Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Oopdak-Vier behou sy stil sjarme
BMW se opgeknapte oopdak-4-reeks bied nou ’n spoggerige buffer met ekstra chroom en LED-hoofligte. Die rit is soepel en gemaklik en die statusfaktor net so hoog soos jou ambisie. Foto: Marnus Hattingh

Hy’s dalk nie meer die moet-hê-wiele op enige huisagent se parkeerplek by die agentskap nie, maar ’n groot oopdak-ryding bly maar net ’n selfbederf-luukse wat enigeen heimlik begeer.

In 2013 het BMW die sportiewe modelle in sy 3-reeks gebrexit deur die koepee, die oopdak-cabriolet en die vierdeur-Gran Coupé onder ’n nuwe naam, die 4-reeks, te parkeer.

Gaaf, ons volg die denkrigting. Die sedans bly die 3-reeks, die ongewone modelle word die 4-reeks. Maar waarom dan die koddige bussiestasiewa, die 3-reeks GT, steeds ’n Drie noem?

Iedergeval, vroeër die jaar is al die Viere opgeknap. Die hoofligte bestaan nou uit LED-lampe, en nie meer Xenon-eenhede nie. Daar is ook LED-misligte onder in die hoeke van die sierrooster. Agter is die remligte voortaan ook LED-eenhede. Die buffers self (voor en agter) het ’n nuwe voorkoms met groter inlate vir ’n sportiewer voorkoms.

Binnelangs het BMW die sportiewe tema voortgesit met meer blinkswart panele by die sentrale armrus en instrumentpaneel. Daar is ook breë chroomomlynings by die skakelaars, met ’n mooi dowwe voorkoms wat die hele paneel heel gesofistikeerd laat vertoon.

’n Rits vervaardigers het so ’n weergawe gebied, en dit het goed verkoop. Vandag het die smaak verander. Maar die rygoed is steeds gerieflik, en deftig en statig in die duurder BMW se geval.

Nog ’n netjiese, subtiele tegniek wat BMW ingespan het om die sportiewe voorkoms ’n trap hoër te kry, is dubbele silwerkleurige stikwerk op die panele. Jy voel sommer lus en trek jou draftekkies aan.

Ons toetsmodel, die 420i Convertible, was boonop afgewerk in een van twee nuwe kleure wat eksklusief vir die 4-reeks gereserveer is: Snapper Orange, ’n donker oranje wat treffend vertoon in die namiddagson.

Al die modelle het in die opknappingsproses fermer vering gekry, behalwe die oopdak-weergawes. BMW sê die koepee en Gran Coupé is sportiewe rygoed, maar dat die eienaar van die oopdakmodel ’n sagte, rustige rit verkies.

Ons toetsmodel was met die opsionele digitale inligtingskerm voor die bestuurder toegerus. Die wysers lyk aanvanklik soos analoogmeters, maar verander hul voorkoms wanneer jy byvoorbeeld Sportmodus sou haak.

Die opsie bied ook ’n satnavstelsel wat nou met nuwe, groter ikone toegerus is om makliker beheer te kan word.

Meganies is niks aan die oopdak-Vier verander nie. In die 420i kry jy die tweeliter-turbopetrol met sy laagste kilowatt-lesing (135 kW), wat in die 430i (185 kW) uitpomp. Dit laat jou effe bekaf voel as jy weet waartoe jou enjin eintlik in staat is, maar danksy elektroniese manipulasie makgemaak is om bloot net ’n goedkoper prys te bied.

’n Agtgang- outomatiese ratkas stuur die krag na die agterwiele.

So ’n dekade gelede was hierdie kompakte sedans in hul oopdak-weergawes groot nuus. ’n Rits vervaardigers het so ’n weergawe gebied, en dit het goed verkoop. Vandag het die smaak verander. Maar die rygoed is steeds gerieflik, en deftig en statig in die duurder BMW se geval.

Hierdie klas oopdakrygoed is glad nie meer so bekostigbaar as wat hulle aanvanklik was nie, wat dalk verklaar waarom jy ál minder op die paaie sien.

Die dak is ’n drieledige metaaleenheid wat in ’n amperse halfminuut agter jou rug in die bagasieruim wegvou. Wanneer die dak toegevou is bo jou kop, lyk die motor heel netjies, baie soos ’n koepee. Hou egter in gedagte dat die dak heelwat ruimte in die bagasieruim opneem, en dat jy altyd ’n klap eers moet toetrek alvorens hy sal wegvou.

Vir geriefliker inklim, sou ek die opsionele sleutellose toegang gekies het, wat jou toelaat om net met die sleutel in jou broeksak rond te loop pleks om dit uit te grawe en knoppies te druk om die deure oop te kry.

Die oopdak-Beemer ry gerieflik in die dorp en met die vensters tot bo opgerol, voel dit ampers soos ’n kokon binne die kajuit. Jy kan teen 80 km/h nog ’n gemaklike gesprek voer, en teen 120 km/h sal net jou kuif nog in die wind wapper.

Die rit is altyd sag en gemaklik met ’n raps sponserigheid as jy energiek in ’n draai intuimel. My verbruik was billik met ’n syfer van 8,5 liter in gemengde gebruik.

Hierdie klas oopdakrygoed is glad nie meer so bekostigbaar as wat hulle aanvanklik was nie, wat dalk verklaar waarom jy ál minder op die paaie sien. Maar sou jy die los sente hê, sal hy jou soos ’n wafferse miljoenêr laat voel, met jou kuif in die wind.

  • Prys: BMW 420i Convertible – R738 024.
Meer oor:  Audi  |  Mercedes Benz  |  Bmw  |  Motors  |  Ontspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.