 'Twin' gemaak vir avontuur

Om ’n legende te laat herleef, is nie maklik nie. Die dag wat Michael Schumacher se seun, Mick, op die wegspringstreep sit, sal hy nie kan voorgee dat die “Schumacher” op die kant van sy motor niks beteken nie. Die verwagting wat so ’n legendariese naam dra, is hoog.

Die langpad wink! Honda se nuwe Africa Twin bied nou ’n groter tenk en windskerm om daardie langpadryery sorgeloos te maak.

In die motorfietswêreld geld dieselfde vir Honda se Africa Twin. In 1984 het Honda besluit om ’n motorfiets te bou met ’n enkele doel in gedagte: Om aan die destydse Parys-Dakar-uithouren te kan meeding.

Uit dié projek is die NXR750 gebore. In 1986 word die NXR750 die eerste waterverkoelde motorfiets wat die wedren kon wen. Die fiets was sy tyd so ver vooruit dat hy die daaropvolgende jare die Dakar-ren heeltemal oorheers het.

In dieselfde jaar (1986) stel Honda ook ’n produksieweergawe bekend. Dié fiets, die Africa Twin, het homself oor die jare gevestig as een van die beste avontuurfietse wat ooit gebou is. Ná verskeie modelle is produksie in 2003 gestaak.

Toe, 12 jaar later, het Honda die Africa Twin-naam weer laat herleef. En saam met hierdie fiets het ’n enorme verwagting gekom.

Die wêreldbekendstelling was, heel gepas, in Suid-Afrika waar die Africa Twin nie net op die teerpaaie moes uithaal en wys nie, maar ook op die tegniese terrein van die pad af. Klippe, sand, water en tweespoorpaadjies is waar ’n motorfiets soos hierdie sy staal moet wys.

Die Africa Twin het nie teleurgestel nie. Die algemene gevoel was dat die legendariese Africa Twin inderdaad hergebore is as die nuwe CRF1000 Africa Twin.

Die kleurraakskerm kan maklik met handskoene aan gemanipuleer word. Die ikone is selfs met ’n stoflaag heel leesbaar.

Verkoopsyfers beaam dit. Die fiets stel ’n standaard in hierdie segment. Toe Honda dus aankondig dat hy nou, vier jaar later, ’n nuwe CRF1100 Africa Twin gaan uitbring, was die vraag onwillekeurig “waarom”. Hoeveel kan mens tog nou verbeter?

Ekstra krag is altyd welkom, ja, maar as jy gedink het die nuwe fiets is bloot ’n Africa Twin met ’n ekstra 100 cc-verplasing, is jy verkeerd.

Die CRF1100 is basies ’n heel nuwe fiets. Dit is ligter, kragtiger, beskik oor meer tegnologie en is makliker om te beheer. Die fiets self is heeltemal herontwerp, met die brandstoftenk wat nou laer sit. Die sitplek voor is nouer, wat help dat korter ryers hul voete makliker op die grond kan sit.

Die ryer sit nou ook meer “in” die fiets as bo-op soos met die vorige model.

Die raam is nuut en die sub-raam is ’n aparte onderdeel, so sou jy val en jou bagasie buig die raam, hoef jy slegs die subraam te vervang.

Dit is nog een van die nuwe Africa Twin se kenmerke: Elke verandering is met die praktiese in gedagte aangebring. Aanboord is daar nou ’n kleur-raakskerm (wat ook met handskoene werk) kompleet met Apple Carplay toegerus.

Die Bosch-elektronika beheer al die stelsels en monitor ook deurentyd die leun- en longitudinale kantelings van die fiets, hetsy deur ’n draai, op die agterwiel of onder swaar remwerk.

Die nuwe Africa Twin is in twee weergawes te kry. Daar is ’n basiese model vir alledaagse ontspanningsgebruik, en ’n meer toergerigte fiets met onder meer ’n groter brandstoftenk.

Die basiese model bied ’n 18,8 liter brandstoftenk, ’n laer windskerm en wiele met binnebande.

Adventure Sport

Die hardebaard Adventure Sport het op sy beurt ’n 24,8 liter tenk wat jou ’n reikafstand van 500 km bied.

Albei fietse het egter dieselfde 1 084cc-enjin en elektroniese stelsels. Albei is ook beskikbaar met ’n tradisionele of dubbelkoppelaar-outomatiese ratkas, maar die karakter van die fietse verskil hemelsbreed.

Die Adventure Sport is gebou vir toer. Die hoë windskerm bied beter windbeskerming en sou jy die outomatiese model kies, is daar die opsie vir elektroniese vering.

Die rit is gemaklik dog lewendig danksy die verbeterde krag en vinnige ratskakelings. Dis duidelik dat hierdie ’n myle-eter van formaat gaan wees.

Die basiese weergawe voel op sy beurt heelwat kleiner en ratser, amper soos ’n groot endurofiets wat jy tussen jou bene kan rondgooi. ’n Skalpel, as’t ware.

Maar kies jou fiets reg vir waarvoor jy hom wil benut. In die tegniese terrein is die outomatiese ratkas puik en neem dit al die dinkwerk uit jou hande.

Honda het gewis raakgevat met sy jongste Twin en dié keer doen hy boonop sy naam gestand: Twee fietse met twee karakters om van te kies.

Meer oor:  Mick Schumacher  |  Michael Schumacher  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.