Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Ons liefde vir grandiose projekte

Knormoer sien die nuwe Kazungula-brug oor die Zambezirivier, tussen Botswana en Zambië, is vandeesweek oopgestel.

Links en regs het die media uitasem vertel wat die impak van dié netjiese stukkie ingenieurswerk is. Korter rye by Suid-Afrika se Beitbrug-grenspos met Zimbabwe. Zimbabwe wat op groot skaal belasting- en tolheffings kan misloop noudat vragmotors hom heeltemal kan systap en deur Botswana na Durban kan koers kies.

Die nuwe Kazungula-brug oor die Zambezirivier lyk na ’n netjiese stukkie werk. Maar kan die res van die streek se paaie kers vashou?

Knormoer het egter iets anders op die hart. Daardie tamaai brug is fantasties. Dit herinner nogal aan die nuwe brug by Maputo, wat die suidelike toegang na die stad van Suid-Afrika vergemaklik.

Het ons dit nie al tevore op die kontinent gesien nie? Een groot, yslike ingenieursprojek. Terwyl die res van die paaie vodde is.

En die spoorweë lankal tot stilstand geknars het. Infrastruktuur is ’n simpel ding. Jy moet stuk vir stuk in hom belê en soos ’n fyn web oral aan hom beplan en bou. Klein boublokke. Plus dan die allerbelangrike instandhouding. Ons op die vasteland hou van die grandiose projek. Die teatrale monument. Terwyl die ragfyn netwerk en beuselagtige verpligtings van instandhouding oor die hoof gesien word.

Mag die nuwe brug Botswana dien. Maar bowenal, mag die gewone infrastruktuur ook opgeknap en in stand gehou word.

Die lawwe plan

Volvo het sy eerste e-voertuig in die land bekend gestel. Maar met ’n pryskaartjie van R1,2 miljoen kan Knormoer nie sien hoedat al wat gesin is sy sportnuts-planne vir die XC40 Recharge verruil nie.

R1,2 miljoen. In watter wêreld leef hierdie mense? Onthou, jy kan ’n petrol-XC40 vir net onder R500 000 opraap.Hier’s nog ’n grap: Saam met jou miljoenrandse kooptransaksie gee die Swede jou ook ’n gehuurde motor vir twee weke, een keer per jaar. Dit nou sodat jy darem by die see kan gaan vakansie hou. En nie drie dae neem om Durban met jou batterymotor te haal nie.

Ouens, die bedoeling is fantasties. Maar met ’n miljoenrandse kaartjie gaan jy nie e-voertuie soos kerrie-en-rys by die kerk­basaar verkoop kry nie.

Intussen, by Porsche

Terwyl Volvo op rekord is dat hy oor nege jaar geen petrolvoertuie meer gaan bou nie, was dit ’n vars bries om die verklaring van Stuttgart gade te slaan.

Seg die ouens by Porsche, hul volgende Macan gaan as ’n battery-voertuig én ’n gewone petrolmodel te kry wees.

Dis bloot prakties, en pragmaties, sê Porsche. Die wêreldmarkte verander teen verskillende tempo’s op hul weg na e-mobiliteit. Europa is voor in die koor.

Maar ander lande gaan nog lank neem om gereed te wees. Bou dus iets vir almal.

Knormoer hoop nie Volvo het hom in ’n hoek geverf met sy aggressiewe groen planne nie.

Lang arm van die rand

Ons brandstofpryse kan binnekort herstel. As jy ’n oog op die wisselkoers hou, sou jy sien hoe die rand die afgelope tyd weer netjies verstewig het.

Sondag is daar in die koerant geskryf hoedat die SAKP en Cosatu destyds vir Thabo Mbeki help uitskop het omdat hy nie transformasie vinnig genoeg gehelp deurvoer het nie.

Dis ’n mistasting. Dit was die stadige deurfilter-effek van die destydse sterk ekonomie (onder Trevor Manuel) wat die vakbonde gefrustreer het. As jy geweet het hoe om in ’n markgerigte beleid te woeker, was jy suksesvol.

’n Groot deel van die samelewing kon nie, waarop die vakbonde en SAKP die sosialistiese beleid van Jacob Zuma gesteun het. Om só meer rykdom na die armstes te laat deurfilter. Sedertdien het die rand van R5,16 tot R14 getuimel. En is rakpryse die hoogte in.

Die ironie? Einste armstes word die swaarste getref.

Meer oor:  Paaie  |  Projekte  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.