Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
O aarde, Formule E, help so ’n bietjie daar!

Met Formule Een wat deesdae opwindende kykstof verskaf noudat die kampioen Lewis Hamilton suksesvol uitgedaag word deur sy Mercedes-spanmaat Valtteri Bottas en Red Bull se Max Verstappen, was die vorige naweek se Formule E-byeenkoms in skrille kontras ’n yslike grap.

Die batterymotor-brigade het in Valencia ’n omgewingsvriendelike stuk rubber gaan brand. Dit was die eerste keer in die reeks se amper tien seisoene wat hulle op ’n ware renbaan ry en nie ’n straatbaan nie.

Die batterymotor-reeks, Formule E, het ’n chaotiese eerste proesel van ware renbane gehad toe ’n string motors sonder krag gaan staan het.

Toe val dinge uitmekaar. Wanneer iemand van die baan af jaag, sit hy in die gruis vas. Dit het daartoe gelei dat die ren vyf keer ’n veiligheidsmotor-tydperk gehad het.

Met elke geelvlag-tydperk trek die organiseerders ’n homp beskikbare krag van die voertuie af. Dit nou om te keer dat die jaers deur die loop van die ren krag bespaar, net om aan die einde eers voluit te jaag.

Toe die laaste ronde aanbreek, het amper niemand meer batterykrag oorgehad nie. ’n Klomp moes parkeer en nog ’n spul moes teen loop-spoed om die baan ry.

Die voorloper het ver terug klaargemaak, die laaste ou in die topvyf, ensovoorts.

Vir ’n skouspel, om ’n reeks te bemark en om ernstig op­geneem te word, was dit ’n fiasko­ – renmotors wat skielik parkeer omdat hulle nie meer brandstof het nie of jaers wat om die baan moet stap.

Die ironie is, die voertuie het genoeg energie in hul batterye om die ren gemaklik te voltooi. Die beskikbare krag word deur die organiseerders met ’n blikbrein gemanipuleer – wat toe ’n foutjie met hul somme gemaak het.

  • Dis wat nou gebeur as jy te veel met kunsmatige reëls by ’n mededingende sport begin inmeng, sê Knormoer. Dit word ’n klug en ondersteuners en borge stap weg. Ja, Knormoer kyk vir jou, SA Sport.

Myne, joune, wie s’n?

Audi stuur uitasem ’n mediaverklaring uit Ingolstadt om te sê hoe fluks hy vorder met sy Dakar 2022- en Le Mans 2023-planne. Die vervaardiger wil aan albei met ’n e-voertuig deelneem.

Die Le Mans-storie is vir Knormoer ’n raaisel. Audi erken dis ’n samewerking met Porsche, wat reeds aan Le Mans met ’n hibried-motor deelgeneem het. Die ingenieurs drink ook saam koffie as hulle oor watts en what nots praat.

Maar Porsche gaan sy eie inskrywing hê vir die Le Mans-ren. Nou hoe nou? Wie kyk by wie af en wie leen by wie? Of gaan ons a la Toyota Starlet en Suzuki Baleno ’n eenderse motor met ’n anderste plakker op die neus hê?

  • Verskoon Knormoer maar as hy uit sinisme sy sinusse sommer skoonblaas.

As sport meer sports word

Van lawwe reëls in sport gepraat, die naweek se F1-ren het weer eens onderstreep hoe laf van die nuwighede in dié eens gerekende renreeks is.

Daar, vyf rondes voordat die geruite vlag waai, spring eers Bottas van die baan af om nuwe tekkies aan te trek vir ’n laaste, vinnige poging om die Portimao-baan. En toe doen Verstappen dieselfde. As jy die vinnigste ronde in die ren aanteken, kry jy ’n ekstra punt. Hartseerste is, dit het nie enigsins een van dié twee jaers se bestaande plekke in die ren beïnvloed nie. Die twee het steeds tweede (Verstappen) en derde (Bottas) klaargemaak. So ver was hulle voor die res.

Vir Knormoer vlieg die gees van sport en mededinging daarmee by die kuipe uit. Jy speel om te wen, enduit. Die haker gaan nie halfpad deur die tweede helfte gou kleedkamer toe vir ’n warm stort, draf vyf minute voor die eindfluitjie terug op die veld en skrum met ’n nuwe trui en skoon onderbroek nie.

  • Wie’t nou weer iets gesê van lawwe reëls wat oorneem in sport? O ja, daai slim ou, Knormoer, natuurlik.
Meer oor:  Formule Een  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.