Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Oe-la-la, alte oulik en très chic

Die gekuurde Citroën C3 in Parys. Let op dat die sogenaamde Airbumps – oftewel rubberstroke aan die motor se sye – nou drie groot knoppe bied, pleks van die vorige model se sewe kleintjies. Foto’s: Stuart Johnston
Stuart Johnston het twee nuwe Franse ontmoet: die hersiene Peugeot 3008 wat hy vroeër vir Beleef geresenseer het en die Shine-variant van die gekuurde Citroën C3-luikrug. Hier volg sy indrukke oor laasgenoemde.

Citroën se C3-luikrug het die wêreldmark oorspronklik in 2016 gehaal. Die middellewekuur was vir 2020 bestem, maar toe slaan Covid-19 toe, wat die plaaslike bekendstelling van die gekikkerde model tot net nou die dag aangeskuif het.

Intussen is Citroën Suid-Afrika op ’n veel sterker fondament geplaas nadat dit deel geword het van die nuwe Stellantis-groep, wat gevorm is deur die samesmelting tussen Frankryk se Groupe PSA (Peugeot, Citroën en DS) en die Italiaans-Amerikaanse FCA (Fiat Chrysler Automobiles).

Hersienings aan die C3 was eintlik reeds sedert Maart vanjaar op die minder kragtige en laer gespesifiseerde Feel-variant te sien met sy onaangejaagde 1.2-liter-driesilinder (60 kW) gekoppel aan ’n handratkas.

Nou het die gekuurde weergawe van die Shine 1.2 met sy turbo-weergawe van dieselfde driesilinder-enjin (81 kW), gekoppel aan ’n sesgang-outokas, ook hier opgedaag.

Meganies is die Shine onveranderd.

Wat onmiddellik opval, is die nuwe ontwerp van die sogenaamde Airbump-stroke op die motor se sye; nou met net drie pleks van sewe “knoppe” op die skermstrook. Een van die knoppe kry ook ’n wit raam, terwyl ’n klein, wit dwarsstrepie vir die een of ander stilistiese rede op die C-pilaar toegevoeg is.

Die Shine en die Feel spog ook nou met ’n blink metaalstrook wat die hoofligte met die motor se rooster verbind, terwyl die inhamme waarin die hoofligte rus, hervorm is.

Die Feel het nie misligte nie, maar die Shine s’n word voortaan in wit rame gehuisves. Groter 17”-allooie met ’n lae profiel is ook deur kleiner 16”-allooie met ’n hoër bandprofiel vervang.

Die belangrikste verandering in die gekuurde C3 se kajuit is die sogenaamde Comfort-sitplekke.
Kajuitveran
derings en toerusting

Die belangrikste binne-verandering is dat die kajuit nou met sogenaamde Comfort-sitplekke – met ’n veel dikker spons-buitelaag – toegerus word wat help om die C3 se ritgehalte te verbeter.

Op gladde hoofwegteer is die ritgehalte uitstekend, met goeie stuurgevoel en stabiliteit teen hoë snelhede. Vering oor spoedhobbels is ook goed.

Sitplekbekleding kom voortaan sonder die vorige model se helder kleuraksente, maar die interieur bly ’n aangename omgewing, hoewel sommige plastieke steeds van die harde, blink soort is.

Weens die afwesigheid van eenvoudige draaiknoppe is dit steeds ook effe lastig om funksies soos ventilasie en lugversorging via die prominent geposisioneerde 7”-infovermaakskerm te beheer.

Die C3 bied darem ses lugsakke en, ná die kuur, nege hulpfunksies vir die bestuurder, onder meer spoedgrensherkenning en kruisbeheer.

Verrigting en padgedrag

Hoe ry die C3? Redelik goed, dankie, maar dit hang van padoppervlak af.

Op gladde hoofwegteer is die ritgehalte uitstekend, met goeie stuurgevoel en stabiliteit teen hoë snelhede. Vering oor spoedhobbels is ook goed.

Maar op ou, hobbelrige stadstrate was daar wel ’n opmerklike deflekterende skudding deur die stuurwiel, wat beteken dat die bakwerk nog ’n bietjie wringweerstand kort, nes die agterkajuit nog bietjie beenspasie kort.

Met ’n volume van 300 liter, soos per aanspraak deur Citroën, is die laairuimte oorvloedig. Die 1.2-liter se verrigting beïndruk, veral in ag genome dat die enjin met ’n konvensionele outomatiese ratkas gepaar word. Die klein driesilindertjie toer vryelik en versnel vinnig, met lang tussenratio’s wat ratkaswerking glad en onopmerklik maak.

Die verrigtingsyfers is heel indrukwekkend: 0-100 km/h in 9,4 sekondes, die topspoed is 194 km/h en die gemiddelde verbruik glo sowat 6 liter/100 km.

  • Die C3 Shine is ’n prettige luikrug teen ’n redelike prys, wat ’n waarborg van 5 jaar/100 000 km insluit, asook ’n 3 jaar/60 000 km-versienplan. Pryse: Citroën C3 1.2 Feel (60 kW) – R270 000; C3 1.2T Shine (81 kW) – R325 000.
Meer oor:  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.