Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Nuwe X-Trail g’n hierjy meer

Laat dit nie gesê word Nissan is haastig om sy nuwe X-Trail na die mark te bring nie. Die Japanse vervaardiger het pas by die Shanghai-motorskou die nuwe, vierdegeslag-X-Trail onthul, maar bygevoeg die model sal eers oor ’n jaar in Europa beskikbaar wees.

Nissan se vierde X-Trail is al ’n jaar gelede in Amerika bekend gestel, en is nou oor nog ’n jaar by ons te kry.

Suid-Afrikaners sal dus nog langer moet wag.

Wat dié getalm vir een van sy gewildste sportnutse nog vreemder maak, is dat Amerika die identiese voertuig (wat daar as die Rogue bekend staan) alreeds verlede jaar ontvang het. Dus, die res van die wêreld moet twee jaar wag alvorens hulle die nuwe X-Trail kan ontvang.

Die X-Trail lyk wel heel skaf­lik met sy uitgeboude wielboë en redelik regop profiel. Trouens, daar is nog iets van die Toyota RAV4 in sy voorkoms te herken.

Presies watter enjins en ratkaste vir die Europese X-Trail ingespan gaan word, is nog onseker.

By die Shanghai-skou het Nissan net genoem dat sy nuwe E-Power-aandryfstelsel ingespan sal word. Maar watter ander enjins beskikbaar gaan wees, asook watter modelle vir ons mark op pad is, is nog heeltemal duister.

Die E-Power-stelsel is nogal interessant. Nissan het dit reeds in sy nuwe Qashqai in Amerika in gebruik geneem, en kombineer ’n elektriese motor met ’n binnebrandenjin. Maar, pleks van ’n tradisionele hibridiese stelsel waar die e-motor met ’n klein battery werk om ’n bietjie krag aan die gewone enjin te verskaf, dien die petrolenjin in die E-Power-stelsel eerder as ’n kragopwekker vir die e-motor se battery.

’n Groot inligtingskerm oorheers die voorpaneel, maar let op die kort, stomp rathefboom.

Dus, jy ry soos met ’n batterymotor slegs op elektriese krag, maar pleks van ’n groot battery in die vloer, gebruik die stelsel ’n 1.5-liter-petrolenjin om as kragopwekker te dien. Die enjin help die battery herlaai. As jou brandstof op is, tap jy net die tenk vol met gewone petrol, wat vinniger is as om ’n battery by die muursok te herlaai.

Die stelsel lewer 140 kW en 330 Nm wringkrag, wat baie goed is vir so ’n klein aandryfstelsel. Nissan beweer ook dat die petrolenjin in hierdie aanwending minder brandstof verbruik as hy die voertuig op sy eie sou moes aandryf, en derhalwe ook minder skadelike uitlate vrystel.

Ander enjins tot Nissan se beskikking oorsee is ’n nuwe 1.5-liter-petrolturbo wat met drie silinders werk, en ’n 2.5-liter-natuurlikgeaspireerde enjin wat wisselende druk het.

Dié enjin is egter net vir die Amerikaanse en Chinese markte geoormerk.

Tipies van ’n Japanse vervaardiger is die ratkas ’n CVT-tipe- outomatiese ratkas. Maar die goeie nuus is dat jou nuwe X-Trail steeds oor 4x4-vastrap sal beskik, met vier verskillende ritmodusse te kies.

Binnelangs sien ons ’n mooi, moderne kajuit-uitleg met digitale skerms op die instrumentpaneel en voor die bestuurder. Daar is ook ’n ruitvertoon-funksie vir topmodelle, net soos selfstuur wat jy op hoofweë kan aktiveer.

Ander luukshede vir die kajuit sluit in ’n geraas-kansellering-funksie waar die blikbrein spesiale klankgolwe kan aktiveer om geluidloos die steurende golwe uit te kanselleer.

Jy het drie-sone-klimaatbeheer ook, sou iemand van ’n koel en ’n ander van ’n warm lug oor die bene hou.

Met sy mooi voorkoms en die gewilde segment waarin hy meeding, om nie van die rits opwindende nuwe tegnologieë te praat nie, sou ’n mens graag meer inligting vanaf Nissan oor sy nuwe X-Trail wou sien.

Meer oor:  Motorskou  |  Motors  |  X-Trail
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.