Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Ons eie ‘baba-RAV4’!

Nadat Toyota verlede jaar geskimp het dat hy gereedmaak om ’n nuwe voertuig by sy aanleg in Durban te bou, is die aap nou uit die mou gelaat met die bevestiging dat dit die nuwe Corolla Cross gaan wees.

Die Cross is ’n kompakte sportnuts wat tussen die RAV4 en die kleiner C-HR gaan inpas.

Toyota bou reeds die vorige model Corolla (wat hy plaaslik bemark as die Corolla Quest) by sy Prospecton-aanleg net buite Durban (die nuwe Corolla en Corolla Hatch word ingevoer).

Die aanleg is egter opgegradeer met ’n R2,4 miljard-belegging om plek te maak vir die sportnuts. Die nuweling benut anders as die Quest die Japanse vervaardiger se jongste TNGA-platform, vandaar die ekstra beleggingskostes.

Toyota het eindelik ’n raakskieter in die plaaslike mark met sy nuwe kompakte sportnuts, wat hy boonop in Durban gaan bou. Ons verwag dat die nuwe Cross baie gewild onder plaaslike kopers gaan wees.

Om presies te wees, ry die Cross op die TNGA-C-platform, wat Toyota ook vir sy jongste Corolla en die C-HR inspan. Hoewel die Cross dus dieselfde asafstand as die C-HR het, is sy lyf so 10 cm langer.

Dis ’n slim strategie, want waar die C-HR ’n sportiewe voorkoms het en op jonger kopers gemik is, het die Cross ’n meer hoekige, konserwatiewe voorkoms met meer praktiese ruimte binne. Dit is dus eerder op jong gesinne gemik.

Toyota bou die Cross vir die plaaslike mark, asook om na die res van Afrika uit te voer. Ons reken dit is ’n slim skuif van Toyota, aangesien die mark al lankal wegbeweeg het van sedans soos die Corolla na sportnutse.

Sy mededingers vaar goed in die segment waar die Hyundai Creta en Renault Duster onder meer meeding. Toyota het egter geen direkte mededinger hier gehad nie. Sy RAV4 is veel groter, terwyl die C-HR eintlik ’n Europese markvoertuig is, met sy kompakte en sportiewe voorkoms, die 1.2-liter-turbo-enjin en die duurder prys.

’n Sentrale raakskerm en ’n “skoon” instrumentpaneel is van die uitstaan-kenmerke van die nuwe Cross-sportnuts. ’n CVT-tipe outomatiese ratkas sal die krag na die voorwiele stuur.

Daarenteen sal die gesinsvriendelike Cross die middel van die kolf tref met sy groter ruimte en matiger stilering.

Ietwat teleurstellend egter is dat Toyota hom plaaslik net met ’n 1.8-liter- natuurlik geaspireerde enjin gaan toerus, saam met ’n hibriede model.

Ons vermoed die keuse vir die natuurlik geaspireerde enjin is om die rakprys so laag as moontlik te hou. Turbo-enjins is tegnologies gevorderd en kos meer.

Die Cross sal teen Oktober plaaslik beskikbaar wees, met meer tegniese inligting dan ook bekend.

Ons reken egter die gewone Corolla se binneruim-afwerkings sal grootliks ook na die Cross oorgedra word. Dit beteken daar’s ’n mooi, groot raakskerm vir jou nutsfunksies en analoog-inligting voor die bestuurder.

Meer oor:  Corolla Cross  |  Motors  |  Sportnuts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.