Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
‘Ou Dominee’ en ‘Miesies Goldman’ vir sorgvrye aftrede

’n Skaapboer van Molteno in die Oos-Kaap het sy skape verkoop en sy eertydse wolskuur vol ou Mercedes-Benze getrek. Meyburgh Erasmus het Charles Smith sy unieke pensioenfonds op wiele gewys. In die vier jaar het hy en sy vrou se belegging sowat 200% gegroei, of 20% per jaar. Dit klop alle ander beleggings by verre – en dis baie mooier.

’n Bielie van ’n Merc. Meyburgh en Riekie Erasmus by die kosbaarste Mercedes-Benz in hul versameling. Dit is ’n 190SL van 1975 wat uit Engeland ingevoer is. By hulle is hul hondjie, Gustav, wat ook gek is oor ou karre. “Daar is 80 stelle wiele waarteen hy WhatsApps kan stuur,” sê hy. Foto: Jan-Harm van Wyk

“Ou Dominee” is ’n swart 1966-Mercedes wat pronk in Meyburgh Erasmus se wolskuur, waar eens op ’n tyd dohne-merinoramme uitgestal is.

En die motor het ’n baie mooi storie.

“ ‘Ou Dominee’ is ’n spesiale motor,” sê Erasmus trots.

Dit is ’n Mercedes W111 230S. Een van 35 ou Mercedes-Benze en een Jaguar wat op die plaas, Liebe, vertroetel word.

Hy en sy vrou, Riekie, is saam in die motors. Hy woon toevallig ook sedert 1966 op die plaas.

“Dit is die Fintail waarvan ons praat. Ons het ou dominee Eric Viviers en sy vrou raakgeloop in George een jaar en met hulle aan die gesels geraak. Ons het vriende geword en ’n jaar later by hulle gaan kuier. Toe dominee Eric my sy karre gaan wys, staan hierdie Fintail daar onder ’n doek en toe hy die seiltjie agter oplig, sê ek: Oom Eric, ek wil die kar koop!”

Meyburgh en Riekie Erasmus van Molteno in een van hul 35 Mercedes-Benze op hul plaas. Foto: Jan-Harm van Wyk

Ds. Eric was die leraar van die NG kerk Aberdeen in die Karoo. Die Erasmus-egpaar het die swart Mercedes in 2015 aangeskaf.

“Dit is ’n baie besonderse kar. Hy was die enigste eienaar van die kar. Tannie Alida sê vir ons as die kar op sy 1 000 km-merk kom om gediens te moet word, dan stop die oom en hy trek sy stofjas aan. Dan haal hy sy kannetjie olie en filter uit die boot en diens die kar net daar langs die pad. Hy het hom nooit oor sy merk laat ry nie.

“Nou ja, so het ons die kar gekoop by dominee Eric. Hy is baie, baie spesiaal. Hy is totaal en al oorspronklik. ’n Jaar later het ons weer vir hulle gaan kuier. Toe moes ons hoor die oom is net die vorige dag begrawe. Ons gaan nog gereeld vir tannie Alida kuier. Die kar is vir ons baie spesiaal. Dis sekerlik een van die karre wat ons nooit sal verkoop nie.”

Erasmus sê elke dag wanneer hy op die plaas is, sit hy tussen die karre. “Ek ruik hulle en geniet hulle. Elke kar ruik besonders en het sy eie reuk. En daardie reuk kan ’n mens terugvat tot in jou kinderdae.”

“Ou Dominee”, die 1966-Mercedes-Benz W111 230S wat Meyburgh en Riekie Erasmus in 2015 by ds. Eric Viviers, eertydse leraar van die NG kerk Aberdeen, gekoop het. Foto: Jan-Harm van Wyk

Erasmus sê Riekie het die grootste aandeel in die motors. Sy het eiendom in Bloemfontein gehad waarmee sy gesukkel het met heffings en huurders. Hy het self sowat sewe jaar gelede die veteraan-voertuie begin versamel.

“As ek ’n goeie woltjek gekry het, het ek ’n kar gekoop. As die droogte my weer geslaan het, het ek ’n kar verkoop. Ek het aan en af karre bymekaargemaak. Riekie het so vier jaar gelede besluit die eiendom-ding werk nie vir haar nie, daar is geen groei op haar kapitaal nie.

“Ek het vir haar gesê kom ons verkoop dit. Ek sal vir jou karre koop met die kapitaal. Sy het haar vertroue in my geplaas.

“Met goeie wysheid en goeie beplanning het sy vir haar ’n ongelooflike versameling bymekaargemaak wat goed gegroei het. Sy het haar eiendomsbelegging by verre geklop. In vier jaar het ons omtrent ’n 200%-styging op die meeste van die karre gehad.”

Ou Dominee, die 1966-Mercedes W111 230S wat Meyburgh en Riekie Erasmus by ds. Eric Viviers, eertydse leraar van die NG kerk in Aberdeen, gekoop het. Hy is intussen oorlede. Hier is hy en sy vrou, Alida, by die motor. Foto: Verskaf

Erasmus sê ’n ou kan dit nie doen as jou vrou nie saam met jou daarin is nie. Anders gaan dit op ’n egskeiding uitloop.

“Karre koop neem ’n mens se tyd op. Jy moet dit saam doen. Ek is gelukkig om Riekie aan my sy te hê. En wat met volle passie saam met my in dit is en saam met my koop. Dit is ook baie makliker om karre te koop as ’n mens dit deel. Ons koop party karre om die helfte. So, dit is nogal ’n ingewikkelde saak. Maar Riekie is by verre die grootste belegger in die karre.”

Erasmus wys ’n foto van ’n 1972-Mercedes 350SL, die R107-reeks. Dit was een van die eerste SL-motors wat ná die Pogoda uitgekom het.

“Ons noem haar ‘Miesies Goldman’. Die eerste eienaar was mevrou Goldman, die eienaar van Woolworths. Haar man het die kar vir haar uit Duitsland bestel. Ons het die bestel- en die verskepingsdokumente en ’n volledige diensrekord. Dit is een van die karre wat die volledigste gedokumenteer is en die kar se toestand is absoluut uitstaande.”

’n Klomp spoggerige Mercedes-Benze in ’n ry op Meyburgh en Riekie Erasmus se plaas by Molteno. Foto: Jan-Harm van Wyk

Erasmus sê die rede dat hy sy skaapboerdery omgeskakel het na ’n belegging in veteraan-motors, is ’n sameloop van omstandighede. Hy en sy vrou het gesondheidsprobleme gehad. Hulle het volkome herstel, maar dit het hulle anders na die lewe laat kyk.

“Ons het besluit ons prioriteit is nie om aan te hou werk en te boer tot ons die dag omval nie. Ons wil meer uit die lewe hê.”

Hy was 25 jaar lank ’n dohne-merino-stoetteler. Sy seuns sou nie boer nie. Steyn Steenkamp en Gawie van Zyl het die stoetery by hom gekoop.

Hy sê hy het nog nooit geld in iets gestoot “waaraan hy nie kan vat nie”.

“Aan hierdie veteraan-motors kan jy vat. Hoe meer jy aan hulle vat, hoe mooier maak jy hulle. Hoe beter maak jy hulle en hoe meer verhoog jy hul waarde. Dit is ’n ongelooflike passie van my. Ek bestudeer karre vandat ek ’n seuntjie was. Ek ken hierdie karre. Ek weet hoe om te koop, wat om te koop en wat om te betaal.”

Eiendom het nie vir hulle gewerk nie. Hy stel ook nie belang in ’n huis by die see nie.

Van Meyburgh en Riekie Erasmus se baie besonderse Mercedes-Benz-koepees. Van links is die 300SE, die 280SE 3.5 en die 220SE. Foto: Jan-Harm van Wyk

Sy ondervinding met beleggings is dat jy jou geld op een of ander tyd verloor. Nou kan hy self na sy belegging kyk, dit versorg en beter maak.

“Ek kan daaraan vat. Dis lekker om ’n belegging te hê waaraan jy kan vat. ’n Ander voordeel van my belegging is jy kan dit verreken in dollarwaarde, jy kan dit in ’n vraghouer sit en oorsee stuur en orals in die wêreld verkoop.”

Die motors verskaf hulle baie plesier. “As ek en Riekie in ons karre is, voel dit of ons naby aan die hemel is. Ons stoor is reg langs ons huis. Ons speel amper elke dag karre. Almal moet gery word. Almal se batterye moet gelaai wees. Almal moet onderhou word, maar dit is baie lekker werk.”

Die Erasmus-egpaar se oudste motor, die 1956-Adenhauer. Riekie het hom een nag om 23:30 op Facebook gekoop en die volgende oggend besef sy het nie geld om hom te betaal nie, sê Meyburgh. Hy het haar die geld voorgeskiet om die transaksie te beklink. Foto: Jan-Harm van Wyk

Hy het ’n passie vir alle karre: Alfas, Jaguars, Land Rovers, MG’s. Hy het van almal gehad, maar hulle het op Mercedes-Benze besluit.

“Dit is die beste kar in die wêreld. Dit is die beste kar om te versamel. Hulle is oral in die wêreld gewild. Onderdele is beskikbaar. Ek is van kleintyd af mal oor Mercedes toe net rykes dit kon ry. Daardie eertydse rykdom het ek nou verwesentlik deur die eertydse rykmanskarre te kan ry.”

Hul 35 Mercedes-Benze is heeltemal te veel. Hulle mik na 18.

Klassieke motors bly egter ’n langtermynbelegging. ’n Mens moenie daarin belê om vinnig geld te maak nie, sê hy.

“Dit is ons pensioen. Ons boere het geen ander pensioen nie. Soos ons ouer word en geld nodig het, sal ons van hulle verkoop. En die geld gebruik om op ons oudag van te lewe.”

’n Wolskuur vol Mercedes-Benze. 11x R107s onder een dak en daardie drie koepees sal jy moeilik in nog ’n versameling in Suid-Afrika kry, sê Meyburgh Erasmus Die afslaankap-Mercedes-Benz op die foto is ’n R107. Foto: Jan-Harm van Wyk

Meer oor:  Veteraanmotors  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.