Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs: Die dolosse klap in Rwanda

Verlede maand, tydens my verblyf in Amsterdam, praat ek met ’n Hollander wie se man ’n safari-toergids in Rwanda is. “Rwanda is fantasties,” het sy opgemerk. “Dit groei en ontwikkel. Hulle doen dinge waarby die res van die kontinent kan leer.”

Volkswagen het met sy eie app-gebaseerde rygeleentheiddiens in Rwanda begin. Gaan dit werk? Die Duitsers sê gee dit net kans.

Die opmerkings het maar by die een oor in en die ander uitgegaan. Blinkoog Europeërs, het ek gedink. Altyd met ’n vergrootglas op soek na ’n grashalm van positiwiteit.

Verlede week dra die groot nuusdiens Reuters ’n berig waarin Thomas Schaeffer, hoof van Volkswagen Suid-Afrika, se $50 miljoen-gooi van die dolosse in Kigali belig word. Schaeffer het ek pas twee weke gelede in Frankfurt raakgeloop, waar hy by Volkswagen se massiewe uitstalruimte by die motorskou met die res van die VW-hoofdireksie rondgehang het. Dalk om die vordering van sy groot projek in Rwanda te bespreek.

Met die lees van die Reuters-artikel het die Hollander se gloeiende woorde oor Rwanda egter weer in die gedagtes opgekom. Almal stem saam. Rwanda is klaarblyklik ’n juweel in die hart van Afrika.

Dis uiteraard goeie nuus. Schaeffer se waagstuk behels ’n nuwe, app-gebaseerde taxidiens op die lees van Uber met ’n rits Polo’s en Passats as die bron van vervoer. Bestaande dienste soos Uber en Lyft word nog glad nie in die stad aangetref nie, wat dit een van die redes maak waarom Schaeffer op Kigali vir sy toetsprojek besluit het.

Entrepreneurs koop die Polo’s en Passats by Volkswagen, en bied dan rygeleenthede vir die stad se sowat 800 000 inwoners. Soek jy ’n rygeleentheid, roep jy net ’n Polo nader deur op die app daarna te vra. Alle tariewe word ook deur die app afgehandel.

Die sakeplan is bekend. Maar selfs met Rwanda se groeiende gemaklikheid met nuwe tegnologie (alle openbare vervoer word slegs met ’n kredietkaart-tipe kaart betaal), sukkel VW om gebruikers vir sy app-diens te kry.

Van die 800 000 inwoners het 23 000 die app afgelaai en geregistreer. Maar net 2 000 benut dit gereeld, teen ’n tempo van 300 ritte per dag in Kigali.

Schaeffer het baie ontspanne by Frankfurt gelyk. Nie soos iemand wie se direksie hul $50 miljoen waagkapitaal met bofbalkolwe terugsoek nie. Self het hy aan Reuters gesê hy werk met ’n tweejaarplan. Die diens het maar in Januarie afgeskop.

Dit mag so wees. Dié hedendaagse Rumble in the Jungle waarmee VW nou in Rwanda besig is, belig egter ’n groter, dieper dilemma vir die wêreld se motorvervaardigers: Hoe gemaak om steeds wins te maak oor ’n dekade of twee?

Dis ’n eksistensiële krisis waarvoor die vervaardigers staan. As jy gedink het Afrikaans veg uit die loopgrawe, is die tradisionele motorgroepe in ’n Kodak-hoek geverf. Om aan te hou doen wat jy vir die afgelope 100 jaar doen, gaan binnekort nie meer werk nie.

Die tekens is oral te sien. Sedert 2010 toe VW sy Amarok-bakkie aan die Derdewêreldmarkte bekend gestel het, het ’n string gevestigde vervaardigers dié roete gevolg. Fiat het ’n bakkie (die Fullback). Mercedes ook (die X-klas), maar hy is al weer op pad uit. BMW en Peugeot maak gereeld geluide oor een.

Die punt is, vervaardigers het iets nuuts nodig om aan te hou voertuie verkoop. Natuurlik is e-voertuie die gonswoord, maar niemand weet hoe lank dit gaan duur om winsgewend te raak nie.

Aan die kern is die Eerste Wêreld se groeiende afkeur aan en dalende afhanklikheid van die private voertuig, soos ons dit geken het. Mense het nie meer ’n eie motor nodig nie. Beslis nie twee per huishouding nie. Hulle wil met ’n app op die slimfoon ’n rygeleentheid roep.

Dis hoekom Schaeffer probeer dat maatskappye in Rwanda ’n klein vloot Polo’s koop, wat hul werkers dan kan roep vir pendelritte kantoor toe.

Dis een manier vir ’n vervaardiger om relevant te bly. Maar gaan dit werk?

Intussen is Kigali ’n broeikas-safari vir die wêreld se motortoekoms. Wie sou kon dink?

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.